“Hallo, ek is Siwapiwe.”
So kom sê ’n graadtwee-leerling van die Athlone Skool vir Blindes in Bellville vir dr Frans Moolman (61). Frans is lidmaat van die NG gemeente Hottentots-Holland in Somerset-Wes. Hy is ook die “oë” vir leerders van die Athlone Skool vir Blindes wanneer hulle die eerste keer in die openbaar moet stap. Die afgelope 37 jaar al leer hy laerskoolkinders om onafhanklik in die openbaar te beweeg.
“Siwapiwe stel hom elke Donderdag weer voor, so asof hy bang is ek vergeet sy naam. Of ek vergeet dalk sy les wat vir hom so kosbaar is,” sê Frans.
Vir so ’n les neem Frans elke leerder individueel na die Tygervallei-winkelsentrum. Aanvanklik stap hy voor die blinde kind en “tik” met sy kierie sodat die kind die klank kan volg. “Ek stap agteruit sodat ek hulle goed kan waarneem,” sê hy. “Hulle gebruik die eggo’s om te hoor waar openinge is. Dit klink heeltemal anders as wanneer ek tik naby ’n muur.”
Later, as die leerders gereed is, help Frans hulle verder met “kierievaardigheid”. Die kinders se onafhanklike roete in Tygervallei vereis dat hulle ’n paar plekke aandoen: Pick n Pay waar ’n gratis doughnut wag, Red Square waar ’n konsultant hulle met parfuum bespuit en dan moet hulle onder andere The Body Shop vind.
Frans, wat sy onderrig as mobiliteitspesialis in Birmingham in Engeland ontvang het en later sy meesters- en doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch gedoen het, vertel hy het ’n onafhanklike studie, sowat 17 jaar gelede in Antarktika, oor sintuie gedoen. Hier het hy bevind navorsers, wat in ’n basis 10 m onder die grond (ys) woon, se sintuie word afgestomp.
“Toe besef ek ons moet kinders meer sensoriese blootstelling gee, en so het ek die opleiding by die winkelsentrum begin,” sê Frans.
Hy het ook spesifiek gespesialiseer in die beweging van die jonger kind. “Hoe gouer jy begin, hoe beter die prognose.”
Frans se groot bekommernis is dat hy einde Julie vanjaar aftree. “Die onderwysdepartement van die Wes-Kaap gaan nie die pos weer vul nie. Hy weet ook nie van nog iemand wat hiervoor opgelei is nie. Volgens Frans is daar in Suid-Afrika ’n diploma by die gidshondverening, maar die fokus val op volwassenes. Dit is baie gespesialiseerd om met kleiner kinders te werk, verduidelik hy.
Hy vertel van klein Kea Reynolds en Jordan Daniels, ook graad 2’s, vir wie hy nog net tot voor kierievaardigheid opgelei het. Klein Kea dans terwyl sy deur die winkelsentrum stap en sing “Dapper muis” terwyl sy die tik-geluid volg, sê Frans laggend.
“Vir baie van hierdie kinders is die les in die winkelsentrum hulle enigste blootstelling aan die buitewêreld. Die doughnut die enigste soetding wat hulle die hele week kry.
“Ek kan nie vir hulle twee of vir Siwapiwe sê hulle lessies het uitgeloop nie!”
Frans worstel al baie lank met die feit dat hy moet aftree. “Maar Dinsdag het ek geweet die tyd is eintlik reg. Die oggend het ek oudergewoonte ’n dagstukkie gelees. Dié keer was dit oor Matteus 14:9. Oor hoe jy moet teruggee vir die Here sodat hy dit kan vermeerder.”
– Indien daar gemeentes, individue of organisasies is wat met Frans wil gesels oor ’n manier om hierdie werk te laat voortgaan, kan hulle hom kontak by fmoolman@asftb.org.za
