Vyf skole help spesiale kinders
Sewentig jaar gelede het die drie Afrikaanse susterskerke in die noorde van Suid-Afrika hande gevat oor onderwys aan gestremde kinders.
By Worcester in die Wes-Kaap was daar reeds skole vir blindes en dowes, maar noord van die Oranjerivier was daar niks van dié aard nie. Dis toe dat die NG Kerk, die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke op 13 Maart 1947 die Transoranje-Instituut vir Buitengewone Onderwys (Toibo) gestig het.
Die eerste skool wat Toibo op die been gebring het, is die Transoranje-skool vir Dowes in 1954. Daarna het die Prinshof-Skool vir Gesiggestremdes gevolg, asook die Sonitusskool vir Gehoorgestremdes en die Transvaliaskool vir Epilepsie en Leergestremdheid. Dié skole is almal in Pretoria.
In Bloemfontein is die Hoërskool Martie du Plessis vir Serebraalgestremdes onafhanklik van Toibo op die been gebring, maar dit het later by Toibo aangesluit.
Vanjaar word Toibo 70 jaar oud. Deur die instituut is die drie kerke steeds betrokke by al vyf hierdie skole. Dr Pieter Heystek, voorsitter van Toibo, sê die kerke werk hier skouer aan skouer met Christus as fokus. Verskille is nie hier ter sake nie.
Arina Jooste, uitvoerende amptenaar van Toibo, vertel dat daar steeds verteenwoordigers van die kerke op die skole se beheerliggame dien. Hulle probeer die personeel se hande sterk maak.
Verder samel Toibo geld in vir die skole. In die vorige boekjaar het Toibo R1,1 miljoen aan die skole oorbetaal.
Arina besoek ook gemeentes om hulle van Toibo se werk te vertel – soms met ’n gebaretaalkoor van Transoranjeskool en ’n leerder van Prinshof wat ’n voorlesing uit ’n braille-Bybel doen.
Hoe kan gemeentes die skole help? Finansiële bydraes is altyd nodig, sê Arina. Maar gemeentes gee ook dinge soos klere, skryfbehoeftes en toiletware.
Wat Toibo nou van gemeentes vra, is om op Sondag 12 Maart in hulle eredienste sewentig jaar van omgee te vier, en om by dié geleentheid ’n spesiale kollekte vir die skole te hou.
Vir meer besonderhede oor Toibo en hulle werk, kan Arina Jooste by toibo@imaginenet.co.za gekontak word.
Prinshof laat hul kinders ’n toekoms sien
Toe Jesus in Lukas 18 vir die blinde man vra wat Hy vir hom kan doen, was die antwoord: “Here, dat ek kan sien.”
Op ’n manier is dit wat by Prinshofskool met sy 429 leerders gebeur. Swaksiendes en blindes word gehelp om te kan “sien”. Nie letterlik nie, maar op ander maniere.
Die skool moet hulle help om selfstandig te word, sê mev Karen Swart, die skoolhoof.

’n Mens sien iets daarvan as die sestienjarige Rohan Crafford na ’n rak toe stap, ’n brailleboek uithaal en oopmaak, en die Engelse digter Thomas Gray se lang Elegy written in a country churchyard begin voorlees. Soos musiek, is poësie ’n groot belangstelling by hom. Hy dig self. Maar eendag wil hy ’n plantkundige word. Hy sien vir hom ’n toekoms in die akademie.
Ook die vyftienjarige Mongezi Mbatha is vol vertroue oor die toekoms. Prinshof berei hom goed voor. Die klein klassies en individuele aandag help verskriklik baie as dit kom by vakke soos fisika, sê hy. Hy sien ’n toekoms in die rekenaarwêreld.
Khensani Mokhari (18) was in die Oprah Winfrey-skool toe sy ’n breingewas gekry het wat haar sig aangetas het. “Ek het gedink dis die einde van my,” vertel sy. Drie jaar gelede het sy egter Prinshof toe gekom en nou sien sy weer kans vir die lewe. Meer nog, sy wil Tukkies toe om politieke wetenskap te gaan studeer.
Helena van Staden (19) vertel dat sy in 2013 agtergekom het haar sig verswak. Sy het swaar gekry in ’n gewone skool. By Prinshof is dit vir haar baie makliker. “Die onderwysers is vasbeslote om te help,” vertel sy. “Hulle weet as jy ’n afdag het. Dit voel soos familie.”

