Anton Steenkamp (24) boer met vlieë. Dis deel van ’n verhaal waarin geloof, vindingrykheid en die nood van die wêreld belangrike elemente is. NICO SMIT vertel die storie.
Anton Steenkamp is ’n meganiese ingenieur. Hy werk by die WNNR en is lidmaat van die NG gemeente Primrose-Oos. In 2014 is hy as top-ingenieurstudent in die land aangewys. Ook geen wonder nie want in sy vier jaar van studie het hy 49 onderskeidings uit ’n moontlike 50 behaal.
Een van die redes waarom hy ingenieurswese as studierigting gekies het, vertel Anton, is omdat volhoubare ontwikkeling naby aan sy hart is.
’n Jaar of wat gelede sien hy ’n dokumentêre program op TV waarin daar gesê word dat ongeveer ’n derde van alle voedsel wat elke jaar geproduseer word, uiteindelik vermors word. Wêreldwyd is dit meer as 1,3 miljard ton kos per jaar wat verlore gaan.
Dit het Anton met vrae gelaat, veral as ’n mens in ag neem dat al die vermorste kos genoeg is om hongersnood regoor die wêreld uit te wis.
Hongersnood is ’n groeiende probleem met die wêreldbevolking wat vinnig vermeerder. Daar word beraam dat daar teen die jaar 2050 tussen 9 en 10 miljard mense op aarde sal wees. Om hulle almal kos te gee, moet voedselproduksie met tussen 50% en 100% toeneem, en dit te midde van ’n tekort aan veral bewerkbare grond en genoeg water.
Kenners meen ons sou omtrent vier aardes nodig hê om 10 miljard mense te onderhou.
Verteenwoordigers
As gelowige ingenieur gaan dit vir Anton oor die bewaring van die kosmos. Dit wat God aan die mens gegee het om te bewaar. Genesis 1:26 is gedurig in sy gedagtes: “Toe het God gesê: ‘Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld …’”
Hy verduidelik dat as ons die beeld van God is en ook sy verteenwoordigers is, dan moet ons sorg dat ons die aarde wat aan ons geskenk is, bewaar en volhoubaar bestuur.
Anton het begin soek na antwoorde en in die proses bewus geword van venstervliegies (Hermetia illucens; in Engels: black soldier flies). Die vlieë is inheems aan Noord-Amerika, maar kom ook voor in die meeste tropiese gebiede regoor die wêreld. Hulle is ook al in KwaZulu-Natal opgemerk.
Dit is iets heeltemal anders as gewone huisvlieë. Die vlieë is ook nie draers van enige siektes nie.
Die naam “venstervliegies” is blykbaar te danke aan dié insekte se liefde en voorkeur vir sonlig. Hulle voorkoms kan ’n mens dalk laat dink aan ’n soort perdeby, maar venstervliegies is totaal skadeloos. Hulle lyk maar net soos perdebye om potensiële vyande te bluf en hulleself sodoende te beskerm.
Anton het gou besef watter groot potensiaal hierdie vlieë inhou. Aan die een kant kan hulle afvalkos wegwerk. Aan die ander kant is die larwes self ’n goeie voedselbron. Toe stig hy die maatskappy Novico (Edms) Bpk om met dié vlieë te begin boer.

Die eerste probleem was om van die larwes in die hande te kry. Hulle is nie vrylik in Suid-Afrika beskikbaar nie. Na ’n soektog wat ’n aantal weke geduur het, het Anton uiteindelik van die larwes gevind en in ’n klein kategeseklaskamer by die NG gemeente Lynnwoodrif het die projek volstoom begin.
Anton het egter gou besef dat die proses nie so eenvoudig is soos wat hy gedink het nie en het hulp gesoek vanaf verskeie bronne, selfs by universiteite.
Met die ondersteuning van sy ouers, mededirekteurs, vriende – en die leiding van God, sê hy – het hy na verskeie maande die proses genoegsaam verstaan om larwes konstant te lewer. Intussen het Novico vinnig begin uitbrei en moes ’n nuwe, groter fasiliteit gesoek word om die infrastruktuur en kapasiteit te handhaaf. Tans is Novico in Germiston gebaseer.
Só werk dit
Die vlieë bly in ’n kamer met baie sonlig. Hulle het net monddele om mee water te drink en eet glad nie tydens hulle kort lewensiklus nie.
Dan paar die vlieë vir tussen 6 en 10 dae lank, en hulle begin eiers lê. Elke vlieg kan tussen 600 en 1 000 eiers lê.
Wanneer die eiertjies uitbroei, is die larwes bitter klein: minder as 1 millimeter in lengte en 0,023 milligram in gewig. Binne twee weke kan die larwe egter meer as 7 000 keer in massa toeneem, tot ’n tipiese gewig van 220 milligram. Dit kan gebeur omdat hulle tot twee keer hulle eie gewig in kos kan eet.
Die grootste voordeel van hierdie larwes is dat hulle die meeste organiese afval kan verwerk en wegwerk. Vir elke 100 kilogram se voedselafval wat hulle opvreet, kan 20 kilogram se larwes geoes word.
Novico kry weekliks van talle restaurante al hulle afvalkos en dit word dan deur dié larwes verwerk. Na die verwerking van al hierdie afvalkos (selfs riool kan verwerk word), bevat dit 43% proteïne en 33% olies per kilogram droë massa. Dit bied ’n verteerbare ekwivalent van vismeel en daarom maak dit van die larwe ’n uitstekende voedingsbron.
