Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Thinus Prinsloo van Carolina by ’n bosbokooi en haar lam­metjie in Letaba, die ruskamp van die Krugerwildtuin waar die predikantekonferensie gehou is. Foto's: Neels Jackson

Jesus regeer nou as Ko­ning – deur fluistering

Die Oostelike Sinode se jaarlikse predikantekonfe­rensie in die Krugerwildtuin het vanjaar as tema gehad: “Ons het ons misgis met Jesus”. Ds Gys van Schoor van die Sentrum vir Geloofsvorming was aan die woord. NEELS JACKSON berig.


“Gaan mors 15 minute saam met die Here aan die hand van die teks.”

Met dié woorde stuur Gys van Schoor die predikante op die derde oggend van die predikantekonferensie uit om ’n kwartier lank te gaan stil word aan die hand van Matteus 11:28-30. Dit is die teks met Jesus se uitnodiging dat almal wat moeg is by Hom moet kom rus.

Daar is ’n stukkie ironie in Gys se gebruik van die woord “mors”. Dit hang saam met die skuif waaroor hy die hele drie dae praat: van ’n verskraalde driepuntevangelie na ’n ryk koninkryksevangelie; van ’n kopgodsdiens waarin God op ’n manier eintlik afwesig is, na ’n lewe saam met die lewende Here.

Gys praat daaroor aan die hand van sy eie geloofsreis. Vroeër was hy besig, besig, besig. Maar toe ruk die Here hom deur persoonlike krisisse tot stilstand – en tot stilte. Een van die dinge wat hy moes leer, was om stil te word by die Here, om op Hom te wag.

Vroeër sou sulke stilsit vir hom mors van tyd wees. Nou is dit sentraal tot sy lewe saam met Jesus. (Lees ook die rubriek “Lees die boek”).

Die groot probleem, sê Gys, is ’n verskraling van die evangelie tot drie punte:
– Jesus het aan die kruis vir ons gesterwe (wat wonderlik en absoluut waar is);
– Ons moet tot geloof kom;
– As ons doodgaan, gaan ons hemel toe.

Di Pieter Malherbe (links) en Eddie le Roux begelei die sang op hulle kitare. Regs is ds Hardus van Niekerk wat dit met handtromme aangevul het.

Die probleem hiermee is dat dit Jesus reduseer tot ’n fenomenale historiese figuur wat ’n wonderlike ding gedoen het aan die kruis. Jesus word vasgeverf in dié rol. En so gesien, het Hy geen relevansie vir die lewe nou nie, geen relevansie vir byvoorbeeld die prokureur in sy praktyk of die sakeman in sy besigheid nie.

In effek is Jesus weg.

Saam met dié driepuntevangelie funksioneer daar ’n verbruikersgodsdiens wat Gys “fluff religion” noem. Dit sê dat ’n mens net op God moet vertrou en Hy sal sorg dat daar niks sleg moet jou gebeur nie.

Met dié raamwerk het Gys se lewe in duie gestort toe hy bankrot speel, sy huis en al sy sekuriteit verloor, en sy kind daarby ernstig siek word. Niks wat hy van die godsdiens verstaan het, het vir hom meer sin gemaak nie. Saam met Klaagliedere 3 het hy gevoel God het sy teenstander geword. Hy was op die rand daarvan om van die geloof weg te stap.

Dit was ’n woestyntyd van drie jaar in sy lewe. Dit was die slegste tyd van sy lewe, sê Gys, maar hy word yskoud as hy dink dat God hom dit sou gespaar het.

Dit was ’n tyd waarin hy daagliks ’n uur lank in die kerk gaan sit het. Hy het gehuil. Hy het gebid. Maar hy moes leer om te wag. En op ’n dag, terwyl hy bestuur, sê God vir hom dat Hy besig is met die rekonstruksie van Gys se lewe.

In die proses het hy geleer dat die evangelie nie gaan oor drie punte nie. “Hierdie driepuntevangelie is nie Jesus s’n nie. Dis ons s’n,” sê Gys.

