Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Abby Jansen van Vuuren (graad 9) met ’n dogtertjie van Masoyi Home Based Care op die arm. Hulle het die kinders met kolwyntjies bederf. Foto’s verskaf

Witrivier-tieners leer om hul geloof te leef

Deesdae lyk kategese heel anders as ’n paar jaar gelede – verál in die NG gemeente Witrivier. Ds Eddie le Roux en sy span tienerdieners (volwassenes wat die selgroepe vir tieners lei) het ’n resep ontwikkel om godsdiens­onderrig vir tieners meer prakties en interessant te maak. LIEZEL LÜNEBURG vertel.


Kategese, soos kerkwees in die algemeen, het baie lank, op baie plekke en vir baie mense hoof­saaklik oor kopkennis gegaan. Praktiese Christenskap het maar ’n klein rol in die leerplan ge­speel. En vir baie kinders was dit sieldodend.

Eddie sê hy was bewus daarvan dat kategese kinders maklik verveel en hy het deur die jare probeer om dit so boeiend moontlik aan te bied. Met verloop van tyd het hy ’n geoliede sisteem ontwikkel waar hy op ’n in­te­ressante manier die lesse met uittreksels uit video’s, treffende staaltjies en dramatiese handbewegings aan­ge­bied het.

Tieners in sy belydenisklas het jaar na jaar saam ge­lag en gehuil, pret gehad en geloofsekerheid bereik. Hul­le het as ’t ware aan sy lippe gehang en niemand het meer, soos in die verlede, hul horlosies dopgehou nie. Sy aanbieding was ’n sukses, het hy gedink.

“So drie jaar gelede het ek met ’n groep oor geloofsekerheid gesels. Op die ingewing van die oomblik het ek besluit om hul kennis op ’n meer praktiese manier te toets,” vertel Eddie.

“Elkeen moes ’n ander lid van die groep na die Here lei. Nie ’n enkele een van die kinders kon die regte woorde vind om die verlossende boodskap van die evangelie te deel nie.”

Op daardie oomblik het Eddie met ’n skok besef dat hy, in sy eie woorde, jare lank ’n toets gedop het.

“Die tieners het die teorie rondom Christenskap verstaan en selfs geloofsekerheid bereik, maar kon na 11 jaar van kategese-opleiding nie die kennis prakties toepas nie,” vertel hy. “Ek sou dringend ’n plan moes maak.”

Eddie het besef dat tieners in die sendingveld ingeneem moes word om Christenskap eerstehands te ondervind en te leer hoe om dit prakties uit te leef.

Wanika se rol

Wanika du Plessis het op nét die regte tyd by die gemeente se jeugbediening betrokke geraak. Sy is ’n aanhanger van Shane Claiborne en het Eddie aan sy boek The irresistable revolution voorgestel.

Mickayla Louw (graad 9, links) saam met Jhabuile van Masoyi Home Based Care bied ’n poppespel aan vir die kinders van Masoyi. Die poppe is van links: Attie die aap, Thandi, Sarel en Lettie.

Claiborne se lewensbeskouing is gebaseer op liefde vir God en vir alle ander mense en stel dat Christene in liefde en eenvoud met mede- sowel as nie-Christene en gemarginaliseerdes moet saamlewe.

Volgens hom is die meeste goeie dinge reeds te veel male gesê terwyl dit eintlik maar net gelewe moet word. Hierdie filosofie van Claiborne het Eddie se behoefte om die kinders aan die praktiese sy van Christenskap bloot te stel, versterk.

Wanika vertel dat sy die afgelope drie jaar ’n werklik sinvolle pad met God stap. “Ek is bewus van die reuse-veranderinge wat Hy konstant in my lewe bewerkstellig en glo vas dat Hy groot planne vir my het.”

In 2014, tydens die gemeente se Mosambiek-uitreik, het Wanika die Here intens ervaar. ’n Groot behoefte om na uitgestotenes uit te reik, het by haar posgevat. “Ek soek die Here in alles om my en vir my is Hy die sigbaarste daar waar ek kan dien, daar waar liefde geen grense ken nie, daar waar nood raakgesien en aangespreek word.”

Met Wanika en ander tienerdieners se hulp, is die wiel aan die rol gesit.

Radikale verandering

Sedert die begin van 2016 het die jeugbediening ’n radikale, uiters suksesvolle vorm aangeneem.

Eddie het ’n visie gehad om die kinders bekend te stel aan daardie plek waar die evangelie en die wêreld ontmoet. Om dit te verwesenlik, het die bedienings­leiers besluit om tieners reeds vanaf graad 7 deur be­staande gemeenskapsprojekte bloot te stel aan mense wat anders as hulle is – nie net as toeskouers nie, maar as deelnemers aan die projekte.

Hoe werk dit?

Elke projek neem ses weke om af te handel en neem die volgende vorm aan:

In die eerste week gesels iemand wat aktief by die projek betrokke is met die kinders oor die werksaamhede sowel as behoeftes.

Gedurende die volgende week word Bybelgedeeltes wat van toepassing is, in diepte ondersoek.

Mieke Meyer (graad 10) neem ’n onsie van haar en kinders van Masoyi Home Based Care ná ’n gesigverfsessie.

Tydens die derde byeenkoms besluit elke afsonderlike graadgroep hoe hulle graag betrokke wil raak by die pro­jek. Gedurende hierdie sessie moet die kinders, on­der leiding van tienerdieners, deeglik voorberei en die logistieke reëlings rondom die uitreik goed deur­dink.

Week vier is die week van gebed. Elke kind moet vertel wat hy of sy tot dusver beleef het en die tieners gesels in selgroepe oor die uitdagings, vrese en ander emosies rondom die voornemende uitreik. Elke groep bid dan intens saam.

