Toe ek die eerste keer jare gelede as student ’n afdruk van Hieronimus Bosch se Die tuin van aardse genot gesien het, was ek oortuig dat dit ’n moderne kunswerk is, in dieselfde surrealistiese styl as die werk van Salvador Dalí, en dat dit ’n uitbeelding is van die bisarre kompleksiteit van die wêreld van die twintigste eeu.
My verbasing was groot toe ek besef dat dit reeds rondom die jaar 1500 geskilder is en dat dit destyds reeds groot gewildheid geniet het.
Die werk is in die vorm van ’n drieluik (of triptiek), met ’n middelste paneel en twee sypanele. Wanneer die twee sypanele toegevou word, sien ’n mens op die agterkant daarvan ’n uitbeelding van die derde skeppingsdag. Die aarde word uitgebeeld as ’n ronde skyf wat binne ’n glasagtige sfeer vasgevang is met die onderste deel van die sfeer gevul met water. God word in die linkerboonste hoek uitgebeeld as ’n figuur met ’n oop boek in sy hande. Aan die bokant van hierdie voorstelling kan die woorde van Psalm 33:9 as inskripsie gelees word:
“Want Hy het gepraat en dit was so,
Hy het beveel en dit was daar.”

Só gesien skep die kunswerk by voorbaat die verwagting dat wanneer die sypanele oopgevou word, die kunswerk self ’n antwoord gaan gee op die vraag wat God se skepping geword het.
Die eerste verrassing is dat die sentrale paneel, anders as die tipiese triptieke van dié era, nie ’n voorstelling is van een of ander heilshistoriese gebeurtenis nie en dat ook geen religieuse figure daarin uitgebeeld word nie. In plaas daarvan wemel dit van menslike figure, meeste van hulle naak, wat rondbaljaar in ’n soeke na verskeie vorme van genot.
Die linkerkantste paneel bied wel ’n uitbeelding van ’n religieuse gebeurtenis: teen die agtergrond van ’n ongerepte landskap, bevolk met allerlei herkenbare en onbekende diere, word God voorgestel waar Hy Adam en Eva in die paradys aan mekaar voorstel. Die wisselspel tussen Goddelike kreatiwiteit en menslike prokreatiwiteit, en die harmonie wat daaruit voortspruit, word op dié manier as God se oorspronklike bedoeling uitgebeeld.
In die regterkantste paneel word ’n voorstelling van die hel en die ewige verdoemenis aangetref. Teen ’n somber agtergrond word verskeie mensefigure uitgebeeld wat op skrikwekkende wyses gemartel word deur half-dierlike, half-menslike folteraars.
Oor die algemeen word hierdie kunswerk geïnterpreteer deur dit van links na regs te “lees”: God se oorspronklike bedoeling met sy skepping (linkerkantste paneel) is deur die mens in sy ydele soeke na vleeslike genot opgemors (sentrale paneel) en dit lei onvermydelik tot die aaklige werklikheid van die hel (regterkantste paneel).
Die bedoeling van die kunstenaar word dus verstaan as ’n waarskuwing teen ’n hedonistiese lewenswyse waarin ydele genot die hoogste doel is wat nagestreef word.
Dit is egter ook moontlik om die drie panele van die middel af te “lees”: die manier waarop die mens die moontlikhede van God se skepping geniet, kan tot een van twee resultate aanleiding gee: dit kan óf God se oorspronklike skeppingsdoel verwesenlik en dus van die aardse tuin ’n paradys maak; óf dit kan die aardse werklikheid op só ’n manier misbruik dat dit omskep word in hel op aarde. Die spel in die tuin kan óf die vorm aanneem van ’n ydele soeke na sinsgenot, óf dié van die kinderlike vreugde wanneer die moontlikhede wat God tot beskikking van die mens gestel het, ten volle geniet word.

’n Betekenisvolle detail wat ondersteuning bied vir laasgenoemde manier om Bosch se kunswerk te interpreteer, is die sentrale figuur in die regterkantste (verdoemenis-) paneel. Volgens die meeste kunskritici kan dié figuur wat met ’n ironiese glimlag na agter kyk, as ’n selfportret van die skilder beskou word.
In die buik van sy liggaam wat lyk soos ’n oopgebreekte eierdop wat deur boomstamme en takke ondersteun word, is daar drie figure wat saam aan tafel sit en eet. Dit sou waarskynlik gesien kon word as ’n verwysing na die drie besoekers wat volgens Genesis 18 hulle opwagting by Abraham en Sara gemaak het en met oordadige gasvryheid deur hulle ontvang is.
Deur hierdie voorstelling in die middel van die uitbeelding van die hel te plaas word daar op subtiele wyse ’n ander vraag aan die orde gestel, naamlik die vraag van Abraham aan God na afloop van die maaltyd:
“Sal U die regverdiges saam met die goddeloses verdelg?” (Gen 18:23)
Die ironiese glimlag van die skilder laat ons dus nie net met die vraag wat die mens met God se skepping maak en wat die (rampspoedige) gevolge daarvan is nie, maar ook (en ten diepste) met die vraag: wat God met sy skepping maak.
En dit is die heilvolle moontlikheid wat in Bosch se kunswerk opgesluit is: dat die lewenspel van die mens nie onvermydelik hoef uit te loop op een of ander vorm van hel nie, maar ook kan meewerk met God se kreatiwiteit en dan inderdaad kan bydra tot ’n hernieude belewenis van die vreugde van die paradys.
▶ Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.
