Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die kunstenaar, Maria Oosthuizen, se kunswerk wat op die Blanco-gemeente se 2014-kalender gepryk het. Foto's verskaf

Kunstenaars in diens van kuns én kerk

Enige vorm van kuns kan soos ’n gelykenis van Jesus wat Woordwaarhede verlig en verstaanbaar maak funksioneer, skryf FRANCOIS MULDER. Hy vertel ook van die vorme van kuns wat die NG gemeente Blanco tot dusver in hulle bediening gebruik het.


Christian should use these arts to the glory of God, not just as tracts, mind you, but as things of beauty to the praise of God. An art work can be a doxology in itself.”

Só skryf die bekende Amerikaanse teoloog, Francis A Schaeffer, in sy boek Art & the Bible.

In NG kerkgeboue regoor ons land is daar bewyse van kunstenaars wat hul geloof uitleef deur kunsvorme te beoefen wat deur gemeentes verwelkom word.

Fotografie, dans, digkuns, kontemporêre musiek en skilderkuns kan funksioneer soos die gelykenisse van Jesus wat Woordwaarhede verlig en verstaanbaar maak.

Grassade in die wind

Tydens die Blanco-gemeente in George se Psalm-kwar­taal in 2013 is verskeie kunstenaars vanuit verskil­lende dissiplines aangewend om die Psalms van die Ou Testament kleur en klank te gee. Louis Brittz het van sy Psalm-toonsettings kom sing terwyl Stef Kruger sy lied “Grassade in die wind” gesing het tydens ’n ere­diens as ’n moderne Psalm-weergawe van Psalm 103:15-16.

Die liedjieskrywer en kunstenaar Stef Kruger saam met Francois Mulder. Stef hou sy Psalmskildery vas.

In antwoord op die lees van Psalm 119:176 se negatiewe “verdwaalde skaap”-metafoor het Stef geantwoord met sy positiewe “verdwaalde siel”-metafoor wan­neer die Skepper se skepping hom oorweldig.

Tydens die res van die prediking het Stef, omring deur die kinders van die gemeente, ’n impressio­nis­tiese kunswerk getiteld Psalm geskep, tot groot applous van die gemeente toe hy die finale produk omhoog gehou het. Na die erediens het hy ge­skerts: “Ek het al baie applous ont­vang vir my musiek, maar nog nooit vir ’n skildery nie.”

Dié kwartaal is afge­sluit met die Mossel­baaise skil­der, Maria Oost­huizen, wat haar ge­tuienis kom gee het met van haar skil­de­rye uitgestal in die liturgiese area. Haar besoek het geboorte gegee aan ’n besonderse tradisie wat ge­vestig is in die gemeente naamlik om skilderkuns te gebruik vir die voorblad van die jaarlikse kerkkalender.

Vir die daaropvolgende jaar het Maria toestemming verleen dat ’n besonderse kunswerk van haar getiteld Supernatural favour forgiveness gebruik mag word vir die 2014-kalender. Dié pragtige, helder­kleurige skildery van ’n dansende en uitbundige dogtertjie versinnebeeld vreugde in die teenwoordigheid van die Vader, Seun en Gees. Haar kunswerk vorm deel van ’n reeks getiteld “Beauty for ashes”.

Vir Maria, wat geen formele kunsopleiding het nie, is haar kuns ’n voltydse beroep, maar veral ’n roeping. Sy het kreatiwiteit as ’t ware met moedersmelk ingekry met ’n ma wat ook ’n kunstenaar was. Haar inspirasie is God “omdat Hy die skepper is van alles wat mooi is”. Sy vertel: “Hy het my geroep vir sy doel. Van­uit my gehoorsaamheid aan sy roeping en my liefde vir kuns, verf ek met my totale wese om Hom te aanbid. Daarom bid ek dat elke skildery mense sal aanraak soos wat ek aangeraak is tydens die verf daarvan.”

Gee jouself

In 2015 het Verona Cronjé, ’n lidmaat van die Blanco-gemeente, se besonderse kunswerk op die voorblad van die gemeente se kalender gepryk. Uiters gepas om­dat die jaartema “Gee!” was. Die temalied vir die jaar was Louis Brittz se toonsetting van Romeine 12 ge­titeld “Gee jouself”. Verona, ’n fisioterapeut van be­roep wat skilder vir ’n stokperdjie, het jare gelede dié kuns­werk geskilder vir ’n gemeentefees en daarna aan die gemeente geskenk.

Die voorblad van die gemeente se 2017-kalender.

Vandag hang dit in die ingangsportaal van die kerkgebou. Dié titellose skildery is 2 by 1,5 meter groot en wys twee hande wat ’n stuk brood breek.

Vir sommige gemeentelede is dit die hande van Jesus wat die brood breek by die instelling van die nagmaal.