Die evangelie wat Jesus verkondig het, was die evangelie van die koninkryk van God. En Gys wys op Matteus 4:7, Markus 1:15, Lukas 4:43 en ander tekste om dit te staaf. Die evangelie wat die vroeë Christene verkondig het, was die koninkryk van God (Hand 8:12).

Deur die gelykenisse het Jesus telkens prentjies van hierdie koninkryk geskets as hy begin met woorde soos: “Die koninkryk van God is soos …”

Die Bergrede gaan nie oor die lewe na die dood nie, dit gaan oor die lewe voor die dood. Jesus het nie gekom om ons in die hemel te kry nie, maar om die hemel in ons te kry, sê Gys.

Die eerste groot punt wat Gys maak vanuit die koninkryksteologie, is die oerbelydenis van die kerk: Jesus is die Here. Hy is die Koning. Hy regeer.

Maar Hy regeer op ’n vreemde manier. Hy regeer met ’n waskom en ’n handdoek. En God regeer deur fluistering, soos Elia moes leer.

Dit is waarom Gys moes leer om stil te word en te wag op die Here.

Die tweede groot punt is dat Jesus nou hier is. Sy teenwoordigheid is ’n realiteit waarmee ’n mens moet leer om te lewe. Vir ’n dominee, en vir ander gelowiges, beteken dit onder meer dat jý nie ’n bediening het nie. Jesus het ’n bediening “en Hy trek jou in sy slipstream in”.

Om in hierdie koninkryk te lewe, moet ’n mens antwoord op Jesus se oproep: “Volg my!” Jy moet ’n dissipel word. Dit beteken dat jy na Hom moet luister. En dit beteken dat jy op reis gaan met God.

’n Groot ontdekking op Gys se geloofsreis, en wat hy in die geloofsreis met predikante deel, is die ou kerklike praktyk van lectio divina, die heilige lees van die Bybel.

Dit is is anders as Bybelstudie, wat ’n informatiewe lees van die teks is. Bybel­studie is belangrik, sê Gys. Maar dit is ’n beweging van my na die teks toe om te begryp, om ’n greep op die teks te kry.

In lectio divina word die proses omgedraai. Daar word ’n mens stil met die teks sodat die lewende God deur sy Woord vir jou kan gryp. Dit is ’n formatiewe lees, ’n lees met die hart om te ontvang.

Dit help ’n mens om as dissipel te leef, om te lewe vanuit die nuwe werklikheid dat Jesus die Here is en dat Jesus hier is.

In die reis van dissipelskap leer jy om Jesus se liefde eerstehands te ken. Jy leer om saam met Jesus te lewe – “wat nie beteken alles word nou magic nie,” sê Gys. Dit beteken alles word nou aards. By Jesus leer jy hoe om te lewe – en gaandeweg word jy radikaal verander.

Uiteindelik leer dissipels om te leef as Jesus se mense, as sy verteenwoordigers, sy getuies, sy gestuurdes in die wêreld.

Ds Gys van Schoor aan die woord by die Oostelike Sinode se predikantekonferensie.

Maar jy kan nie hier begin nie, sê Gys. Voordat jy Jesus se gestuurde kan wees, moet jy eers leer om te lewe in die werklikheid dat Jesus die Here is en dat Hy hier is. Jy moet sy liefde eerstehands leer ken, jy moet leer om saam met Hom te lewe en hoe om te lewe. En in die proses moet jyself verander word.

Gys gebruik twee verhoudingsbeelde om te beskryf hoe ’n gelowige se verhouding met God nie moet wees nie, en hoe dit moet wees.

Dit moenie wees soos die verhouding tussen ’n baas en ’n slaaf nie. In so ’n verhouding is daar afstand. Die verhouding word bepaal deur reëls, toesig en vrees. Daar is geen vrymoedigheid of intimiteit nie. Die slaaf deel nie die erfenis nie en sy prestasie in sy werk bepaal hoe goed die verhouding is.

Nee, die verhouding met God moet wees soos dié tussen ’n pa en sy kind. Die basis van die verhouding is liefde en genade. Daar is onvoorwaardelike aanvaarding. Daar is vrymoedigheid, vertroue en intimiteit.

