Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Joseph Matheatau, die blinde barista by Kaleidoskoop se Blindiana-koffiewinkel, wys hoe lyk ’n lekker cappuccino. Foto: verskaf

Kaleidoskoop – gestremdes se plekkie in die son

Kaleidoskoop, voorheen die Instituut vir Blindes, versorg 300 volwasse siggestremdes deur middel van opleiding, berading en werkverskaffing. CONETTE LE ROUX het van hierdie inwoners gaan ontmoet en ’n kleurvolle kaleidoskoop in die donker gevind.


Blindiana, ’n koffiewinkel op Kaleidoskoop se perseel in Worcester, is ’n miernes van bedrywigheid vroeg op ’n Vrydagoggend. Kollegas, vriendinne en enkelinge sit by houttafels en -stoele wat deur siggestremdes gemaak is.

Dié koffiewinkel en selfs ’n eie Blindiana-koffiehandelsmerk is ’n nuwe inisiatief om ekstra fondse te genereer, vertel Ledivia Hamman, koördineerder van die inligtingsentrum, toe sy kom sit.

“Die Instituut vir Blindes is deur die NG Kerk in 1881 gestig, en funksioneer vandag as ’n program van Badisa.

“Verder is Kaleidoskoop ’n nie-regeringsorganisasie wat van donasies afhanklik is om veral vir die inwo­ners te sorg. Die probleem is dat plaaslike fondse uitgeput is, daarom probeer ons nou internasionaal befondsing kry.”

Volgens Ledivia is daar verskeie produksieafdelings waar siggestremdes, wat op die gronde woon en waarskynlik ook in die Pionierskool was, produkte vervaardig. Dié persone, as gevolg van die graad van hulle gestremdheid, sal nie buite in die gemeenskap kan funk­sioneer nie, verduidelik sy. Daarom woon en werk hulle hier.

Uit by die koffiewinkel se agterdeur is daar ’n klomp geboue waar hierdie mense elke dag werk. Ons eerste besoek is aan die rottang-afdeling. Hier word verskeie meubels vervaardig. Ledivia stop by David Geyer (72). Hy is doof-blind. Sy verduidelik hy was in 1958 die eer­ste doof-blinde leerling by die Pionierskool.

David Geyer, wat doof-blind is, gebruik die tadoma-metode om te “hoor” wat Ledivia Hamman van Kaleidoskoop te sê het.

Ledivia vat aan David se hand en sit sy duim op haar lippe en sy vingers op haar kakebeen. Sy vorm stadig haar naam met haar lippe. Later verduidelik sy dié metode word “tadoma” genoem, en is die metode van kommunikasie vir doof-blindes. Met sy duim voel hy hoe die woorde deur haar lippe gevorm word en met sy vingers voel hy die vibrasie op haar stembande terwyl sy praat. “Ledivia!” sê David en glimlag breed.

Ledivia vra vir David om te verduidelik hoe hy doof en blind geraak het. Hy begin verduidelik hoe hy as sewejarige meningitis opgedoen het, wat veroorsaak het dat hy sy sig én gehoor verloor het. “Ek is dankbaar dat my ouers my toe hierheen gestuur het sodat ek kon leer hoe om te kommunikeer.”

Ons stap by die kantoor uit en verby verskeie rottangstoele in wording en by die trappe af.

Op pad na Huis Ebenhaezer, ’n tehuis vir persone met meervoudige gestremdhede, loop ons vir Wickus Botes (47) raak. “Wickie!” roep Ledivia vrolik toe sy hom sien aankom. Hy is swaksiende. Hy stel homself voor as die “skitterman”.

Hy sorg dat al die koperkrane op die groot perseel skitter, verduidelik hy trots. “Ek gebruik eers skuurwol en dan Brasso om seker te maak die krane blínk. Ek skrop en poets dié krane net soos wat die Here ons soms moet skrop en poets om weer skoon van al ons sonde te raak,” sê Wickus.

Toe ons by Huis Ebenhaezer instap is dit doodstil behalwe vir klavierspel wat iewers vanuit die groot koshuis gehoor kan word. Ons volg die klanke en kry die inwoners in hulle ont­spanningslokaal. Al dié inwo­ners se gestremdhede is so erg dat hulle geen werk kan doen of in die samelewing kan funksioneer nie. Ledivia vertel dat hulle wel knip en plak, en daar word vir hulle gesê hulle “werk” as hulle aan sulke skeppende aktiwiteite deelneem.

“Môre julle. Ek het vandag ’n besoeker by my wat julle graag wil ontmoet,” sê Ledivia.

“Môre Le-di-vi-a,” antwoord sommiges wat daartoe in staat is.

Op die klavier speel Alta Molenkse verskeie liedjies terwyl almal op ’n manier saamsing of meedoen aan die prettigheid. Alta is totaal blind en het geen formele musiekopleiding gehad nie. Sy speel op gehoor en bespeel selfs die melodika, sê Ledivia later.

