Elise Bosch, die Bybel-Media-Cordis-Trust-wenner vir haar werk in Hillbrow sedert 1990, moes op Vrydag 21 April haar oorkonde en kontantprys tydens ’n geleentheid in Wellington ontvang het.
Haar plek was egter leeg en Francine van Niekerk, LiG se redakteur, het Elise se prys in ontvangs geneem. Elise skryf al jare maandeliks ’n rubriek vir LiG waarin sy dié swaarkrygemeenskap se stories deel en getuig van hoe LiG-lesers met skenkings haar help om ’n verskil te maak.
“Elise kon nie vandag self hier wees nie, maar sy het ’n e-pos gestuur. Ek deel dit met julle omdat dit iets van haar karakter en die mens wat sy is, sê,” het Francine gesê.
“Ek het ’n vorige e-pos geskryf om te antwoord en te bevestig dat die datum van 21 April vir die Cordis-oorkonde in Wellington my pas. Maar nou …
“Ek is tans die hoofgetuie in ’n saak van ’n klein Hillbrow-dogtertjie wat verkrag is. Die hofsaak is na dié week uitgestel, en ek moet as getuie optree. Dis ’n saak van lewe en dood vir die arme kindjie en my getuienis gaan die verkragter vir baie lank tronk toe laat gaan maar hy het ’n baie goeie regspan wat hom probeer onskuldig kry. Dis ’n stryd …
“Ek voel dis my lewensdoel om daai man te laat wegbêre sodat die meisietjie genesing kan kry.”
Elise het ook in die e-pos gesê sy waardeer die eer báie, maar mishandelde kindertjies moet voor eerbewyse en oorkondes kom.
Elise se prys is spesifiek toegeken vir haar bydrae tot spesiale projek(te) met ’n verbintenis aan Bybel-Media.
Ontvang wat vir jou gegee is (Bybel-Media), ’n boek wat die unieke gawe van die doop prakties verduidelik, word bekroon met die prys vir oorspronklike Afrikaanse Christelike gesinspublikasies. Kleuterpret (Bybel-Media), ’n boek met 24 Bybellesse vir voorskoolse kinders, ontvang die prys vir oorspronklike Afrikaanse Christelike kinderpublikasies.
Die ander pryswenner vir spesiale projekte is ds Koos Kriel, ’n VGK-predikant in Nelspruit en medewerker by Nehemia Bybelinstituut. Hy word bekroon vir sy groot bydrae tot die ontwikkeling en vertaling van studiemateriaal in onder andere Zoeloe en Portugees.