Gys se verhaal en sy getuienis vertel van ’n ingrypende lewensverandering. Dis nie maar net ’n nuwe teologiese insig nie. Dis baie meer as net ’n kopskuif. Dit gaan oor ’n nuwe manier van lewe saam met die lewende Here.

Vir ’n kerk wat missionaal wil lewe, vir gelowiges wat God se gestuurdes in die wêreld wil wees, is hierdie lewensverandering grondliggend daartoe.

– Die Sentrum vir Geloofsvorming se webwerf is www.geloofsvorming.co.za
– Kontak hulle by info@geloofsvorming.co.za

Die begin van ’n driejaarplan

anjaar se predikantekonferensie was die afskop van ’n driejaarplan om gemeentes van die Oostelike Sinode te help op die pad van missionale transformasie.

Hiervoor het die sinode ’n spyskaart ontwikkel met ’n verskeidenheid van opsies wat gemeentes kan benut. Daaronder tel byvoorbeeld materiaal vir preekreekse, kort veldtogte van byvoorbeeld 40 dae in die gemeentes, en kindermateriaal.

Die gedagte is dat die eerste jaar gebruik word om die koninkryksteologie in die gemeente te vestig. Daarvoor is daar byvoorbeeld verskillende preekplanne aan die hand van die Evangelie van Matteus.

Die tweede jaar fokus op innerlike heling en emosionele gesondheid. In hierdie jaar word daar ook begin met lidmaatbemagtiging.

In die derde jaar val die fokus op gestuurdheid. Daarvoor sal veral die boek Handelinge benut word.

Saam met dié driejaarplan, bied ds Gys van Schoor ook ’n geloofsreis vir predikante aan. Tydens dié geloofsreis van drie jaar word die inleidende gedagtes wat hy by die predikantekonferensie gedeel het, op ’n baie omvattender manier behandel en ingeoefen. Dié geloofsreis word reeds in die sinodes van Wes-Kaapland, KwaZulu-Natal, Hoëveld en Goudland benut.

Die gedagte is dat gemeentes wat missionaal suksesvol is, gemeentes is met goeie leierskap. Die geloofsreis wil dominees help om emosioneel gesond te wees en ’n egte spiritualiteit te kweek.

‘Freddie het ons uitgedaag’

reddie het ons uitgedaag om die pad te stap van missionaliteit, om ’n verskil te maak, om lig vir die wêreld te wees.”

So het ds Francois Retief gesê tydens ’n kort huldeblyk by die Oostelike Sinode se predikantekonferensie aan ds Freddie Schoeman, ondervoorsitter van die sinodale diensraad, wat vroeër vanjaar skielik dood is aan ’n hartaanval.

Retief het ’n lang lys dinge genoem waarby Schoeman kerklik betrokke was: van sy werk as gemeentedominee tot by sy betrokkenheid by die Woordwyser en Woord en konteks, skoolverlaterskampe waar hy vir honderde jongmense ’n mentor was, teologiese opleiding, en later sinodale leierskap.

Ds Freddie Schoeman.

Hy het vertel dat Schoeman gehelp het om vir die kerk die taal van missionale transformasie te gee, die taal van die koninkryk van God, van God wat die sentrum van die lewe is.

Dr Lourens Bosman het gesê dat Schoeman se invloed breed en diep geloop het.

Hoe kry ’n gemeentedominee dit reg om voorsitter te wees van die Algemene Sinode se strategiese span vir missionale transformasie, wou hy weet?

Sy antwoord was dat Schoeman ’n student was: Hy het baie gelees. Daarby het hy dit wat hy gelees het, geïntegreer met sy lewe en sy be­die­ning.

“Fred was nie ’n man vir die kollig nie. Hy was uitverkoop aan diens,” het Bosman gesê.

Schoeman was voor sy dood op sy stil manier opgewonde oor vanjaar se predi­kan­te­­konferensie en die rol wat dit kon speel om die Oostelike Sinode se gemeentes te help om meer missionaal te word.

Dat die sinode so ’n konferensie kon hou, sê opsigself baie van die leier wat Freddie Schoeman was.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top