Die vyfde week sorg vir groot opwinding: Dit is tyd om uit te reik!

Tydens die laaste sessie evalueer elke groep die uitreik deur die volgende vrae te beantwoord: Watter emo­sies het ons ervaar? Wat was lekker en wat was minder lekker? Hoe het die uitreik ons ver­ander? Hoe sal ons dit graag volgende keer anders wil doen?

Positiewe gevolge

Volgens Eddie word die enkele frustrasies by verre deur die positiewe gevolge oortref. Bywo­ning van die jeug-erediens is nou konstant hoog. Die standaard van die tieners se betrokkenheid het ook verbeter. Elke kind wat die erediens bywoon, neem ten volle deel en die kwa­li­teit van lofprysing het vermenigvuldig. Daar heers ook ’n atmosfeer van blydskap en doelge­rigt­heid.

Eddie se visie is besig om ’n praktiese, lewende gestalte aan te neem: Kinders begin uiteindelik besef hoe die wêreld daar buite lyk, hoe elkeen ’n verskil kan en moet maak en dat Christene vir die gemeenskap op aarde geplaas is en nie net vir die gemeente nie.

Uit die aard van die saak is daar haakplekke ook, maar elke suksesverhaal groei tog uit eva­lua­sie en ontwikkeling.

Een van die haakplekke is die logistieke reëlings. Tot dusver het elke graadgroep afsonderlik op verskillende Sondae die spesifieke projek besoek. Dit het tot gevolg gehad dat die siklus van ses weke nie gelyktydig vir al die groepe geloop het nie. Hierdie hekkie is reeds met die jongste siklus oorkom deurdat alle grade nou op dieselfde tyd beplan aan die projek.

Nog ’n haakplek het by die besoek aan Rustig Ouetehuis in 2016 duidelik geword. “Van die kinders het net voor die besoek vir verskeie redes kop uitgetrek,” vertel Eddie.

“By die daaropvolgende evaluasie-geleentheid het dié wat wel daar was, in so ’n mate positiewe terugvoer gegee dat dié wat dit nie bygewoon het nie, baie spyt was dat hulle nie maar ’n plan gemaak het nie.”

Eddie meen die oplossing is om voor die tyd spesifieke take aan spesifieke tieners toe te ken. Dit sal tot gevolg hê dat kinders met behulp van ouers spesiale moeite doen om die geleentheid by te woon.

Wat sê die tieners?

Die tieners se terugvoer oor die projekte is aansteeklik positief.

In 2016 het al die graadgroepe afsonderlik na Huis Betlehem, ’n tydelike plek van veiligheid vir kinders, uitgereik. Die belydenisklas het besluit om die inwo­ners van die tehuis op ’n uitstappie te neem. Sarah-Ann van der Watt, nou in graad 12, vertel: “Ons het wors gebraai en boeries saam met die kinders geëet, hulle geleer visvang en ’n reuse-glybaan gereël. Almal het saam pret gehad. Aanvanklik wou van die Huis Betlehem-kinders nie deelneem nie, maar ons het net aanhou uitreik en speel tot elkeen uiteindelik saam in die pret gedeel het. Dit was wonderlik om eerstehands te ervaar hoe grense afgebreek word.”

Nerica Strydom en Christiaan van der Watt ver­tel dat die graad 9’s onlangs ’n wonderwerk beleef het tydens hul uitreik na die Masoyi Home Based Care-projek in Masoyi, ’n landelike gebied net buite Wit­ri­vier. Die projek versorg kin­ders wat in huishou­dings grootword waar ’n kind aan die hoof staan.

Drie van Witrivier se matrieks kuier in die Rusdag-ouetehuis. Van links is Carike Broodryk, Dawie en Carol Hepburn, Nicole Erasmus en Andrea Klopper.

Tydens die vorige week se uitreik deur ’n ander groep het om en by 40 weeskinders opgedaag en die graad 9’s het besluit om 60 kolwyntjies te bestel. Op die ou einde het 100 kinders opgedaag!

“Die enigste uitweg was om die kolwyntjies middeldeur te sny sodat elke kind darem ’n stukkie kry,” vertel Nerica. “Groot was ons verbasing toe ons die kolwyntjies uitpak en 40 ekstra kolwyntjies ontdek!”

Christiaan het die sokker saam met die kinders geniet. “Hulle speel baie goed en selfs die kleintjies het die tieners ore aangesit.”

Volgens Victor Arnoldi, graad 10, is hy aangegryp deur die geïsoleerdheid van die gemarginaliseerdes in die samelewing. “Mense reik nie maklik uit nie en dit het tot gevolg dat hulle net meer en meer op die kantlyn lewe. Die uitreik na Huis Betlehem het my laat besef dat kinders wat in moeilike omstandighede lewe, ook maar net kinders soos ons is.”

Skoonmaak

Die jeuggroep is nou besig met beplanning om Witrivier skoon en mooi te maak. Hulle het reeds ander organisasies in die dorp betrek en sien dit ook as ’n gulde geleentheid om saam met die res van die gemeente uit te reik.

Die tieners vertel dat hulle beplan om asblikke en bankies in die parkie te plaas, rommel op te tel, ’n gemeenskapstuin aan te lê en ’n straatbraai vir alle dorpenaars aan te bied.

Wanika vertel dat hulle nog groot drome vir die nuwe stelsel het. Hulle wil graag ’n handleiding skryf vir die tienerdieners en kinders waarin riglyne vir elke projek verskaf word. Dit sal uit ses dele bestaan en spasie hê vir aantekeninge en na afloop van elke projek deel vorm van die evaluering.

Witrivier se tiener-erediens staan nou bekend as die Stad op die Berg-erediens. Die jeug en tienerdie­ners gee immers gestalte aan Jesus se woorde in Matteus 5: “Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top