Daar is nie ʼn bloudruk vir die huwelik in die Ou Testament, die Nuwe Testament of in die kerkgeskiedenis nie. Die huwelik is ʼn sosiale konstruk wat deur Christene met Christelike waardes gevul moet word. Dié gedagte was die goue draad deur verskillende aanbiedings op die NG gemeente Raslouw se konferensie oor die huwelik. NEELS JACKSON berig.
Die konferensie is gehou na aanleiding van die Algemene Sinode se besluit “dat die huwelik deur God ingestel is as ʼn heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ʼn vaste, formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie”.

Dr Fanie Cronjé van die NG gemeente Riviera-Jakaranda het gesê daar is nie in die Ou Testament ʼn Hebreeuse woord vir “huwelik” nie. Daar word werkwoorde gebruik om oor die sluiting van ʼn huwelik te praat.
Dit was, anders as vandag, nie ʼn ooreenkoms tussen twee verliefdes nie, maar ʼn ooreenkoms tussen twee families. Sulke ooreenkomste is ter wille van voortbestaan of ekonomiese voordeel van die groep gesluit, nie vanweë die gevoelens van die individue nie.
Die waardes wat in die destydse samelewing gegeld het, was eer en skaamte, rein en onrein, beperkte goedere en jaloesie en die “evil eye”.
So het mans eer gehad en vroue skaamte. Dit was albei positiewe waardes wat beskerm moes word. ʼn Vrou se skaamte het vereis dat sy voor die huwelik ʼn maagd moes bly en na die huwelik getrou aan haar man.
Dit is nie van mans verwag nie. Soms is dit juis verwag dat ʼn man kinders by ander vroue of byvroue moes verwek.

Die aard van die huwelik het ook verander. As dit goed gegaan het, is daar byvoorbeeld huwelike gesluit buite die eie kring. Wanneer mense bedreig gevoel het, soos na die terugkeer uit ballingskap, is huwelike beperk tot die eie groep. Daarom dat mans in Esra en Nehemia se tyd vroue van vreemde afkoms moes wegstuur.
Dr James Kirkpatrick van die gemeente Stellastraat het gesê ook die Nuwe Testament het nie modelle vir die huwelik nie.
Hy het gewys op die groot kulturele kloof tussen die hede en destydse. In die Nuwe Testamentiese tyd was die huwelik gemik op ekonomiese en politieke voordele. Dogters was ʼn onderhandelingsartikel, seks was vir voortplanting en die opset was patriargaal.
Dr Johan van den Heever van die gemeente Eldoraigne het gesê oor egbreuk en egskeiding is daar ook destyds baie anders gedink.
As ʼn vrou met ʼn ander man as haar eie seks gehad het, het sy egbreuk teen hom gepleeg. As ʼn man met ʼn ander vrou as sy eie seks gehad het, is dit egter nie as egbreuk teen sy vrou gesien nie. ʼn Man kon slegs egbreuk teen ʼn ander man, en dit deur met die ander man se vrou seks te hê.
ʼn Vrou kon nie egskeiding inisieer nie. As ʼn man van sy vrou geskei het, was die stigma altyd teen haar.
Dit is teen dié agtergrond dat Jesus se gesprekke met die godsdienstige leiers oor egskeiding verstaan moet word.

Kirkpatrick sê Jesus neem standpunt in teenoor die destydse gebruike wat vroue weerloos gelaat het. Hy beskerm die gemarginaliseerdes. Jesus, die evangelies en Paulus ondermyn die patriargie van die eerste-eeuse vorm van die huwelik.
Kirkpatrick het gesê die kerk behoort patriargie af te breek. Die huwelik is ʼn sosiale konstruk wat vanuit die Jesusverhaal met Christelike waardes gevul moet word.
Prof Johan van der Merwe, kerkhistorikus van Tukkies, het gesê daar was enorme veranderinge in die manier van huweliksluiting deur die kerkgeskiedenis. Daar was nie ʼn vaste model nie.
Hy het vertel hoe die huwelik soms ʼn ooreenkoms was tussen twee persone, en soms tussen twee groepe. Soms was daar nie eens ʼn seremonie nie. Die rolle wat die owerheid en die kerk gespeel het, het baie gewissel.

Prof Daniël Louw, afgetrede praktiese teoloog van Stellenbosch, het gesê dat daar in die Bybel ook nie ʼn modelgesin is nie.
Hy het gesê die kerk moenie van ʼn bloudruk praat nie, maar van ʼn teologiese raamwerk waarbinne die huwelik en gesinne verstaan kan word. Hy het gepleit dat die kerk uitbreek uit ʼn koue dogmatisme en ʼn teologie van omgee beoefen. Die vraag is nie hoe ʼn gesin lyk nie, maar of dit ʼn ervaring gee dat die gesinslede behoort.
Hy het waardes vir gesinne voorgestel soos behoort, samesyn, toewyding, menswaardigheid, morele bewussyn, ʼn lewensbeskoulike raamwerk en transendensie.
Ds Lizl-Louise Schoeman van Monumentpark het gesê soos met die huwelik gebeur het, het beskouings oor seksualiteit ook verander. Dit is ook ʼn sosiale konstruk.
Vandag is die huwelik nie meer die enigste plek waar seksualiteit uitgeleef word nie.

Sy het daarop gewys dat die Bybel nie oor adolessensie iets sê nie. Destyds is veral vroue baie jonk getroud. Maria was waarskynlik sowat 14 jaar oud toe Jesus gebore is. Vandag is jongmense ongetroud vir die hele duur van hulle adolessente jare.
Daarom kan die kerk nie meer op ou maniere oor seksualiteit dink nie. Daar moet gedink word oor vrae soos of die huwelik die enigste plek is waar daar verantwoordelik met seksualiteit omgegaan kan word.
Schoeman het vier waardes genoem wat as raamwerk vir verhoudings kan geld. Dit is wederkerigheid, duursaamheid, vryheid en veiligheid.
Louw het gesê die kerk moenie vir jongmense sê dat hulle nie seks voor die huwelik mag hê nie, maar ook nie dat hulle maar moet laat waai nie. Die kerk moet ʼn raamwerk van waardes gee en daarmee saam ook die gevaarsones uitwys.
