A re bale is ’n program wat kleuter- en laerskoolkinders leer lees. By Kameeldrif, noordoos van Pretoria, is dit egter ook veel meer. Dis ’n progam wat lewens verander, wat toekoms skep, wat in ’n stukkende land help om heel te maak. NEELS JACKSON vertel.
Monica Hammes het ’n goeie loopbaan gehad en as adjunk-direkteur van die Universiteit van Pretoria se biblioteekdiens afgetree. In daardie tyd was sy by baie betekenisvolle projekte betrokke, vertel sy.
Maar wat sy nou doen, dink sy, is “van die beste werk wat ek in my lewe gedoen het”.

Wanneer sy dit sê, staan sy in ’n klaskamer van die Leeuwfontein Primary Farm School. Rondom haar sit die graad 3’s, ’n klomp van hulle uit ’n brandarm plakkeromgewing, agter rekenaars. Hier leer hulle om te lees en somme te doen.
Om die volle betekenis van Monica se woorde te verstaan, moet ’n mens byna tien jaar ver teruggaan in die geskiedenis van die NG gemeente Kameeldrif, waar sy lidmaat is.
Destyds het die omgewing van Kameeldrif en die Roodeplaatdam gebuk gegaan onder ’n vlaag van misdaad. Daar was moorde en die ontsteltenis in die gemeenskap het hoog geloop.
Hoe baklei ’n gemeente van Christus teen so iets?
Kameeldrif het die evangelie van Christus gevolg en geantwoord met die sterkste krag tot gelowiges se beskikking: die liefde. Hulle het besef armoede is ’n teelaarde van misdaad en het besluit om hierdie probleem op ’n konstruktiewe wyse aan te pak.
Daarom het hulle Kamcare gestig, ’n nie-winsgewende organisasie wat vir die gemeenskap sou omgee en lief wees, vertel Liezel Landman, die maatskaplike werker aan die stuur van sake by Kamcare. Hulle het drie woorde gekies om hulle aksies te rig: sorg, oplei, ontwikkel.
Daardeur wou hulle vir die arm kinders van die plakkerbuurt wat op Plot 175 ontstaan het, nuwe lewensmoontlikhede oopmaak. Hulle wou ’n alternatiewe werklikheid skep as een van misdaad en geweld, een waar verskillende gemeenskappe in vyandskap en wantroue met mekaar leef.
In een van die projekte het hulle hande gevat met die roei-akademie by die Roodeplaatdam. Kinders wat andersins net sou leeglê, het by ’n sport betrokke geraak. Van hulle het goed gedoen, selfs Suid-Afrikaanse kampioene geword.
Maar die belangrikste is dat daar iets in dié kinders se koppe geswaai het. Soos een seun dit gestel het: Vroeër sou hy in die plakkerbuurt rondgedrentel het en gewonder het wat hy kan gaan steel. Nou droom hy daarvan om ’n Olimpiese kampioen te word.
Die kinders is ook op ander maniere ondersteun. Vrywilligers soos Monica het hulle gehelp met hulle huiswerk. Maar dit het gesukkel. Ondanks al die hulp, het die kinders steeds op skool gedruip.
Die grondslae vir ’n suksesvolle skoolloopbaan was eenvoudig nie daar nie. ’n Elfjarige kind sou byvoorbeeld die leesvermoë hê wat ’n mens van ’n vyfjarige sou verwag.
Hule het besef hulle moet vroeër met die kinders begin werk. Hulle moet die basiese bousteentjies van die begin af reg lê sodat die kinders ’n fondament het waarop hulle kan voortbou.
En daardie fondamente kry hulle nie in die armoede van ’n plakkersbuurt soos Plot 175 nie. Daar is nie elektrisiteit nie. Die kinders het geen blootstelling aan iets soos TV nie. En dit beteken dat hulle nie blootstelling kry aan Engels nie.
Monica vertel dat sy gelees het van ’n leesprojek van die Pretoriase middestadbediening Pen en dat sy daarna gaan kyk het. Daar het sy kontak gemaak met die Click-stigting wat die rekenaargebaseerde leesprogram Reading Eggs gratis beskikbaar stel aan organisasies wat leesprojekte bedryf.
Hulle het hande gevat met die stigting en in Maart 2014 begin met die leesprojek A re bale (Kom ons lees) by die Kameeldrif Early Learning Centre. Dit is ’n kleuterskool wat die Christelike Maatskaplike Raad vroeër in die plakkerbuurt van Plot 175 begin het.
Later het dit uitgebrei na Leeuwfontein waar al die leerlinge in graad een tot graad drie nou al betrek word.
Die leesprogram is ook aangevul met Math Seed, ’n susterprogram van Reading Eggs wat syfervaardigheid ontwikkel.
Aanvanklik het hulle begin met drie skootrekenaars en rooi plastiektafels by die kleuterskool in Plot 175. Mettertyd het daar “van hier en van daar” nog rekenaars deur skenkings bygekom.
Nou werk hulle met sowat 30 skootrekenaars, maar daar is nog ’n paar nodig, want die kinders gaan meer word en die klasse groter.
Omdat die rekenaars nie met veiligheid by die skool of die kleuterskool gelos kan word nie, word dit elke dag aangery.
As die kinders in die klas inkom, gaan sit elkeen by sy of haar rekenaar, en sit die stel oorfone op wat met die rekenaar gekoppel is. Dan werk elkeen op sy of haar eie tempo deur die lessies van die Reading Eggs-program op die rekenaar. ’n Karaktertjie (dit kan ’n mier of ’n kat of enigiets anders wees) in die program gee opdragte en die kind moet dit uitvoer.
Voordat iemand van die een les na die ander kan oorgaan, moet hy of sy eers ’n toets slaag wat hulle op die rekenaar aflê. Elke kind vorder daarom teen sy of haar eie tempo. Daarom is almal besig met verskillende lessies. Die een s’n gaan oor die weer, oor reën en wind wat waai en so aan. ’n Ander s’n gaan oor klere, langbroeke en truie en dies meer. Nog een is besig met verskillende soorte diere.
Terwyl hulle besig is, is vier fasiliteerders byderhand om te help waar hulle vashaak. Monica is een van die fasiliteerders. Die ander is Jaqueline Mashitisho, Johan Bisschoff en Koos Kheswa.

