Elizabeth Gumede is in haar noppies met haar nuwe Bybel. In ’n saal van ’n gemeenskapsentrum in Olievenhoutbosch in Centurion is sy een van 58 bejaardes wat elkeen ’n eie Bybel ontvang het, een van ’n groep wat, Bybels in die hand, op spontane Afrika-wyse hulle lof aan die Here uitsing.
Maar agter hierdie vreugde lê ’n verhaal van netwerke, van hande vat en saamwerk, om dit alles moontlik te maak.
Lindie Strydom, lidmaat van die NG gemeente kerksondermure in Centurion, vertel dat sy as projekorganiseerder van die Pretoriase radiostasie GROOTfm gereeld met ’n verskeidenheid van kerke en ander instansies skakel.
“Ek is ’n connector,” sê sy. Sy bring mense bymekaar uit wat mekaar kan help. As sulke groepe by mekaar aansluiting vind en saamwerk, is dit die verskillende dele van die Liggaam van Christus wat saamwerk. Dis hoe dit moet gebeur.
Een van die instansies met wie sy oor jare so ’n samewerkingsverhouding opgebou het, is die Centurion Raad vir Bejaardes. Die raad, sê die direkteur, dr Elma Krüger, is self ’n produk van samewerking tussen die NG Kerk, die Apostoliese Geloofsending en die plaaslike owerheid. Hulle het die raad in die lewe geroep om bejaardes in die gemeenskap te ondersteun. Die raad wil bejaardes help om so lank moontlik in die gemeenskap self te bly en te funksioneer.
Die ondersteuning wat hulle bied, wissel van kos tot hare- en voetsorg, van stimulerende byeenkomste en aktiwiteite tot geestelike byeenkomste soos Bybelstudies.
Toe Lindie vir Elma vra of daar enige spesifieke behoeftes aan hulle kant is, was die antwoord dat die bejaardes van Olievenhoutbosch Bybels nodig het.
Lindie het dié versoek aan kerksondermure oorgedra. Hulle het die Bybelgenootskap gekontak, borge is betrek en so, deurdat verskeie groepe hande gevat het om saam te werk, kon Olievenhoutbosch se bejaardes in die week van Hemelvaart elkeen ’n nuwe Bybel kry.
Vir Instansies soos die Centurion Raad van Bejaardes is sulke samewerking onontbeerlik. Vroeër kon hulle op finansiële ondersteuning deur die staat vertrou, maar dit, sê Elma, het teen 2004 al duidelik geword dat dit nie vir lank ’n betroubare bron van inkomste sal wees nie.
Vir die 67-jarige Elizabeth het dit beteken sy het nou ’n Bybel. Daar was nie meer een by haar huis nie. Ja, dis ’n Engelse Bybel en sy kan nie so goed Engels lees nie, maar die kinders sal haar help.
Dit danksy die samewerking van die verskillende dele van die Liggaam van Christus.