Kaleidoskoop se eie “skitterman”. Wickus Botes sorg dat al die koperkrane op die perseel skitter. Foto’s: Conette le Roux

En toe, om die gas te verwelkom, sing die inwoners: “We want everybody to be happy. We want everybody to be glad. We want everybody to be happy in the Lord and we don’t want anybody saaaaaad!

Op ’n kombersie sit ’n jongman. Sy ledemate is totaal ingeengetrek en sy vel bleekwit. Hy is ook blind, maar sy kop is na bo gelig asof hy sy kop na die son draai. Hy wieg saam op die maat van die musiek. Agter in ’n hoek sit ’n jong vrou op ’n pilates-bal en hop op die maat van die musiek.

Hemelkinders

Sommige inwoners sing en ander neurie saam met lewendige gesigte en wikkellende lywe.

Hulle huismoeder, Linda McCloud, sê dié mense is haar hemelkinders en sy het hulle so lief. Sy skryf in een van die doofblinde inwoners se hand ’n boodskappie: “Ek … is … lief … vir … jou,” sê hy stadig soos sy skryf en sy hele gesig verhelder.

Later gesels ons met Matilda Vermeulen (skuilnaam) (36) in die weefafdeling. Hier word die mooiste matte in verskeie kleure geweef. “Dis jammer julle kom nou eers hier aan. Ek is sopas klaar met dié mat, Ledivia,” gesels sy vriendelik en wys na die mat voor haar.

Aan haar ringvinger skitter ’n nuwe ring wat Ledivia dadelik opmerk. “Ek en my kêrel is mos nou verloof. Maar nou moet ons twee jaar wag voordat ons kan trou. Ai, wat as een van ons twee wegval? As God jou strepie trek, trek Hy hom, jy weet,” sug sy.

Ledivia verduidelik toe ons wegstap dat hulle hier ’n beleid het wat vereis dat inwoners eers vir ’n tyd­perk van twee jaar verloof moet wees voordat hulle trou en saam kan intrek. In dié tyd ontvang die paartjie berading om te verseker dat hulle besef wat ’n groot stap die huwelik is. En dat dit nie weer net tot niet gemaak kan word as jy dalk van iemand anders begin hou nie.

Op pad terug na die koffiewinkel val ’n fyn vrou my op. Janine Barends (25) se gesig is erg geskend as gevolg van brandwonde. Sy is ook blind in haar lin­ker­oog. Waar haar neus was, sit net twee oop neus­holtes.

Ledivia vertel Janine het op die ouderdom van twee maande amper haar lewe verloor na ’n brand in haar huis op ’n plaas in Villiersdorp uitgebreek het. Die dokters het glo nie gedink sy gaan bly leef nie. Na sy wonderbaarlik herstel het, het sy op die ouderdom van ses na die Pionierskool gekom. Vandag werk sy in “Ons Winkel” – waar die produkte wat hier ver­vaar­dig word, aan die publiek verkoop word.

Janine het hier, soos baie ander by Kaleidoskoop, ’n plekkie in die son gevind.


Daar was altyd ’n lig

Toe Joseph Matheatau twee jaar gelede na die Kaleidoskoop-kol­le­ge kom, het sy lewe handomkeer verander. Na jare sonder werk is hy vandag die eerste blin­de barista in die wêreld. CONETTE LE ROUX het met hom gesels.

Diep binne in my was daar nog altyd ’n lig wat my aangespoor het om nóóit moed te verloor nie,” sê Joseph Matheatau (38), die blinde barista by die Blindiana-koffiewinkel.

Hy het nooit moed verloor nie. Nie toe hy op 3-jarige ouderdom totaal blind in sy regteroog geword het nie. Ook nie toe hy in 2010 totaal blind geword het nadat hy in sy linkeroog ook sig verloor het nie. Nog minder toe hy nie matriek kon slaag omdat hy nie behoorlik kon sien nie.

Joseph, wat in die klein Vrystaatse dorp Thaba Nchu grootgeword het, verduidelik ’n dokter het hom later in sy lewe met gloukoom, wat behandelbaar is, gediagnoseer. Dit is ’n oogsiekte waar daar abnormaal baie vloeistof in die oogbal opbou en druk veroorsaak wat die optiese senuwee stadig maar seker verwoes. Sy ouers was bang ’n dokter maak groter skade, en daarom het hulle hom nooit vir behandeling geneem nie.

“In 2014 het God my gewys dat indien jy geduldig wag, dit maak nie saak hoe lank nie, sal die son een­dag anders opkom en dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.

“Ek het altyd geglo dat alles okei is. Ek het nooit ophou glo nie.”