Wasgoedpennetjies word bo teen die skerm van die rekenaar vasgeknip as teken van waar ’n kind trek as hy of sy deur ’n les werk. Wanneer ’n stuk werk suksesvol afgehandel is, dan klap die kind en ’n fasiliteerder se hande in ’n high 5 teen mekaar. Breë glimlagte getuig van die vreugde van sukses.
Deurentyd is die fasiliteerders besig om dop te hou, te ondersteun, aan te moedig.
Omdat elke kind op sy of haar eie deur die program werk, is daar nie kans om weg te kruip of agter ander te skuil nie. Elkeen moet selfstandig deur die werk kom.
Elke kind kry twee halfuurlesse per week in leesvaardighede en nog twee halfuurlesse in syfervaardighede. Die fasiliteerders hanteer agt sulke halfuurlesse per dag, drie dae elke week om al die kinders tussen graad 1 en graad 3 in Leeuwfontein kans te gee.
By die kleuterskool in Plot 175 hanteer Jacqueline die kinders die ander twee dae van die week.
Oor die vordering wat die kinders maak, is daar geen twyfel nie.
Lilly Ledwaba, die hoof van die kleuterskool, sê sy sien byvoorbeeld hoe ontwikkel kinders se kleinspierbeheer, hoe hulle middellynkruising verbeter en hoe die hand-oog-koördinasie vooruit gaan.
En as dié kleuterskool se kinders skool toe gaan, doen hulle goed daar, sê hy. Hulle is skoolgereed.
Johan Bisschoff sê hulle sien dramatiese vordering. As die kinders in graad 1 by hulle aankom, kan van hulle nie eens ’n muis vashou nie. Die kinders wat by die kleuterskool was, het ’n duidelike voorsprong bo die res.
Daar kom kinders aan wat nie die syfers van 1 tot 6 kan identifiseer nie. Hulle weet nie wat is die verskil tussen ’n 2 en ’n 4 nie. En hulle kom daar aan sonder enige Engelse vaardigheid.
Dan speel Koos en Jacqueline ’n belangrike rol omdat hulle in die kinders se moedertaal met hulle kan praat.
Kinders wat met sulke swak vaardighede in graad 1 by hulle aangekom het, trek nou in die middel van graad 3, vertel Johan. Nou kan hulle al eenvoudige Engelse boeke lees, inhoudsvrae daaroor beantwoord en 80% van die antwoorde reg hê.
Margaret Kabinde, hoof van Leeuwfontein, glimlag ook breed oor die positiewe gevolge van die leesprogram. Sy sê hulle sien groot verskille in ander klasse vandat die kinders deur dié programme werk.
En dis nie net die kinders vir wie daar in die proses nuwe lewensmoontlikhede oopgaan nie.
Ook Koos Kheswa het nuwe drome begin droom. Die 25-jarige Koos was self ’n leerling van Leeuwfontein. Na skool het hy ’n rekenaarkursus gedoen en die afgelope twee jaar is hy ’n fasiliteerder by Kamcare se leesprogram.
Maar die kontak met die kinders en die vreugde wat hy uit die werk put, het hom nou laat dink dat hy ’n onderwyser wil word.
Gesels ’n mens met Monica oor haar betrokkenheid, sê sy daar is drie oorwegings wat haar noop om betrokke te wees.
Die eerste is dat sy sterk glo aan die idee van vrywilligerswerk. In Australië het sy gesien dat die meeste mense ná hulle aftrede iewers as vrywilligers werk.
Die tweede oorweging is die onderwyskrisis in Suid-Afrika. Enigeen wat iewers ’n verskil kan maak, behoort dit te doen, sê sy.

Derdens is dit vir haar as Christen belangrik om ’n gewer te wees. Hulle praat nie godsdiens met die kinders nie, sê sy. Die graad 3’s kry wel aan die einde van die jaar elkeen ’n mooi Kinderbybel met Bybelstories wat oorvertel word deur aartsbiskop Desmond Tutu.
Maar hulle gee van hulleself en hulle maak ’n verskil.
Wat hulle daar reggekry het, sê Monica, wys dat dit gedoen kan word. Sy meen in elke gemeente behoort daar mense te wees wat so iets kan doen.
En as mense nie weet waar om te begin nie, is hulle welkom om by Kamcare te kom kers opsteek.
Luister ’n mens so na haar, dan kom Jesus se woorde in Matteus 16:25 by jou op: “Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry”.
Want Monica se woorde oor die beste werk wat sy in haar lewe gedoen het, is op ’n manier ’n refrein wat ’n mens oor en oor hoor by mense wat van hulle eie tyd en energie gee om ander te help.
Die getuienis klink telkens op: Daar is min dinge wat die lewe so sinvol maak, as om regtig ’n betekenisvolle verskil in iemand anders se lewe te maak.
– Maak gerus kontak met Monica Hammes by hammes.monica@gmail.com of met Liezel Landman by liezel@kamcare.org. Lees meer by www.kamcare.org of rekameeldrif.wordpress.com