Sy is baie bang om blind te word, sê Helena. Sy is bang mense los haar. Maar sy weet sy sal die lewe kan hanteer. Haar kop staan hotelskool toe. Sy wil ’n sjef word.
Swart sê hulle kinders het min of meer vyf keer soveel aandag nodig as ’n kind in ’n gewone skool om te kan vorder. Om met die kinders te werk, is egter baie bevredigend.
Van graad een tot graad twaalf stap hulle met die kinders ’n pad. Die akademie is belangrik en die kinders moet weet dat hulle gestremdheid nie in hulle pad staan om hulle drome uit te leef nie. Hulle moet eendag hulle plek in die samelewing kan volstaan.
Daar is ook leergeremde kinders wat nie die hoofstroomsillabus kan volg nie. Hulle word tot graad nege begelei, sê Swart.
By dit alles lê hulle baie klem op waardes soos respek, eerlikheid en verantwoordelikheid.
Vir Prinshof is Toibo ’n waardevolle vennoot. Arina Jooste, uitvoerende beampte van Toibo, doen baie om leerlinge bloot te stel aan gemeentes. Ds Corné Randall van die NG gemeente Overkruin, wat op die beheerliggaam dien, help met die geestelike versorging.
Ja, antwoord Swart op ’n vraag, daar is maniere hoe gemeentes nog kan help. Soms het hulle net hande nodig om sê maar die swaaie reg te maak of die speelpark te verf. Hulle het mense nodig wat kan tik, want die handboeke moet aangepas word vir die kinders. Hulle het hulp van ’n maatskaplike werker en arbeidsterapeut nodig.
Jooste sê daar is altyd meer geld nodig. Elke blinde kind het byvoorbeeld eintlik ’n braille-tikmasjien tuis nodig. Toibo het kort tevore vir ’n gr1-kind een gekoop, maar daar is nog dertien nodig en dit kos R14 000 elk.
Maar dis wat nodig is om die wêreld vir van Prinshof se kinders oop te maak, om wêrelde van poësie en akademie te ontsluit, om vir hulle ’n toekoms te laat sien.
– Kontak die skool by prinshof@mweb.co.za
Sonitas is Sandra se familie
Sandra Koster is ’n jong vrou met selfvertroue. In 2016 het sy matriek geslaag en die toekoms lê oop voor haar.
Sy het nie net geslaag nie. Sy het goed geslaag. In Gauteng het sy tweede gestaan van alle leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes.

Dít danksy Sonitusskool vir gehoorgestremdes, dié skool en koshuis wat haar tuiste was vandat sy ses was, die mense wat, sê sy, soos familie geraak het. Die juffrouens wat baie aandag gegee het aan haar en haar sewe klasmaats.
As sy in die toekoms vasbrand met iets, nooi dr Pieter Heystek, voorsitter van Toibo, is die skool se beheerliggaam steeds daar om te help.
Sonitus, sê mnr Johan Stapelberg, die hoof, doen besondere moeite om ’n gesonde emosionele klimaat vir die leerlinge te skep.
Nie sigbaar
Hulle kinders se gestremdheid is nie sigbaar nie, maar Sonitus berei hulle voor om hulle plek in die samelewing vol te staan. Sowat 60% van die kinders doen die gewone akademiese sillabus, en enkeles (soos Sandra wat in kriminologie belang stel) gaan universiteit toe.
Die ander 40% leerlinge kry vaardigheidsopleiding in velde wat wissel van metaalwerk tot haarkappery, van tuinbou tot naaldwerk.
Hulle skoolfonds skiet ver tekort, sowat twee derdes van leerlinge is behoeftig en gemeentes kan help. Die NG gemeente Pretoria-Garsfontein neem byvoorbeeld een deurkollekte per jaar vir die skool op.
– Kontak die skool by sonitus@webmail.co.za
Bakwerk pas by Dowes se vaardighede
Hellen Keller, die merkwaardige vrou wat ondanks die feit dat sy blind en doof was haar stempel in die wêreld kon afdruk, het gesê haar doofheid is vir haar erger as haar blindheid. Om blind te wees sluit jou af van dinge, maar om doof te wees, sluit jou af van mense.
So vertel dr Wynand de Wet, hoof van die Transoranje-skool vir Dowes, om iets te probeer duidelik maak van die uitdagende taak wat hulle daagliks aanpak. Hulle leerlinge is dié wat so doof is dat hulle nie gewone spraak kan volg nie.

