Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Neem deel aan protes teen Zuma, sê SARK

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), waarvan die NG Kerk lid is, moedig Christene aan om aan aksies teen president Jacob Zuma deel te neem.

Die SARK versoek lidkerke, sowel as mense van ’n verskeidenheid gelowe, om die mees geskikte manier te vind om gehoor te word en aan aksies van hulle keuse regoor die land deel te neem, lui ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is.

Landwye protesoptogte teen Zuma word môre, 7 April, regoor Suid-Afrika beplan.

“Laat alle Suid-Afrikaners, met vreedsame bedoelings, die reg uitoefen om hulle stem te laat hoor, sonder vrees, intimidasie en geweld” sê die verklaring.

In die verklaring eis die SARK ook dat president Jacob Zuma “die regte ding sal doen” en afstand sal doen van sy pos om sodoende die “genesing van ons nasie” toe te laat.

Die SARK het vandag gesê dat hulle byna presies ’n jaar gelede (8 April 2016) dieselfde versoek tydens ’n verklaring gerig het, maar dat dié versoek met die afgelope week se gebeure hewig verskerp is.

Hulle moedig alle Christene aan om hulle pyn, angs en vrees op die kruis van die gekruisigde Jesus in die komende week op Goeie Vrydag te laai, en te glo dat die nasionale wekroep vir verandering gehoor is. En dat ons nasie weer sal opstaan, soos Jesus opgestaan het.

Volgens die verklaring sal die SARK weer op 20 April vergader om verder te reflekteer oor die toestand van die breër nasie.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het gesê dat die kantoor van die Algemene Sinode hom totaal vereenselwig met die SARK se verklaring en dit as lid ondersteun. Die moderatuur sal ook tydens die vergadering op 20 April teenwoordig wees.

Op 5 April 2017 het die Katolieke Kerk van Suid-Afrika ook sy misnoeë met die regering en president Zuma in ’n verklaring uitgespreek.

Die volledige verklaring van die SARK is hier beskikbaar en verklaring van die Katolieke Kerk is hier beskikbaar.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top