Die middestadbediening Pen se Volition-terugkoopsentrum in Sunnyside, Pretoria, bied vir meer as ’n honderd arm mense, dikwels mense wat op straat bly, ’n manier om te oorleef deur bruikbare weggooigoed te herwin. NEELS JACKSON het ’n oggend saam met een van dié mense bestee.
Pretorianers ken dit as die koeksisterkruising. Dit is die plek aan die oostekant van die stad waar die N4-snelweg die stad binnekom en waar die een baan van die snelweg met ’n brug oor die ander baan gelei word.
Dit is onder dié brug dat ek om 05:20 vir Bheki Mkombo kry. Dis nog donker, maar die motors stroom reeds die stad in.
Bheki slaap aan die skadukant van die brug se pilaar op ’n ou skuimrubbermatras. As ek sy naam noem, spring hy op, trek vinnig in die donker aan en gryp sy trollie.
Dis een van ’n paar trollies wat Volition van ’n herwinningsmaatskappy gekry het. Bheki was een van die betroubare herwinners en daarom is die trollie vir hom gegee.
Ons stap ’n paar honderd meter langs die pad af tot by die naaste winkelsentrum waar Bheki met van die ondernemings ’n ooreenkoms het. Hy kan hulle rommel herwin, in ruil daarvoor dat hy dit netjies en skoon hou by die vullisdromme.
Stop 1: KFC
Ons begin by die KFC. ’n Veiligheidswag sluit die deur oop na die ruimte waar die vullisdromme staan. Daar kry Bheki ’n groot plastiekdrom vol leë blikkies wat hy in ’n buitengewoon groot swart platsieksak leegmaak. Dis sy eerste vonds van die dag.
Hy tel die paar stukke vullis op wat langs die dromme lê, gooi dit binne-in en stoot die dromme met nie-herwinbare vullis buitentoe. Daar sal die munisipale vullisverwyderaars dit kom leegmaak.
Daarna kom ’n hokkie aan die beurt waar ’n klein bergie leë kartondose lê. Dis eintlik waarop Bheki hom toespits: karton.
Hy gaan soos ’n warrelwind deur die bokse, skeur telkens hoeke oop sodat die karton heeltemal plat gevou kan word. Dan pak hy dit netjies op sy trollie.
Ons gesels terwyl hy werk. In ’n stadium buk hy oor sy trollie en wys vir my sy hande. Daarmee wil hy werk, sê hy. Hy wil nie bedel nie.
Terwyl hy besig is, kom maak Tito ’n draai. Tito is ’n Mosambieker. Hy kan nie Engels praat nie, maar hy en Bheki gesels in Swazi. Bheki het vir Tito van herwinning geleer. Hy noem Tito sy kleinboetie.
’n Paar minute later kom nog ’n jong man verby en knoop ’n geselsie aan. Hy en Bheki deel ’n sigaret, maar hy staan weg as ek ’n foto wil neem.
As dié ou weg is, vertel Bheki dat hy ’n tsotsi is wat steel. Daarom dat hy nie op ’n foto wil wees nie. Hy weet nie hoe hy moet bid dat hierdie jong man regkom nie, vertel Bheki. Hy leer hom nou om blikkies te herwin.
Die vorige oggend, toe ek vir Bheki ontmoet het en gereël het dat ek die dag saam met hom stap, het hy my vertel dat hy as Christen grootgeword het.
Daar was nooit ’n pa in sy lewe nie. Sy biologiese pa het sy ma gelos voordat hy nog gebore is. Aanvanklik het hulle op ’n plaas in die omgewing van Nelspruit gebly. Later is hulle na die township Mangweni toe.
Daar het hy skoolgegaan, maar hulle kon nie skoolgeld betaal nie. Sy ma het ’n besigheid bedryf deur ou klere en lekkers en sigarette te verkoop, maar skelms het al haar goed en geld gesteel.

Na graad 10 is hy uit die skool uit. Hy het op ’n plaas probeer werk, maar dit was moeilik. In 2006 het hy Gauteng toe gekom. Sedertdien was hy een keer terug Nelspruit toe, toe sy ma siek was en gesterf het.
In Gauteng maak hy ’n lewe deur herwinning. Hy sou graag ’n werk wou hê, sê Bheki, maar intussen oorleef hy. Hy hou van herwinning, sê hy.
Teen 06:30 is al die bokse plat en netjies op sy trollie gepak. Hy het gevee en dis skoon, wys hy vir my. Hy is trots op sy deeglikheid.
