Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jesus dryf die bose geeste uit. Die wêreld het dié soort posttraumatiese terapie wat Jesus toentertyd toegepas het, vandag nog meer nodig, sê die skilder, dr Fanie Marais.

Vredesboodskap oor grense deur kunstenaars geverf

Dr Fanie Marais, predikant en kunste­naar in eie reg, word geïnspireer deur ak­tuele kwessies wat mense raak.

In 2014 het hy ’n uitstalling na die Marikana-slagting gehou. Nog so ’n aktuele uitstal­ling, getiteld “Instrumente van vrede”, het op 11 Maart om 11:00 by die Breytenbach-galery in Wellington geopen. Dit duur tot 5 April.

Dié keer het die 9/11-terreuraanval en oorlog wat wêreldwyd in die naam van godsdiens gevoer word hom bygebly.

“Na die 9/11-terreuraanval het ek besef dat die Christelike Weste baie te leer het om sensitiewer om te gaan met mense van ander godsdiensoortuigings as ons ’n veiliger lewensmilieu wil skep vir die aarde met haar diverse godsdienssisteme,” sê Marais, wat ook verantwoordelik is vir pastorale hulp by die NG gemeente Goodwoodpark.

’n Vriend van Marais, prof Eben Scheffler, wie se navorsing oor Jesus as vredesoekende fi­guur tussen Judaïsme, Islam en Christenskap in die vaktydskrif Neotestamentica gepubliseer is, het vir Marais die tema van die uitstalling finaal geregverdig.

Marais vertel hy en kurator Anna-Gretth Coetzee het ook kunstenaars van ander godsdiensoortuigings genooi. “Ek het kennis gemaak met mense soos Suleiman Christians, voorsitter van die Distrik Ses Erfenisstigting. Hy is ’n Moslemkunstenaar wat net so passie­vol vrede en geregtigheid soek soos ek wat ’n Christen is,” sê Marais.

Een van Marais se skilderye beeld die uitdryf van bose geeste uit. “Deur die historiese na­vorsing oor wat Jesus van Nasaret gedoen het, is dit duidelik dat Hy die magte van godsdiens en staat gerelativeer het en verligting van lyding bewerk het. Waarvan die uitdryf van bose geeste uit ‘Legio’ ’n voorbeeld is. Die wêreld het dié soort posttraumatiese terapie wat Jesus toentertyd toegepas het vandag nog meer nodig,” sê Marais.

Sy skildery van Koelsom en Floori, die twee baksters van die Bo-Kaap, sal ook by die uitstalling te sien wees. Marais verduidelik hoe hy vrede in dié skildery uitbeeld: “Dit is ’n toonbeeld van die vriendskap en respek wat mense in die Kaap beoefen. Hulle werk saam maar die een probeer nie die ander ‘draai’ wat hul godsdiens betref nie.”

Marais sê die gebed van Franciskus van Assisi, “Here maak my ’n instrument van u vrede,” het hom die idee van die uitstalling-titel gegee.

“Is dit nie wat elke godsdiens behoort na te streef nie?”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top