Verona self hoop dié skildery is ’n oproep aan gelo­wiges om tot aksie oor te gaan en hul geloof in Jesus Christus uit te leef en uit te deel. Die kunswerk roep uit: “Géé jouself soos Jesus aan God én mense!”

Oor haar kunstenaarskap vertel sy: “My oortuiging is dat kuns die menslike hunkering na hoop ontsluit. Dat dit, vir die gelowige, ver verby die luuksheid wat normaalweg met kuns assosieer word reik na hoop … wat eintlik nie geskei kan word van skoonheid nie. Die fokus om iets moois te wil produseer verskuif van selfsug of selfbediening na om met ’n dringendheid die wêreld se fokus te skuif met elke kwashaal weg van armoede, siekte, nood en moedeloosheid na hoop. Daarmee saam ons Hoop en die Gewer daarvan. Dit word ’n refleksie van ons geloof.”

Laat die kindertjies kom!

En wat van die kinders van elke gemeente wat oorborrel met aanvanklike selfvertroue en kreatiwiteit? As jy hulle vra: “Wie van julle kan mooi inkleur?” is elke hand op! Êrens langs die pad verloor hulle ongelukkig daardie spontaneïteit en wete dat hulle kreatief geskep is. Om hul kreatiwiteit aan te moedig het die Blanco-gemeente einde 2015 ’n ope uitnodiging gerig aan die kinders van die gemeente om te help skep aan 2016 se kalender met die jaartema: “Huis”. Die uiteindelike kinderkuns-ka­lender het daardie tema pragtig geïllustreer.

Verona Cronjé se kunswerk wat in Blanco-gemeente se voorportaal pryk.

Einde 2016 het die leraarspan van Blanco vir Verona Cronjé gevra om ’n kunswerk te skep vir die 2017-kalender. Sy moes aansluit by die jaartema “Kyk!” asook die vier kwartaaltemas: Kyk na die Va­der, Kyk na die Heilige Gees, Kyk na Jesus Christus en Kyk weer (na die Hervorming.)

Na aanleiding van ’n onlangse besoek aan ’n oogkundige, het een van die leraars die voorstel gemaak van ’n “phoropter” in die ontwerp. ’n Phoropter is ’n instrument wat oogkundiges gebruik om tydens ’n oogtoets individuele lense op elke oog te toets. In haar kunswerk kyk iemand deur so ’n phoropter.

Behalwe vir die gemeente se naam, jaartema en die jaartal, het sy die woorde “Vader, Seun en Heilige Gees” op kreatiewe wyse ingevoeg te midde van herfs­kleure en patrone. Met die eerste wys van die skildery op die groot skerm tydens ’n erediens, het ’n tannie van agter in die gemeente kliphard gevra: “Dominee, wat beteken dit?” Ek kon verduidelik dat ons as gemeente in 2017 stip wil kyk na die Vader, Seun en Heilige Gees.

Maar soos met alle kunswerke is elkeen se kyk en verstaan daarvan uniek. So vertel ’n voormalige koster van die gemeente, die 97-jarige tannie Soes Stander, dat die skildery haar herinner dat God orals kan sien. Iemand anders interpreteer dit weer as ’n herinnering dat ons almal met verskillende brille na die lewe kyk.

Die Here voorsien aan elke gemeente dit wat nodig is om hulle roeping uit te leef. Daarom glo ek dat Hy ook kunstenaars oprig in gemeentes om deur kwas, pen, kamera, instrument of stem mee te help in die opbou en groei daarvan.

Kom ons verwelkom en omarm opnuut die kunste­naars in ons kerke as begaafdes wat met hul kuns­vorme ons inspireer en bedien met hul Godgegewe kreatiwiteit. En aan die kunstenaars: Kom verstom ons met jul kreatiwiteit as heenwysers na die oorspronklike Groot Kunstenaar.

Ds Francois Mulder is een van drie leraars van die NG gemeente Blanco in George, Suid-Kaap.


Gevolge van hervor­ming vir kuns

Een van die verstaanbare maar tog hartseer gevolge van die hervorming 500 jaar gelede, was ’n breek tussen die protestante en die “Katolieke kunste”. Die beeldhouwerk en muurskilderye in die katedrale het die hervormers net té veel herinner aan alles wat hulle verwerp het onder leiding van Luther, Zwingli en Calvyn. Die “beeldenstorm” van 1566 in die lae lande is ’n ekstreme voorbeeld van die vernietiging van Katolieke kunswerke en beeldhouwerk. Die gevolge hiervan is deur die eeue gesien in ’n wantroue van kunstenaars in die algemeen. Protestantse kuns­werke het drasties afgeneem en kunstenaars het religieuse temas al hoe meer begin vermy. Gelukkig het dit deur die eeue verander met ’n nuwe omarming van kuns as uitdrukkings van kunste­naars se liefde vir God en tot opbou van die gemeente.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top