Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die goedheid en strengheid van God

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof CG du Toit van Noordbrug skryf:

Dit is jammer dat in die debat oor die kerk en verhoudings die klem val op ons en ons interpretasie van God se wil soos ons die Bybel lees en hoe ons glo die kerk moet optree.

Selde word begin met die feit dat dit in die eerste plek gaan om die heilige drie-enige God en om sy eer. Selde word daar van die vertrekpunt uitgegaan dat God heilig, soewerein, regverdig en onveranderlik is.

God se liefde kan net gesien en verstaan word in die konteks daarvan, want dit is die konteks waaruit Jesus Christus gekom het om aan die kruis te sterf en die straf te dra vir die sonde van die wêreld. Paulus sê in Romeine 11:22: “Let dan op die goedheid en die strengheid van God.”

Dit beteken dat ons die goedheid van God nie los van sy strengheid kan sien nie; dat ons sy seën nie los van sy vloek/straf kan sien nie; dat ons sy liefde nie los van sy geregtigheid kan sien nie; en dat ons sy barm­hartigheid en genade nie los van sy oordeel kan sien nie. God se trou beteken dat Hy seën en straf, dat Hy doen soos Hy sê Hy sal maak.

In ons onderlinge verhoudinge gaan dit ook in die eerste plek oor God se eer. Dit gaan daaroor dat ons met sy liefde wat in ons geplant is na mekaar uitreik, mekaar ondersteun en bystaan. Ook in ons stryd om volgens die wil van God te leef. Soos God, kan ons ook nie goedkeur wat nie volgens God se voorskrifte en wil is nie, wat ook al die aard daarvan. Dit is egter nie ons opdrag om te oordeel of veroordeel nie, dit doen God alleen, maar om mekaar in liefde te onderskraag in die stryd wat elkeen voer. Soos die verlore seun se pa in Lukas 15, wag God met reikhalsende verlange en ’n brandende liefde dat ons soos die verlore seun sal omdraai en sê: “Ek sal na my Pa toe gaan!”

Laat ons ons daarvan weerhou om ’n uitdaging aan die kerk te rig, want net miskien is dit ’n uitdaging gerig aan God. “Moenie dat dit dalk later blyk dat julle teen God gestry het nie!” (Hand 5:39). – Brief verkort, red.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top