Hy vertel hy het in Bloemfontein probeer om kruieprodukte te verkoop om aan die lewe te bly toe iemand hom van Kaleidoskoop vertel nadat hy pro­beer het om aansoek te doen by die plaaslike kollege. ’n NFSAS-beurs was die geleentheid waarvoor hy al jare wag.

In 2014 het hy by Kaleidoskoop uitgekom.

“Hier het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan. Ek het braille geleer en ook hoe om met ’n rekenaar te werk. 2014 was die eerste keer wat ek aan ’n rekenaar geraak het. Dit was ’n groot droom van my en ek dank God daarvoor want ek het baie lank gewag.

“Hulle het my ook geleer hoe om onafhanklik met ’n loopstok te loop. Ek het intussen my N4 in verkoops­bestuur en entrepreneurskap voltooi so­wel as my N5. En ek is nou be­sig om my m­atriek te voltooi.”

In dieselfde jaar as wat hy hier aangekom het, is hy ook ge­kies om deur Truth Coffee op­­­gelei te word as barista vir Ka­leidoskoop se nuwe koffie­winkel.

“Ek is vir ’n paar dae in Kaapstad opgelei, maar toe was dit mý werk om te oefen. Dit is nogal uitdagend, want die ma­sjiene is ongelooflik warm. Om die melk te skuim (froth) is moeilik. Gelukkig is my ander sintuie baie skerp. Ek kan hoor as die melk gereed is. En ek kan ruik of die melk vars is.”

Joseph vertel almal het hom oor die jare uitgelag as hy vertel het hy gaan eendag ’n werk hê en ’n sukses van sy lewe maak. Maar sy ma het hom altyd ondersteun.

“Ek het ’n wonderlike ma. Sy het my altyd inspireer. Sy het altyd bly sê dat álles moontlik is.

“Ek het steeds ’n droom. Ek droom van my eie koffiewinkel. En om eendag deur Unisa sielkunde te swot.”

Hy sê hy besef dit klink dalk weereens effe vergesog.

“Maar as ’n mens negatiewe kommentaar hoor, moet dit jou hoog oplig sodat jy uiteindelik aan die sterre raak.”


Waaruit bestaan Kaleidoskoop?

Produksie-eenhede:

Houtwerk, metaalwerk, geweefde produkte, verpakking van koffie en kreatiewe produkte.

Opleiding en opvoeding:

  • Die Pionierskool gee opleiding aan siggestremdes van Graad R tot Graad 12 en volg die algemene de­partementele onderwyskurrikulum.
  • Pionierdrukkery bied ondersteuning om die le­wens­kwaliteit en geletterdheid by siggestremdes, meervoudiggestremdes en doofblinde per­so­ne te bevorder deur die produksie en versprei­ding van literatuur in braille, grootskrif en in oudio. LiG, die NG Kerk se tydskrif, word ook opgeneem en versprei.
  • Die Kaleidoskoop-opleidingskollege verskaf op­lei­ding aan siggestremde studente wat op ’n later stadium in hulle lewe blind geraak het. Dié kollege se doel is spesifiek om hierdie studente voor te berei vir toekomstige indiensneming of verdere op­leiding aan ’n tersiêre instansie.
  • Kaleidoskoop se tegnologiese sentrum: Hierdie ini­siatief is die eerste van sy soort in Afrika. Die sen­trum is in vennootskap met Apple en Absa en lei siggestremdes op om gespesialiseerde inlig­tings­tegnologie te gebruik. Die doel is om dié studente toe te rus sodat hulle die arbeidsmark op die­­selfde vlak as siende individue kan betree.

Hoekom Kaleidoskoop?

Volgens dié organisasie het die woord “instituut” internasionaal ’n negatiewe konnotasie, en daarom het hulle besluit om die naam van die Instituut vir Blindes na Kaleidoskoop te verander. Nog ’n rede is die simboliese betekenis. ’n Kaleidoskoop word gemaak uit ’n klomp stukkende stukkies glas, maar saam vorm dit ’n beeldskone prentjie. “Ons is ook almal gebreekte stukkies glas, maar saam kan ons wondere verrig. Ons het soveel verskillende fasette hier by ons – net soos ’n kaleidoskoop. As jy rondkyk sien jy elke keer iets anders, nuut en moois.”


Hoe kan kerke betrokke raak?

 

  • Borg ’n Kaleidoskoop-inwoner vir ’n jaar.
  • Borg ’n Kaleidoskoopkollege-student vir ’n jaar.
  • Ondersteun ons koffieprojek en ons winkel (Blindiana).
  • Kom kuier by ons, ons ontvang graag groepe en wys hulle wat ons alles doen.
  • Ondersteun en borg ’n Pionierskool-leerder.
  • Voorbidding vir ons organisasie.

Vir meer inligting kan Ledivia Hamman by ledivia@kaleidoscopesa.org gekontak word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top