Nou McDonald’s toe. Dis al lig en almal by McDonald’s ken vir Bheki. Iemand kom sluit die ruimte oop waar die vullishouers staan.
Soos ek verwag het, het Bheki nog niks geëet nie. Ek haal vir ons elkeen ’n appel uit my sak uit en ons eet dit.
By McDonald’s kry Bheki minder karton as by KFC, maar hierdie karton is swaarder, sê hy. En hy word per gewig betaal. R1 per kilogram.
Op pad verby die vulstasie moet ek eers een van Bheki se vriende ontmoet wat daar werk. Dit word ’n patroon van die oggend, die wye vriendekring aan wie ek voorgestel word.
By die Volvo-garage is dit die sekuriteitsman wat die weg vir hom gebaan het om die kartondose daar te herwin. Iemand anders het hom gehelp met geld toe hy honger was. En dan is daar mense soos Tito vir wie Bheki weer help.
Soms groet hy iemand aan die oorkant van die straat by die naam: “Hi Sifiso! Hi Jabula!” Ander kere moet ek die vriende se hand skud en foto’s van hulle en Bheki neem. Wanneer ek vra oor die groot rooi hart agterop sy trollie, antwoord hy met ’n breë glimlag: “Oh, I love people.”
By Nissan kry Bheki vanoggend min bokse, want hy het die vorige middag daar skoongemaak. By Volvo en Honda groei die stapel op sy trollie al groter. By die Caltex-garage se vullisdromme wag ’n netjiese hoop kartondose vir Bheki. Nou word die vrag op sy trollie so groot, dat hy dit moet vasmaak. Eers die kartondose en dan die sak blikkies bo-op.
Jan Mogotsi, die bestuurder by Caltex, sê Bheki doen ’n “great job”. Iemand anders vertel hulle het iemand nodig gehad om skoon te maak ter wille van die higiëne. Bheki doen dit vir hulle.
Van Caltex af is dit in die spits-oggendverkeer opdraand op met Stanza Bopape (vroeër Kerkstraat).
Met ’n volgelaaide trollie (soos met ’n rolstoel) is elke knik, hobbel of sloot in ’n sypaadjie ’n nagmerrie. En die sypaadjies is so dat Bheki liewer die geverfde middelmannetjie van die pad gebruik om sy trollie op te stoot. En waar die middelmannetjie ophou, gebruik hy die draaibaan vir nog ’n honderd meter of wat, totdat daar by ’n sentrum ’n parkeerplek langs die pad is waar hy sy trollie kan trek.
Hier los Bheki sy vol trollie buite en hy gaan stel my voor aan Vincent Correia. Sy winkel, Ellies Pretoria, verkoop DSTV-produkte en ander elektriese ware. Hy glimlag as hy praat oor Bheki en die bokse wat hulle vir hom gee.
’n Ent verder groet ons vir Jason Letley van Biking Accessories. Hulle het al Bheki se trollie reggemaak toe dit nodig was. Ook by hulle kry hy soms bokse.
Bheki sweet met sy swaar trollie die geleidelike bult uit totdat ons by ’n ou huis in Hatfield vir Aka Pride kry. Hy kom oorspronklik van Kameroen af. Bheki verkoop sy blikkies aan Aka, want Aka betaal meer as wat Bheki by Volition sou kry.
Eers moet hulle die blikkies sorteer. Vir die sagte aluminiumblikkies kry hy R9/kg. Vir die ander blikkies net 50c/kg. Vandag se oes lewer altesame R29,30 op. Daarmee gaan koop Bheki koeldrank: ’n halfliter Coke vir my en ’n liter Fanta Orange vir hom. Hy drink dit halfpad en gee die res vir ’n vriend, vir wie hy ook met R3 help. Dis dieselfde tsotsi van vroeër die oggend wat intussen ook ’n klomp blikkies iewers gekry het en dit nou kom inruil.
’n Droom van ’n beter lewe …
By Hatfield se winkels verby word dit afdraand. Plek-plek moet ek draf om by te hou. Kwart voor tien is ons by Volition. Ons het 5 of 6 km agter die rug, vir Bheki was dit met die swaar trollie.
Bheki moet ’n bietjie wag om sy karton in te weeg. Hy laai dit op ’n skaal en deur ’n venstertjie kan ’n mens sien hoeveel weeg dit. Hy het soveel karton dat hy dit in ’n paar bondels moet weeg. Uiteindelik verdien hy R120 vir die dag se karton-oes. Hy is tevrede.
