Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hierby staan en val die kerk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Rassie van Niekerk (emeritus, Pretoria) skryf:

‘n Klein voëltjie wat nog nie kon vlieg nie, het uit die nes geval. Angstig het hy daar gesit en luidkeels na sy ouers geroep. In plaas van sy ouers, het die kat ongelukkig opgedaag en die voëltjie verslind.

By die koffietafel het die groepie gesit wat die tragedie aanskou het. Hulle het die tragedie sit en bespreek. “Was dit nodig dat die voëltjie so hard geroep het? Dit het die kat tot die aanval laat oorgaan,” sê die een. “Hy moes hom in die gras versteek het,” sê ‘n ander. ‘n Ouer, wyse persoon het gesê: “Daar onder is elke jong voëltjie verlore. Daar moet ‘n manier gevind word om jong voëltjies in die nes terug te plaas. Slegs dan is so ‘n outjie gered.”

Ook ons mense het uit die nes geval. Ons het God verloor en daarmee die ware lewe. Elkeen van ons is vir die dood opgeskryf. Ons kan ons bes probeer maar uiteindelik is ons weerloos teen “Die Kat”. Alles wat ons in hierdie wêreld doen, stel ons bloot aan die “Die Kat”. Alles wat ons probeer om onsself te red, is tevergeefs. Daar moet ‘n moontlikheid wees om in die nes terug gebring te word. Ons het ‘n sterk hand nodig, van Bo af om ons terug in God se nabyheid te bring.

Die Nuwe Testament is vervul van die vreugde: In Jesus is die reddende hand van God vir alle mense daar! As dit die geval is vir elke mens, is dit die keuse om te doen en dit is om tot Jesus te roep. Jy moet op jou knieë gaan en met jou hele hart roep: “Red ook vir my, bring my tot God terug!”

Dit is ewigheidsbelangrik dat elke mens hierdie boodskap moet hoor. Dit is ‘n alles-of-niks-besluit. Jy is óf veilig by God, óf jy is “Kat-prooi” en ewig verlore.  

Ek sien voor my ‘n eensame, innerlike vertwyfelde mens, die monnik Martin Luther. Hy skryf van homself: Ek was ‘n gevangene van die duiwel – in sonde was ek verlore …” Hoe het Luther gesond geword? Wat bring ‘n mens na God terug? Antwoord: Die evangelie van die reddende genade van God!” En dit ontvang ek alleen deur die geloof! Daar, terug by my Vader voel ek my veilig en nuut gebore. Paulus skryf: “Ek skaam my nie vir die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God vir elkeen wat glo” (Rom 1:16).

Die Hervormers het gesê: Die redding van die sondaar is die “articulus stantis et cadentis/ecclesiae”, die artikel waarmee die kerk staan en val”. Dit is die Bybelse of reformatoriese antwoord op die vrae van ons tyd.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top