Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Andrew Murraypryswenners bekend

Die wenners van die jaarlikse Andrew Murraypryse is pas bekend gemaak.

Coenie Burger

Die Andrew Murrayprys vir Afrikaanse teologiese boeke is gewen deur Coenie Burger en Andries Cilliers vir hulle boek oor die doop, Ontvang wat vir jou gegee is (uitgegee deur Bybel-Media). Dié boek word beskou as verrassend nuut en vars in ons nadenke oor die doop. Volgens die beoordelaars slaag die skrywers daarin om die polemiese aard van vorige Afrikaanse boeke oor die doop te deurbreek. Burger en Cilliers skryf dat die doop, as dit reg verstaan word, juis ‘n verenigende krag tussen denominasies en verskillende geloofsgroepe kan wees. Die skrywers sal elk R12 500 en ‘n oorkonde ontvang.

Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir algemeen-Christelike en teologiese publikasies in ‘n amptelike taal van Suid-Afrika, is gewen deur Yolande Korkie vir haar boek, 558 days (uitgegee deur CUM). Korkie vertel in haar boek in detail van die traumatiese ervaring toe sy en haar man, Pierre, in 2013 in Jemen ontvoer en as gyselaars aangehou is. Sy is later vrygelaat maar Pierre is dood toe ‘n poging om hom te bevry, skeefgeloop het. Die beoordelaars sê die waarde van die boek lê ook in die respek en begrip wat dit tussen Christene en Moslems weerspieël. “Veral in ‘n tyd dat ISIS terreur saai en so baie mense neig om alle Moslems oor dieselfde kam te skeer, bied dit ‘n nodige perspektief.” Die skrywer ontvang R20 000, ʼn trofee en ʼn oorkonde.

Andries Cilliers

Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in ‘n amptelike taal van Suid-Afrika, is deur die 32-jarige Lauren Jacobs gewen vir haar boek Yehudit – Chosen by God (uitgegee deur Lux Verbi). Dit is ‘n roman oor Yehudit/Judit, ‘n vrou uit die Ou-Testamentiese apokriewe geskrifte. Sy word in dié boeiende roman uitgebeeld as ‘n kryger van God, ‘n vrou wat as regter en vredemaker optree en honderde jare gelede ‘n bres vir haar geslagsgenote geslaan het. Die beoordelaars skryf dat “die sterk vroulike karakter ‘n uiters belangrike tema is om te ontgin, en in hierdie boek word dit baie goed gedoen”. Jacobs ontvang R10 000 en ʼn oorkonde.

Daar word ook vanjaar verskeie spesiale toekennings gemaak. Die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike Musiek gaan aan Annalise Wiid vir haar unieke bydrae tot ons Christelike musiekskat. Pieter Fourie, vorige uitvoerende hoof van Bybel-Media, ontvang ‘n Andrew Murray-Desmond Tutu-toekenning, en Johan Smit en Winnie Rust word postuum vereer vir hulle bydraes tot die Afrikaanse Christelike lektuur.

Die pryse word op 5 Mei by Wellington oorhandig.

“Dit is vanjaar 100 jaar gelede dat Andrew Murray op dié dorp oorlede is, en die oorhandiging van die pryse maak deel uit van die herdenking van Murray se blywende geestelike nalatenskap,” sê dr Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top