Andrew Murray sou baie bly gewees het dat die fokus op missionale spiritualiteit val.
So het dr Breda Ludik, predikant van die NG gemeente Helderberg, op 9 Mei (Murray se geboortedag) by die Hugenote Kollege op Wellington gesê. Die geleentheid was die eerste Andrew Murray-gedenkgesprek wat saamval met die 100-jarige herdenking van dié kerkman se dood. Die gedenkgesprek sal voortaan jaarliks gehou word.
Dr Len Hansen, direkteur van navorsing van die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch, het gesê Murray kan ’n gids wees “op die pad van herontdekking” van moontlik vergete elemente van ons eie spiritualiteit.
Volgens Hansen gaan spiritualiteit nie nét oor ervarings nie. Hy het ook gesê dat daar verskillende vorme van spiritualiteit is. “Mense se ervarings van spiritualiteit verskil, maar daar is ook raakpunte.”
Hansen sê dat mistieke spiritualiteit, byvoorbeeld, vir hom sin maak en dat hy God ontmoet in die alledaagse lewe.
Ludik het gewaarsku dat daar ’n missionaliteit met gebrekkige spiritualiteit is en dat ’n mens hier vir ’n eie agenda en gebrekkige teologie versigtig moet wees. Dan is daar weer ’n spiritualiteit met ’n gebrekkige missionaliteit waar dit net oor die individu gaan “wat rus in God” en daar word nie uitgereik nie.
Volgens hom kan missionaliteit nie sonder spiritualiteit bestaan nie en andersom.
Ds Marié Britz, leraar by die Moedergemeente in Stellenbosch, het gesê retraites, stilte en afsondering is die ruimte wat egte en eerlike ontmoetings met God vir haar moontlik gemaak het.
“Geloofsgewoontes is praktyke wat my daagliks help in my eie leef met die Here. In my bediening as predikant is stilte en afsondering ruimtes wat ek ook probeer skep waarin mense God kan ontmoet en probeer ek mense aanmoedig en begelei om geloofsgewoontes te beoefen in hulle eie reis met God. Dit is nie alleen kennis van God wat ons verander nie, maar die ken van God wat ons dikwels leer in die gebruik van geloofsgewoontes.”
“Wat is gereformeerde spiritualiteit?” het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, tydens geleentheid vir oop gesprek gevra.
Die toets van wat ons ervaar bly die Woord, Christus self en die gemeenskap van die heiliges, het Hansen geantwoord.
Wat betref ervarings met God is daar nie altyd “kitsklaar-antwoorde” nie, het Ludik gesê. “Geloofonderskeiding is uiters belangrik. Ons moet die ervarings met die geloofgemeenskap toets,” het hy gesê.
Britz sê die NG Kerk het “goeie kos” (goeie teologie) op die tafel, maar die kerk moet skeplepels kry om spiritualiteit ten volle te kan ontdek. Sy verduidelik dié skeplepels is die maniere om mense te help om hierdie “voedsel” te eet, te geniet en dit te verteer en dat spiritualiteitsbeoefening juis hiermee wil help.
“Ek is opgewonde dat die nuwe Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit gaan help om dié skeplepels te ontdek.”