Deur die proses word afval verwerk en dit kan die wêreld se besoedeling drasties verlaag. Die proses is ’n siklus wat oor-en-oor kan plaasvind. Die larwes is ook uiters skoon. Daar is selfs al bevind dat dit oorsake van siektes, soos cholera, in kosafval verlaag.
Kos vir diere
Die larwes word in hierdie stadium verwerk in voedsel vir plaasdiere en selfs in hondekos. Dit bevat goeie voedingswaarde en is al getoets as ’n plaasvervanger vir vismeel, wat beskou word as die beste voer in die wêreld. Die oseane word egter op hede oorbevis, wat lei tot verskeie omgewingsprobleme om nie eens die koste-aspek daarvan in berekening te neem nie.
Die gedagte is om dit ook in die toekoms tot voedsel vir mense te verwerk.

Hoewel die meeste mense dink dat insekte grillerig is en iets is om te vermy, wys Anton daarop dat meer as 2 miljard mense wêreldwyd reeds insekte eet. Daar is selfs ’n woord daarvoor: entovoedsel.
Insekte het oor die algemeen die voordeel dat hulle baie minder hulpbronne benodig om dieselfde voedingswaarde te produseer as tradisionele pluimvee of ander vleis.
Om een kilogram beesvleis te produseer, kan kiloliters water verg, sowel as baie spasie en weiding. Insekte daarteenoor benodig slegs ’n paar liter water en ’n paar vierkante-sentimeter om dieselfde hoeveelheid proteïene te produseer.
Dit is ook bewys dat baie min mense allergies vir insekte is – wat een van die redes is waarom dit ’n baie aantreklike voedingsbron is.
Baie diere, veral pluimvee, is vatbaar vir kalsiumtekorte wat kan lei tot probleme soos bene wat maklik breek, sterfte van kleintjies, probleme met eierkwaliteit en gebreklike snawels.
Die venstervlieg se larwe bevat sowat 3% kalsium wat meer as genoeg is om sulke probleme te voorkom. Die konsentrasievlakke is 150 keer meer as die gerapporteerde vlakke in enige ander insek. Dit is selfs beter as krieke en meelwurms wat veral populêr is by mense wat reptiele aanhou. Dit bevat ook alle belangrike vitamiene en minerale. Die gebruik van die larwes in voer is al deeglik nagevors en studies bewys dat diere daarop kan floreer. Dit maak sin aangesien baie van die diere insekte in die natuur sou hê as deel van hulle dieet.
Novico verkoop tans die larwes lewendig en gedroog in verskeie markte.
Opleiding
Mense uit informele nedersettings word ook opgelei om met hulle eie vlieë te boer en sodoende hulle afval te verwerk. As dit goed op dreef kan kom, kan dit werk verskaf, armoede bekamp, onhigiëniese afval wegwerk en kos voorsien.
Dié projek is egter nog in die beginfase. Mense is baie skepties oor die vlieë.
Daar word beoog om ook ander produkte met ’n hoë waarde uit die larwes te oes, soos lauriensuur en chitien wat beide verskeie medisinale en ander toepassings het.
Anton raak stil as hy dink oor die proses om te kom waar Novico tans is. Hy sê dat dit nie oornag gebeur hwt nie en dat sy eksperimentering ’n klomp kere nie ’n sukses was nie. Hy sê ook dat die veld so nuut is, dat dié wat wel daarmee werk, nie eintlik hulle kennis wil deel nie. Met deursettingsvermoë en genade van Bo is enigiets egter moontlik.
Tans beskik Novico oor die infrastruktuur om tot 2,5 ton kosafval per maand te verwerk en tot 500 kilogram larwes te produseer.
Anton wil sien dat Novico oor drie jaar gegroei het tot ’n reusemaatskappy wat nie net werk skep nie, maar ook in die wêreld ’n verskil maak. Die span wat die projek aan die gang hou is tans klein, en bestaan uit twee ingenieurs, een geoktrooieerde rekenmeester en twee mense wat nie werk gehad het nie, wat nou ’n inkomste verdien.
Hy verduidelik dat hy deur Novico die kwaliteit van lewe wil verbeter, nie net vir mense nie, maar vir alle lewende organismes. Anton meen dat God reeds vir die mens die beste sisteme ter wêreld gegee het, die mens moet dit net ontdek én implementeer.
Meer as voedsel, glo Anton en sy mededirekteurs dat die wêreld Jesus se onvoorwaardelike liefde nodig het. Daarom is Novico se visie om na die Here se skepping om te sien deur prosesse te ontwikkel wat “groen” is, minder skade aanrig aan die aarde, en ook dat die mens deur doeltreffende metodes die geleentheid kry om God se skepping te bewaar.
Die doel is dan om die wins van die verskeie projekte te gebruik om die evangelie uit te dra en maatskaplike ontwikkelingsprojekte te finansier.
– Indien enigiemand voel dat die Here hulle lei om betrokke te raak by die projek, kan hulle Anton Steenkamp by anton.novico@gmail.com kontak.
Venstervlieë …
- Volwassenes lewe kort, net 6 tot 10 dae.
- Hulle is vrugbaar, lê tot 1 000 eiers per vlieg.
- Larwes groei vinnig, word volwasse binne 12 tot 18 dae.
- Venstervlieë dra nie siektes oor nie.
- Hulle is nie peste wat byt of steek nie.
- Die volwassenes eet nie.
- Larwes is voedsaam aan proteïene en kalsium.
