Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Elna Mouton (regs) en dr Lisel Joubert in gesprek tydens die bekendstelling van Die hart van God by die Fakulteit Teologie in Stellenbosch. Foto: Jacobie M Helena

Vergete sendelinge se verhale nou vertel

Die byna vergete verhale van nege vroue, wat meestal in die Victoriaanse tyd die hart van God verteenwoordig het, word nou uiteindelik vertel.

Prof Elna Mouton van die Universiteit Stellenbosch het tydens die bekendstelling van Die hart van God – verhale van vroue in sending in Stellenbosch gesê dié sendelinge se verhale bekoor haar. Juis omdat hulle van God self getuig, meestal teen die grein van kulturele stereotipes, patriargale strukture en negatiewe opvattings oor veral ongetroude, kinderlose vroue.

Die redakteurs – dr Lisel Joubert, predikant by NG gemeente Gansbaai, en dr Isabel Murray, ar­giefbeampte van predi­kante­ver­sa­me­lings – het van mede­wer­kers ge­­bruik gemaak wat elkeen ’n verhaal van ’n vrou in sending kon kies.

“In die boek moes die mede­werker motiveer hoekom hulle ge­kies het om oor die betrokke per­soon se lewe te skryf,” sê Murray.

Ds Rethie van Niekerk, ’n dominee by Somerstrand-gemeente in Port Elizabeth, het byvoorbeeld Louisa Meyburgh, “die engel van PE”, se verhaal ge­skryf. Van Niekerk sê sy kon nie anders as om die vrou se verhaal te vertel wat bygedra het tot die stigting van die NG Kerk in Port Elizabeth nie.

“Dit was belangrik dat daar nie net oor die vroue in die sending gepraat word nie, maar dat die vroue ook sélf praat. Daarom is daar baie stukke uit hul persoonlike dagboeke en eie woorde in die boek aangehaal. Die idee van die vroue se eie stemme was baie belang­rik. Dis eers dán wat jy die egtheid en atmosfeer van die tyd waarin die vroue geleef en gewerk het ervaar,” sê Joubert.

Joubert vertel dié sendingvroue het ’n pragtige bood­skap vir die hedendaagse leser: “In die eerste plek het die vroue baie nou met die Bybel geassosieer. Die Skrif was die bron waaruit die vroue daagliks geleef het, hul krag ontvang het, wat hulle bemoedig het. Die vroue het God se hand in hul lewe ervaar wat hulle dryfveer was om buitengewone grense in baie moeilike ruimtes te betree. Hul roeping en afhanklikheid van God het die grense van die tye oortref.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top