Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Evangeliese Alliansie van Suid-Afrika (TEASA) het ʼn mediaverklaring uitgereik waarin hulle president Jacob Zuma se besluit om Pravin Gordhan, minister van finansies, en sy adjunk, Mcebisi Jonas, terug te roep van ʼn oorsese reis om beleggers in Amerika en Brittanje te werf, skerp veroordeel.
Volgens berigte in die media is dié reis deur die president goedgekeur.
Hierdie besluit van die president dra by tot ʼn klimaat van vrees, onsekerheid, gerugte en spekulasie, lui die verklaring. Dit is ontstellend vir landsburgers, plaaslike ondernemings en bestaande asook potensiële beleggers in ons ekonomie.
Volgens die verklaring het ons land ʼn dringende behoefte aan beleggings om ʼn inklusiewe ekonomie te verseker en armoede en werkloosheid te verlig.
Die NGK en TEASA sê die regering het ʼn grondwetlike verantwoordelik om ʼn stabiele en bevorderlike klimaat vir beleggings te skep. Verder het hulle ook die verantwoordelikheid om ʼn stabiele omgewing vir al ons landsburgers te verseker.
Die NGK en TEASA wil hande vat met alle vredeliewende Suid-Afrikaners in die ernstige versoek dat ons owerhede hulle openbare gesag op ʼn stabiele, oop en deursigtige manier sal uitoefen. Hulle pleit ook vir omsigtige, wyse en verantwoordelike leierskap ten opsigte van ons ekonomie en nasionale tesourie.
Die NGK en TEASA doen verder ʼn beroep op kerke om die Save South Africa-veldtog te ondersteun om só saam te stry vir ʼn land wat vry sal wees van korrupsie en vir openbare leierskap wat in die belang van alle burgers optree, veral die arm, gemarginaliseerde en kwesbare burgers van ons land.
Volgens Save South Africa se webwerf word hierdie veldtog gelei deur ʼn groep organisasies, sakeleiers, vooraanstaande individue en Suid-Afrikaanse burgers wat die grondbeginsels van ons demokrasie ondersteun. Save South Africa hou regeringleiers aanspreeklik vir die handhawing van die grondwet en die waardes wat hulle belowe het om as verteenwoordigers van Suid-Afrika se mense te vestig.
Die NGK en TEASA doen ʼn beroep op alle kerke en Christelike organisasies om hierdie week te bid vir ons land en vir ʼn spoedige oplossing vir die politieke dooiepunt wat ons tans in ons land ervaar.
