Die saak oor godsdiens in skole sal na verwagting uiteindelik na die Konstitusionele Hof verwys word. Hy verwag nie dat daar vinnig ’n uitspraak in die saak sal kom nie.
So sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, oor die hofsaak wat op 15 Mei begin.
Die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) het ses skole voor die hof gedaag oor hulle hantering van godsdiens. Hulle wil hê dat die skole verbied word om hulleself Christelike skole te noem, om leerlinge Christelike liedere te laat sing en om Christelike waardes en norme voor te staan.
Claassen sê vir die kerk is dit ’n baie belangrike saak. Die Tussenkerklike Raad van die NG Kerk, die Gereformeerde Kerke en die Hervormde Kerk het dit oorweeg om as vriend van die hof tot die saak toe te tree, maar uiteindelik besluit dit is nie nodig nie. Organisasies soos Fedsas wat wel ’n vriend van die hof is, sal die argumente opper wat die kerke sou wou stel.
Die Grondwet en die Skolewet maak volgens Claassen wel ruimte vir die beoefening van godsdiens by skole. Die skool se beheerliggaam moet dit toepas op ’n manier wat gelykheid vir almal verseker. Dit beteken dat as daar tydens ’n skool se saalopening met ’n Christelike Skriflesing en gebed geopen word, en daar is byvoorbeeld Moslemkinders in die skool, dan moet daar vir hulle ’n soortgelyke geleentheid wees.
Claassen wys ook daarop dat die aanhef van die grondwet lui: “Mag God ons mense beskerm. God seën Afrika.” Die grondwet is dus nie vyandig teenoor godsdiens nie.
Godsdienstige oefeninge moet egter so gedoen word dat dit nie die menswaardigheid van ander mense, die gelykheid van ander godsdiensgroepe of die vryheid van kinders wat nie daaraan wil deelneem nie, in gedrang bring nie.
Skole moet volgens Claassen begrip en verdraagsaamheid kweek, eerder as om een siening rigied af te dwing.
