Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds De la Harpe le Roux van Torings van Hoop maak ʼn askruisie op die voorkop van me Maria Mosoeu, een van die behoeftige bejaardes wat Torings van Hoop se Taizé-diens oor middagete bygewoon het.

Askruisies op die voorkop

Aswoensdag is op 1 Maart wyd in die NG Kerk gevier.

Van die lede van die Algemene Sinodale Moderamen by hul vergadering in Kempton Park, tot by die armes van Bloemfontein wat deur Torings van Hoop bedien word, het askruisies op hul voorkoppe gekry om Lydenstyd mee in te lui.

Dr Frederick Marais, assessor van die Wes-Kaapse Sinode, het by die ASM se dagopening gesê Lydenstyd is die seisoen waarin die kerk individueel en kollektief selfondersoek doen. Dan dink gelowiges na oor hulle sonde en hulle tekortkominge in hulle navolging van Christus.

Ds Rethie van Niekerk van die Oos-Kaap maak ʼn askruis op die voorkop van ds Smuts Janse van Rensburg, ʼn Wes-Kaapse verteenwoordiger op die Algemene Sinodale Moderamen.

Daarom is geloofsgewoontes soos vas, afsondering, selfondersoek en skudbelydenis gewoontes wat in hierdie seisoen beoefen word. Hy het die askruis op die voorkop bestempel as ʼn teken van ʼn verbintenis tot belydenis en verootmoediging.

By Torings van Hoop, Bloemfontein se middestadbediening, is daar drie verskillende dienste in verskillende style vir verskillende groepe mense gehou. Dit het gewissel van ʼn meer charismatiese diens vir ‘n ekumeniese groep kerkleiers tot by ʼn Taizé-diens oor middagete en ʼn byeenkoms vir straatmense wat met die sopkombuis saamgaan.

Hulle hou nagmaal by die dienste en by die diens vir straatmense is die boodskap uit Psalm 51 die gebed: “Gee vir my ʼn rein hart sodat ek krag kan hê.”

Baie gemeentes wat dienste op Aswoensdag hou, het dit vir die aand gereël sodat mense dit na werk kan bywoon.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top