Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elise Bosch, Cordis Trust-pryswenner vir haar werk van sowat 27 jaar in die swaarkry-gemeenskap van Hillbrow. Foto: LiG

BM-boeke raap Cordis Trust-pryse op

Bybel-Media-boeke wen vanjaar die eerste keer, sedert die ontstaan van die Cordis Trust-pryse, albei pryse vir Christelike boeke.

Ontvang wat vir jou gegee is, ʼn boek wat die unieke gawe van die doop prakties te verduidelik, word vanjaar met die Bybel-Media-Cordis-Trust-prys vir oorspronklike, Afrikaanse Christelike gesinspublikasies bekroon. Die skrywers van die boek is dr Andries Cilliers, predikant in die NG gemeente Sonstraal in Durbanville, en dr Coenie Burger, wat by Communitas en die ekumeniese sentrum van die US betrokke is.

Die prys vir oorspronklike, Afrikaanse Christelike jeug- of kinderpublikasies is aan Kleuterpret toegeken. Dié boek bevat 24 Bybellesse vir voorskoolse kinders wat geskoei is op die temas van die Akkerpret-DVD’s, en kan hiermee saam óf onafhanklik gebruik word. Kleuterpret is geskik as hulpmiddel vir kleuterkerk, kleuterskole en nasorgsentrums en is deur Liana Lourens, ʼn jeugwerker wat al jare met sang- en kinderbediening werksaam is, geskryf.

Vir elke prys was daar drie onafhanklike beoordelaars wat inskrywings beoordeel het.

Die Bybel-Media-Cordis-Trust-pryse vir bydrae tot spesiale projek(te) met ’n Bybel-Media verbintenis maak vanjaar ook ʼn draai in Hillbrow. Elise Bosch word bekroon vir haar werk, sedert 1990, in dié swaarkry-gemeenskap. Sy sê dit is haar roeping om hoop, deur God se Woord én kos en klere, hier te versprei. Elise skryf maandeliks ʼn rubriek in LiG-tydskrif oor haar pad in Hillbrow en hoe LiG-lesers deur middel van skenkings en tyd ook ʼn verskil daar bring.

Die ander pryswenner vir spesiale projekte is ds Koos Kriel, ʼn VGK-predikant in Nelspruit en medewerker van die Nehemia Bybelinstituut. Hy word bekroon vir sy groot bydrae tot die ontwikkeling en vertaling van studiemateriaal in onder andere Zoeloe en Portugees sowel as sy rol as dryfveer agter studiegroepe so wyd as Mpumalanga en Swaziland. En dít alles doen hy al jare teen geen betaling, vertel dr Hennie van Deventer, hoof van missionêre bedienings by Bybel-Media.

Dié pryswenners ontvang elkeen ʼn oorkonde en kontantprys tydens ʼn geleentheid later vanjaar.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top