As ons in die kerk is, is ons nog nie in die hemel nie, daarom bly twis, onreg en sulke slegte ervarings deel van die kerklike lewe. Die vraag is hoe hanteer ons as kerkmense dit wanneer dit gebeur. DR PIETER VAN JAARSVELD, predikant van Bothaville en moderator van die NG Kerk in die Vrystaat, vertel twee uiteenlopende verhale wat hy enkele dae en duisende kilometers uitmekaar, eerstehands beleef het.
Op 5 April vanjaar het ek en twee kollegas probeer om tussen twee strydende faksies in ’n gemeente van een van ons jonger susterskerke in Bothaville te bemiddel in ’n poging om vrede te maak.
Na ’n maratonsessie waar ons aanvanklik die groepe apart ontmoet het en later gesamentlik, is daar geen beduidende vordering gemaak nie. Toe dit lyk asof ons by ’n doodloopstraat gekom het, vra die kollega wat die gesprek gelei het of daar nog iemand is wat iets wou sê.
“Ja,” antwoord een van die mans, “ek wil net sê ek is diep verneder.”
’n Geskokte stilte volg. Dit was onverwags.
“Is die persoon wat jou verneder het in dié vergadering?” wou my kollega weet.
Ek antwoord toe: “Daar is natuurlik ’n ander pad. Hy kan haar vryspreek.”
My kollega sê toe vir die man: “Wil die persoon na wie verwys word, iets sê?” vra my kollega.
Na ’n lang stilte antwoord ’n vrou. “Ja, ek wil praat.” En toe gee sy die agtergrond van die situasie waarna die man verwys het.
Nadat sy lank gepraat het, vra my kollega haar: “Wil jy hom nie maar om verskoning vra vir wat jy gedoen het nie?”
Nadat sy weer lank gedink het, antwoord sy: “Nee, ek kan hom nie om verskoning vra nie, want ek was reg en hy verkeerd.”
’n Geskokte stilte hang in die vertrek. Dit het ons nie verwag nie.
“Wat nou?” wou my kollega weet.
Ek antwoord toe: “Daar is natuurlik ’n ander pad. Hy kan haar vryspreek.”
“Wil, jy haar nie hier voor ons almal vryspreek vir wat sy aan jou gedoen het nie?”
Stilte.
En toe kom die driftige antwoord: “Al moet ek ook sterwe, ek sal haar nooit vergewe nie …” “Al moet ek ook sterwe, ek sal haar nooit vergewe nie …”
Die byeenkoms verdaag terstond. Ons kon mekaar nie vind nie. Daar was ’n hele paar kerkraadslede onder ons. Die twee persone ter sprake was beide kerkraadslede.
Dit was Woensdag, 5 April.
**************************
Op Vrydag, 7 April, vertrek ek met vyf ander predikante Japan toe vir ’n besoek aan ons susterskerk, die Reformed Church in Japan.
Op Sondag, 9 April, woon ek en my seun, Mias, wat deel van die groep was, saam met ’n teologiese student as ons gids, ’n erediens in Japan by. Die treinrit van Kobe af waar ons tuisgegaan het, het een-en-’n-half uur geduur.

By die kerkie is ons hartlik ontvang. ’n Student met die mooiste seuntjie op haar heup, het leiding geneem in die aanvanklike verwelkoming omdat sy Engels magtig is. Ons sou gou agterkom dat sy die dominee se dogter is. Met die loop van die dag sou haar storie ontvou.
Sy is deur ’n manstudent verkrag. Hulle praat van ’n “date rape“. Sy was swanger. En haar storie ontvou verder.
Die gesin het twee besluite geneem. Hulle het eerstens besluit om die swangerskap nie geheim te hou nie. Hulle het alles met die gemeente gedeel. En tweedens het hulle besluit om die jongman – wat nie ’n Christen is nie – te vergewe en met die liefde van die Here Jesus te oorlaai.
Die gevolg was dat die gesin ’n ondersteuning van die gemeente gekry het wat hulle verstom gelaat het.
Die ongelooflike het gebeur dat die jongman ter sprake, al hoe meer van die eredienste in die gemeente begin bywoon het en by van die ander geleenthede ingeskakel het. Hy het nog nie sy lewe vir die Here gegee nie, maar hy woon steeds van die eredienste by en die gemeente bid saam vir sy redding.
Die dogter, haar gesin en die gemeente het besluit om die pad van liefde en vergifnis te loop. Die skat wat dié gesindheid opgelewer het, was so ryk dat nie een kan ophou om daaroor te praat nie.
Dit was Sondag, 9 April.
**************************
En toe dink ek aan 5 April.
En ek staan skaam aan die een kant as ek aan ons ervaring in Bothaville dink, maar verstom aan die ander kant dat ek in Japan weer kon leer watter effek die liefde van Jesus het.
Ek is skaam wanneer ek sien hoe mense reageer; mense wat die evangelie hoeveel keer al gehoor het maar in wie se lewe ek dit nie kon sien toe daarvan rekenskap gevra is nie.
Ek staan verstom wanneer die Here vir my in ’n land waar die Christene minder as een persent van die bevolking uitmaak, weer die krag van sy liefde en vergifnis gewys het.