Hulle kry baie kinders eers op driejarige ouderdom, maar teen daardie tyd het hulle reeds ’n taalagterstand. Vroeër het die skool die kinders geleer om te kyk na mense se lippe en hulle gesig om te verstaan wat hulle sê.
Later het hulle oorgeskakel na gebaretaal as die Dowes se eerste taal, sodat die kinders vinniger kon leer. Gebaretaal is egter nie ’n geskrewe taal nie, en daarom leer die kinders geskrewe Engels as tweede taal aan.
Dit alles bring mee dat dowe kinders meer as ander gestremdes sukkel om byvoorbeeld op universiteitsvlak te kom.
Maar Transoranje pak hierdie uitdagings aan en hulle behaal sukses. De Wet en me Alta Koekemoer, lid van die skool se bestuurspan, vertel van oudleerlinge wat hulle plek in die samelewing volstaan. Een is ’n paneelklopper, ’n ander is ’n dominee en nog een ’n mode-ontwerper. Daar is daar oudleerlinge wat as onderwysassistente werk.
Die skool help dié kinders met die potensiaal daarvoor om ’n akademiese matriek met vyf vakke te behaal. Vir ander is daar na graad ses vaardigheidsopleiding in rigtings soos sweis- en metaalwerk, stoffeerwerk, naaldwerk en houtwerk.
’n Nuwe ontwikkeling is die skool se bakkery waarop hulle baie trots is. Dit het ontwikkel uit die gebruik dat die kinders elke jaar vir twee weke by besighede geplaas word om daar praktiese ervaring op te doen en blootstelling te kry.
’n Supermark waar van die kinders verlede jaar geplaas is, het hulle in die bakkery laat werk en laat weet dat dit baie goed gewerk het. Dis ’n omgewing waar daar nie so baie direkte kommunikasie nodig is nie en waar ’n dowe bakker op sy eie kan voortgaan om sy werk te doen. Bakwerk pas Dowes se vaardigheidsmondering.
Nou word leerlinge soos Cobus Rademeyer opgelei as bakkers. Einde vanjaar sal hy ’n sertifikaat kan kry waarmee hy die beroepsmark kan betree.
Intussen voorsien dié bakkery reeds die brood vir die skool se koshuise.

Baie van Transoranje se kinders kom uit behoeftige agtergronde. Daarom is finansies altyd ’n kwessie. Gemeentes wat betrokke wil raak, kan byvoorbeeld een kind se koshuisgeld van R1 100 tot R1 200 per maand borg.
Daar is egter ook ’n verskeidenheid ander maniere waarop hulle kan help. Kerksondermure, ’n NG gemeente in Centurion, verskaf byvoorbeeld weekliks ’n kerrie-en-rys-ete vir al die koshuiskinders.
“Dit sal wêrelde verskil maak as ons ’n laptop en dataprojektor in elke klas kan hê,” sê De Wet.
En mannekrag is op verskeie fronte nodig, byvoorbeeld om handboeke na eenvoudiger taal toe te verwerk, amper soos met die Bybel vir Dowes gedoen is.
’n Skool vir Dowes, soos Transoranje, se uitdagings is groot. Hulle het hulp broodnodig, maar die reuk van ’n groepie leerlinge se varsgebak wat uit die oond uit kom, is ’n heerlike herinnering dat dié uitdagings oorkom kan word.
– Kontak die skool by transoranje3@gmail.com