Om leierskap binne ’n kerklike omgewing uit te oefen, is ’n groot voorreg en komplekse uitdaging. Dit is ook ’n omstrede saak, met verskillende mense wat verskillende verwagtinge van leiers het, en mense in leiersposisies wat verskillende sieninge het oor die rol wat hulle moet speel. Kerkbode het vir prof Piet Naudé gevra om lig op die saak te werp. Hy onderskei vier elemente van leierskap wat hy meen van waarde kan wees.
1. Visie
Leiers sonder ’n inspirerende visie val vas in daaglikse rompslomp wat hulle vreeslik besig kan hou, maar hulle verloor die vermoë om die groter prentjie te sien. Hulle sukkel om hul volgelinge met passie en hoop te vervul.
Teologies gesproke ontwerp leiers in die kerklike omgewing nie ’n visie vanuit hul eie kreatiwiteit nie. Nee, die kerk ontvang ’n visie van God soos ons sy wil uit die Bybel leer ken. Leiers sonder eskatologie – uitsig op die vaste grond en koms van God se koninkryk – is innerlik dood.
Aan die een kant ontvang ons die koninkryk as ’n geskenk wat reeds in Christus vasgemaak is. Aan die ander kant inspireer hierdie geskenk ons om ons kerklike en sosiale werklikheid algaande te omvorm na die beeld van Christus.
Hierdie omvormingswerk het ’n uiters belangrike kerklike implikasie: Die volk en huisgesin van God is die eerste vrugte van die koninkryk. Hier moet die vrederyk, die “peacable kingdom” van Jesaja gestalte kry. Sodat die wêreld kan glo.
2. Waardes
Waar visie die groot prent is waarbinne ons werk en wat ons na vore trek, is waardes die grondbeginsels wat ons institusionele kultuur en persoonlike gedrag bepaal.
Hierdie is nie so ’n eenvoudige saak nie.
Die waardes van die evangelie is uiters uitdagend en ondermyn soms ons gewaande sekerhede en sosiale konvensies. Hulle kom dikwels in botsing met mooi-klinkende sekulêre waardes.
Neem byvoorbeeld die waarde van die reg op lewe soos in ons grondwet vervat: Die evangelie praat dat as jy jou lewe wil behou, jy dit moet weggee. En niemand het groter liefde as om haar lewe vir haar naaste af te lê nie. Vryheid van spraak en gewete is ’n goeie algemene waarde binne ’n demokratiese bestel. Maar die spreek- en spelreëls van die evangelie bind ons in. ’n Kerklike leier is gebonde aan die geloofreëls van die kerk soos vervat in ons verstaan van die Bybel en belydenisse. Gewetensvryheid kom vir ons juis in die verbondenheid aan die Skrifte.
Waar ons by tye verskil, moet ons mekaar so ver moontlik vashou en onderskei tussen waardes wat die evangelie op die spel plaas, en waardes wat oor tyd verander.
3. Selfleierskap
’n Mens kan moeilik as leier optree as jy nie goeie self-kennis het en jouself so bestuur dat daar genoeg fisiese en emosionele energie oorbly om ander te lei nie.
Nou het ons reeds by ons goeie geloofsvader, Calvyn, geleer dat egte selfkennis nie die resultaat van psigo-analise of coaching is nie. Nee, ons ontdek algaande wie ons is in die teenwoordigheid van God. Die evangelie is die spieël van ware selfontdekking. Wie diep inkyk in die geheimenisse van God het ’n goeie kans om selfgeheime te ontrafel.
Maar dan moet kerkleiers hulleself – soos Jesus – gereeld “terugtrek in eensame plekke” om te bid. Die druk van die skares laat ons adrenalien pomp. Maar die noodsaaklike en voortdurende hervisionering en rus in die Here vind plaas as leiers die Sabbat vir hul persoonlike lewe ernstig neem.
In die kenniswêreld van vandag, impliseer selfleierskap lewenslange leer. Teologie is nie bloot ’n historiese dissipline wat jy eens op ’n tyd onder die knie gekry het nie. Dit is ’n lewende wetenskap wat steeds nuwe insigte op ons verstaan van die evangelie en die snel-veranderende wêreld waarin ons leef, bied. Wie ophou lees en luister en deelneem, raak afgestomp en gedateer. Die beste preekstof kom uit goeie dogmatiek.
4. Situasie
Daar is nie iets soos ’n standaard-leierskapsteorie wat vir alle omstandighede geld nie. Die kuns van leierskap is om – soos die evangelie sê – die tekens van die tye te lees sodat jy die dinge waarop dit werklik aankom kan onderskei. En dan reageer jy met die soort leierskap wat gepas is vir die omstandighede.
Hiervoor is vervulling met die Heilige Gees ’n voorwaarde. Dis die Gees wat die dieptes van God ondersoek en aan ons bekend maak. Dis die Gees wat ons ’n buitengewone vermoë gee om die situasie te lees en te weet wat nou vereis word.
Soms verg leierskap stille pastorale teenwoordigheid omdat die situasie innige meelewing vereis. Soms verg leierskap helder en wyse lering, sodat dwaasheid en dwaling bestry kan word. Soms verg leierskap profetiese protes omdat onreg en uitbuiting seëvier. Soms verg leierskap om voor te loop en die rigting duidelik aan te dui omdat mense verward is. Ander kere mag leierskap verg om agter by mense te vertoef, sodat hulle kan leer om jou te vertrou.
Ten slotte, ons persoonlikhede en gawes verskil. Dis tot die kerk se voordeel. Wysheid – die uitstaande kenmerk van leierskap – het sy oorsprong by diegene wat nie in die kring van oppervlakkige, post-waarheid-dwaasheid vasgevang is nie, maar die wet van die Here dag en nag oordink.
▶ Prof Piet Naudé is direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool.
– Neem gerus deel aan ’n gesprek oor leierskap in die kerk deur ’n brief van hoogstens 300 woorde aan Kerkbode te rig.
