By ’n konferensie oor missionale kerkwees in Stellenbosch het DR PIETER VAN DER WALT, predikant vir teologiese navorsing van die Wes-Kaapse Sinode, die aandag gevestig op die radikale liefde waarmee gelowiges van die vroeë kerk geleef het. Hier skryf hy vir Kerkbode daaroor.
Waarom sou soveel mense, veral in die tweede en derde eeue na Christus, bereid wees om afskeid te neem van die interessante Romeinse godsdienswêreld om deel te word van gemeenskappe wat Jesus aanbid as die enigste Here?
Rodney Stark het in sy bekende boek, The rise of Christianity, gesê een van die redes was dat die gode hulle nie bekommer het oor mense nie. Die gode was afstandelik, apaties en sonder empatie. Die klassieke filosowe het medelye selfs beskou as ’n swakheid van karakter.
Mense is na die Christelike geloofsgemeenskappe aangetrek deur ’n God wat medelye gehad het met die lyding van gewone mense en wat in verhouding getree het met hulle liggaamlike stryd en broosheid in ’n wrede wêreld. Hulle het aangesluit by gemeenskappe wat nuut gevorm is deur die geloof in so ’n God.
Ons het natuurlik beperkte inligting oor die lewe van die Christene in die eerste eeue. Dit was baie lank gelede en ’n mens moenie dink jy kan die hele storie in een eenvoudige raamwerk forseer nie.
Mense wat die beskikbare fragmente bestudeer, vind egter genoeg om te kan sê dat Christene deur hulle geloof in Jesus ’n besondere “menslikheid” gevind het. Wanneer epidemies toegeslaan het, wat soms ’n groot deel van die bevolking in die oorbevolkte Grieks-Romeinse stede uitgewis het, was dit die Christene wat by die siek mense gebly en hulle versorg het.
Ciprianus, die biskop van Karthago, skryf: “Kyk net na hierdie epidemies. Kyk na wat die Christene doen en hoe hulle daarin slaag om hoopvol te bly. Kyk hoe gaan hulle om met lyding.”
Dionisius, die biskop van Alexandrië, skryf: “Hulle spaar nie hulleself nie, hulle dink aan mekaar, ongeag die gevaar … Die beste van ons broers en susters het hulle lewens verloor terwyl hulle na siekes omgesien het.”
Later wou keiser Julianus die Christendom ondermyn. Hy kla teenoor die hoëpriester van Galasië. “Waarom kan julle nie meer soos die Christene wees nie? Hulle doen goed aan vreemdelinge, hulle begrawe hulle dooies met sorg, hulle leef sober en eenvoudig.”
Hy het beveel dat hostelle vir behoeftiges opgerig word in elke stad. Die mense moes kon sien dat die keiser ook omgee. Sy plan het egter nie goed gewerk nie, want hulpaksies wat neerkom op afstandelike, pragmatiese welwillendheid is minder volhoubaar as dienswerk wat ondersteun word deur ’n medelydende, selfopofferende en betrokke liefde.
Teen 300 nC was daar ’n hele paar miljoen Christene. Die empire kon die “sukses” van die Christene nie langer ignoreer nie.
Konstantyn het besluit om dit in diens te stel van sy eie keiserlike sukses. Merkwaardig genoeg wou hy aanvanklik ’n vrye kerk hê en nie ’n staatskerk nie. Hy spreek die biskoppe toe: “Julle is die biskoppe oor die kerkvolk; ek is deur God, om dit so te stel, aangestel as biskop oor die heidene.”
Die kerk is egter betower deur die keiserlike grootheid en het al hoe meer deel geword van ’n poging om die volkere aan die Ryk te onderwerp. In hierdie proses is, veral in die Weste, meer gefokus op die bou van kerkorganisasie as op die bewaring van die kerk by die Bron van die geloof. Daar is geleerdes wat die kiem hiervan veel vroeër in die kerk raaksien.
Die belangrike vraag was dus vroeg reeds, en is sekerlik vandag nog: Hoe sal die geloof bewaar bly van die betowering van die empire en van die ambisie om eie koninkryke te stig?
Bram van de Beek, die een Gereformeerde teoloog wat doelbewus in gesprek bly met die vroeë kerk, noem dat daar drie instrumente in die vroeë kerk ontwikkel het om hiermee te help, naamlik kanon, credo en amp.
Van hierdie drie het die ontwikkeling van die amp die vroegste plaasgevind. Daar was gelegitimeerde leiers in gemeentes nog voordat die Bybel en credo vasgestel is. Hulle taak was om Christus teenwoordig te stel (Ciprianus), en om die gemeente te bewaar by die oorspronklike hart van die Christelike geloof.
Waarom dan al ons kerklike ordereëlings? Maak dit nie die radikale vars, bevrydende geloof, soos dit oorspronklik was, dood nie?
Ons moet goed onderskei. Daar was kerkordes in die vroeë kerk. Hulle wou egter nie in die eerste plek goeie administratiewe eenhede produseer nie. Hulle was lewende dokumente wat die Gees van Christus wou dien.
Hulle het die aanstelling gestruktureer van mense wat geestelike verantwoordelikheid moes neem, wat moes toesien dat die gemeente nie deur sterk religieuse mense weggelei word van die oorspronklike geloof nie en wat moes sorg dra vir die vorming van ’n hoopvolle, medelydende, en versorgende gemeenskap.
Geoffrey Wainwright het kerkvernuwing beskryf as ’n beweging “back to the future”. Kerkreformasie is om terug te keer na die bronne en die beste van die tradisie. Ek sal graag baie meer van die vroeë kerk wil weet. Daar was beslis nie ’n volmaakte kerk nie, maar dit lyk of die geloofsonderskeiding wat daar plaasgevind het, regtig diepgaande was.