Ek stel vir Bheki voor aan Katleho Ncaphe van die Betesda House of Kindness, nog ’n Pen-projek net langs Volition. Hulle is juis daar om mense soos Bheki te help.
Maar volgens Stephanie Kachelhoffer, bestuurder van Volition, is van die straatmense bang om daar aan te klop. Hulle is bang daar word probeer om hulle te beheer en te manipuleer. Dalk is dit waarom Bheki nog nie by Katleho uitgekom het nie.
Bheki is verras om te hoor Katleho kan hom help om weer ’n ID-dokument te kry. En dat hy daar vir R10 per maand ’n sluitkassie kan huur waar hy sy goed veilig kan bêre.
Op pad Hatfield toe, koop Bheki vir hom ’n vrugtedrankie met alkohol in wat in ’n plastieksakkie verkoop word. Sy dag se werk is klaar. Hy is moeg en gaan nou verder ontspan.
Maar hy dink hoedat hy die volgende week oor twee dae genoeg geld kan afknyp om daardie ID-dokument te betaal.
Ons stap by ’n groot BMW op ’n sypaadjie verby. Bheki vra dat ek van hom ’n foto by die BMW neem. Op 35 droom hy nog van ’n beter lewe.
Ek neem ook ’n portretfoto van hom onder ’n boom waar die lig mooi is. Hy glimlag breed. Sy blink oë en fyn gelaatstrekke maak ’n mooi foto. Hy is ingenome daarmee.
Later koop ek vir ons koeldrank langs die pad. Bheki is woedend omdat die koeldrankverkoper sy prys opgestoot het vir ons.
Kan ek vir ons kos koop? vra ek. Nee, sê Bheki, hy eet net een keer elke twee of drie dae. En hy het gister geëet.
By die winkelsentrum waar ons oggend begin het, vra ek weer. Dalk ’n stukkie hoender en pap, sê hy. Nee, sê hy as ek vra, hy het nog nooit McDonalds geëet nie.
Ek koop vir ons elkeen ’n burger. Bheki eet lekker. Dis vir hom ’n goeie dag. Al wat hy nou nog wil hê, is die versekering dat ek vir hom ’n afdruk van die portretfoto sal maak.
Raak só betrokke
ulle doel by Pen, sê Stephanie Kachelhoffer, bestuurder van die Volition-sentrum, is om mense te help skuif van afhanklikheid na onafhanklikheid.

Bheki, meen sy, is iewers in die middel. Hy het byvoorbeeld nie ’n ID nie, en dit sou hy nodig hê om iewers aansoek te kan doen vir werk. Maar hy het ’n verantwoordelikheidsin, en dit help baie.
Bheki is een van meer as ’n 100 mense wat afval herwin en na hulle toe bring. Van hulle, soos Bheki, kry hulle ware by besighede. Seker 80% van hulle soek egter deur huishoudelike vullisdromme op sypaadjies om iets te kry wat hulle weer kan verkoop.
Hierdie mense probeer oorleef, sê Stephanie. Hulle hou nie jou huis dop of kyk waar hulle kan inbreek nie.
Hoe kan voorstedelike huishoudings hierdie mense help?
Daar is drie dinge wat mense kan doen, sê Stephanie.
Eerstens: Sit die goed wat hy gaan vat, bo-op die asblik neer. Hulle leer baie gou dat hulle dan nie deur die asblik hoef te grawe nie.
Tweedens: Sorteer die herwinbare afval. Plastiek (van die houer waarin jy die druiwe koop tot die sjampoebottel) kom in een sak. Papier en karton kom apart, soos blikkies en soos glas.
Derdens: Spoel die houers uit asseblief, ter wille van die reuk en sodat dit nie bye lok nie.
Pretoriase gemeentes kan ook met Volition hande vat. Hulle werk reeds saam met Stellastraat, Moreletapark en kerksondermure. As lidmate hulle herwinbare afval kerk toe bring, kan Volition dit selfs daar gaan haal as die volumes dit regverdig.
Huishoudings kan ook herwinbare afval na Volition se plek in Vosstraat, Sunnyside, bring. Dit kan geskenk of verkoop word.
- Stephanie Kachelhoffer kan in verband met herwinning by stephanie@pen.org.za gekontak word.
- Enigeen wat straatmense soos Bheki wil help, kan Katleho Ncaphe by katlehon@pen.org.za kontak.
