Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Stefaan de Jager van Humansdorp-Oos skryf:
“Hy (Jesus) bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Hand 4:12).”
Niemand anders nie. Geen god of profeet van watter ander godsdiens ook al nie. Alle ander gode is afgode, versinsels in die verstand van diegene wat hulle probeer aanbid. Diesulkes sal altyd onseker wees of hierdie gode hulle kan hoor of help. Wie God buite Jesus probeer vind sal nooit slaag nie, want God het Hom slegs in Christus openbaar.
Al sou selfs gelowiges en teoloë hierdie waarheid loën, bring hulle die oordeel van God oor hulleself en openbaar daarmee maar net dat hulle Jesus nog nooit leer ken het nie. Teologie word vir diesulkes slegs ’n stukkie harsingsgimnastiek en die evangelie word degradeer tot slegs maar ’n godsdiensfilosofie.
Ek hoor die afgelope tyd van ’n sogenaamde teologie van radikale insluiting, wat dit ook al presies mag beteken. Die Skrif is daaroor duidelik dat diegene wat Christus as Verlosser verwerp, uitgesluit word uit die koninkryk van God en dat hulle vir ewig verlore gaan. Die goeie nuus is dat hulle wat Jesus as Here en God aanbid, ingesluit is in die koninkryk van God en die ewige lewe as gratis geskenk ontvang.
Daar bestaan geen radikale insluiting buite Christus nie, wel ’n radikale uitsluiting. In Christus ervaar die gelowiges wel radikale grenslose genade. Genade wat so groot is dat dit in my vrede bring wat my verstand te bowe gaan.
