“Op Saterdag 22 April is ’n nuwe verbond tussen God en sy kinders in Suid-Afrika gesluit.”
Só sê John van Straten, lidmaat van NG gemeente Alberton-Wes, nadat hy die It’s Time-gebedsbyeenkoms bygewoon het.
Christene regoor Suid-Afrika het in hulle massas gestroom na dié gebedsaamtrek buite Bloemfontein wat deur evangelis Angus Buchan van stapel gestuur is. Volgens ’n persverklaring van Buchan het daar “meer as ’n miljoen” mense saamgebid.
Van Straten sê dit was vir hom bemoedigend dat soveel mense die moeite gedoen het om te kom saambid en só hulle afhanklikheid aan God bevestig het.
Ds Jannie Pelser, leraar by die NG gemeente Rand-en-Dal-Prisma in Krugersdorp beaam dit: “Die feit dat mense van die uithoeke van ons land saamgetrek het sonder om koste en moeite te ontsien ter wille van ons gemeenskaplike toekoms, spreek boekdele.”
Pelser, wat ook self die byeenkoms bygewoon het, sê in die konteks waarin Suid-Afrika homself tans bevind was die saamtrek “’n helder lig van hoop op die horison” en dat kritiek teen die bidbyeenkoms hartseer is.
Maretha Maartens, bekende skrywer en lidmaat van die Andrew Murray-gemeente in Bloemfontein, sê die plaas Wilde-Als, waar die bidbyeenkoms plaasgevind het, was ’n “daklose tempel” wat God self aan sy kerk voorsien het.
Volgens Maartens, wat op die plaas Patmos reg oorkant Wilde-Als woon, het die skare byna twee uur lank lofprysingsliedere gesing sodat hulle “geloofsgenote wat nie deur die verkeer kon kom nie, by hulle kon aansluit.
“Uiteindelik was almal in die tempel sonder dak. Uiteindelik het ons almal saam op die grond op ons knieë gestaan en almal hardop ons baie ongeregtighede bely. My hande is aan weerskante vasgevat in die groot hande van twee mans wat in inheemse Afrika-tale gebid het. Regs van ons was ’n man wat minute tevore vertel het dat hy geen enkele vriend op die aarde het nie.”
Vir Pelser het die duisende jongmense wat hy daar gesien het hom aan die hart gegryp. “Seuns en dogters, jongmanne en meisies, modieus, eietyds en gelowig.”
“Ons het gebid. Dit is waarvoor ons almal daar was. Skuldbelydenis, rou noodroepe en die daaropvolgende blye woorde van hoop en vrede, het ’n totaal verstaanbare gemeenskaplike taal geword,” vertel Maartens.
Anita Carstens, ’n lidmaat van NG gemeente Eldoraigne in Pretoria, sê: “Ek het gegaan om te bid vir my kinders wat op ’n plaas bly met die vreeslike plaasmoorde wat in ons land plaasvind.
“Daar was ’n rustige, ongelooflike atmosfeer en almal het die behoefte gehad om te bid. Groot mans het gehuil. En dan was daar die ongelooflike wind wat uit die bloute oor al die mense gewaai het … sonder enige stof.”
Volgens Van Straten is hy na It’s Time opnuut oortuig dat God in Jesus en die Heilige Gees groot verandering op alle vlakke in ons land gaan meebring.
