Die gronde van die NG gemeente Lydenburg-Suid is nie meer bloot net ’n netjiese kerkterrein nie. Verlede jaar het ’n droom, wat in 2014 reeds gesaai is, ontkiem en gegroei tot ’n reuse-groentetuin.
Dié groentetuin beslaan reeds 1 400 vierkante meter, waarvan 900 vierkante meter onder skadunet is.
Volgens ds Fred Wilson, die enigste voltydse leraar, vorm die groentetuin deel van die ondersteuningsprogram vir hulpbehoewende gesinne wat deur die gemeente en plaaslike Christelike Maatskaplike Raad-tak aangebied word. Die program strek oor drie maande en sluit vaardigheidsontwikkeling in.
“Lydenburg is ’n dorp wat grootliks afhanklik is van die ekonomiese inspuiting van die plaaslike mynbedryf. In die laaste paar jare kry die mynbedryf swaar. Dit het tot gevolg dat toenemend meer gesinne met ’n marginale inkomste of selfs sonder inkomste sukkel,” verduidelik Fred.
“Gesinne wat deur die lewe mishandel en omgegooi is, word finansieel, geestelik en emosioneel ondersteun en gehelp om weer op die been te kom.”
Hy sê verder dat daar op ’n holistiese wyse na die gesin as belangrike komponent van ’n gesonde samelewing gekyk word en dat die herstel van menswaardigheid as die primêre oogmerk van die projek beskou word. As deel van die ondersteuningsprogram word die gesinne nie net van kraakvars groente voorsien nie, maar moet hulle ook inspring en vir ’n uur per week help om die tuin in stand te hou.

Die groentetuin voorsien egter nie net in die voedselbehoefte van gesinne nie, maar woel ook dinamiese energie van ’n ander aard in die gemeente en selfs groter gemeenskap los. Sommiges gee donasies in die vorm van geld, saad, kunsmis en spuitstof. Ander spring in om te help ploeg, grond voor te berei en te plant. Dié met groenvingers kweek derduisende saailinge en gesoute boere bedien met raad.
Lydenburgers het as ’t ware oor die grense wat kultuur en denominasie stel, hande gevat en eienaarskap geneem van ’n grootskaalse projek wat die hele gemeenskap op verskeie vlakke dien. Fred vertel hoe selfs die besighede betrokke is: Van die oorskotgroente word deur restaurante en supermarkte teen markprys aangekoop. Besighede het dus nou toegang tot vars produkte terwyl die inkomste die tuin aan die gang hou.
Een ding is duidelik: Die groenteprojek in die middel van Lydenburg is nie bloot ’n tuin nie, maar ’n sendingveld, ’n plek waar daar oor dieper dinge gesels word en waar mense nie net gee nie, maar ook in die proses veel meer ontvang. Die gemeente het nou van oraloor sigbaar geraak – nie deur woorde en beierende kerkklokke nie, maar deur diensbaarheid. En hulp kom uit die vreemdste oorde.
“Ek en my vrou (Antoinette) het twee tienerseuns en, soos almal weet, is tuinwerk nie iets waarmee tieners hulle sonder dwang ophou nie,” vertel Fred met ’n glimlag. “Ons was aangenaam verras toe ons vir die eerste keer opmerk hoe die seuns fluks saam met vriende in die tuin werk – sonder dat iemand hulle gevra het.”
Vir Fred self het die tuin besonderse betekenis. Hy vertel hoe hy deur die tuin stap as die lewe druk of sommer net om stil te raak na ’n lang dag. “Antoinette, ook ’n leraar, help deeltyds in die gemeente. Ons geniet ons werk in Lydenburg terdeë, maar soms raak ons ook maar moeg. Tussen die groente kry ons nuwe moed, energie en entoesiasme.”
Hier in die pastorietuin kry die gelykenis van die saaier nuwe betekenis. Helpers kan prakties sien hoe die saad wat in vrugbare grond val ontkiem, deur die grond stoot, geil groei en ’n geseënde oes lewer – party dertigvoudig, ander sestig- en nog ander honderdvoudig. Jesus het gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”
Christus het geroep en die gemeenskap van Lydenburg het geluister.
