Johannes Calvyn, die kerkhervormer van Genève, word dikwels gesien as ’n strenge dogmatikus. PROF HENNIE PIETERSE en DS PIET GROBLER wys egter daarop dat daar ’n pastorale kant aan Calvyn was waaruit die kerk vandag kan leer.
By Calvyn het sy verstand en sy hart, sy teologie en sy innerlike geloof, altyd saam gegaan.
In die voorwoord van sy kommentaar op die Psalms in 1557 skryf hy dat hy onverwags, plotseling, tot bekering gekom het. God het my hart, skryf hy, tot gehoorsaamheid verander. Die ervaring van die ware geloof het ’n ywer om meer van die geloof te wete te kom in hom laat ontvlam – so ’n ywer dat hy die ander studies vir eers opsy geskuif het.
Oor die presiese datum van sy bekering is geskiedkundige navorsers nie seker nie. Dit kan wees dat dit al voor Augustus 1533 gebeur het.
Op 1 November 1533 het daar ’n dramatiese gebeurtenis in sy lewe plaasgevind. Sy vriend, Nicolas Cop, die rektor van die Paryse universiteit, het op daardie dag ’n akademiese rede gelewer in die kerk van Cordeliers waar professore en kerklike hoogwaardigheidsbekleërs teenwoordig was. Die inhoud van sy rede was hervormd gesind. Daar is aanduidinge dat Calvyn hom gehelp het met die opstel daarvan.
Die Katolieke kerkleiers kla vir Cop aan by die parlement, toe die hoogste geregshof. Hy word betyds gewaarsku en vlug betyds uit die stad. Calvyn word deur sy vriende gewaarsku dat hulle ook agter hom aan is. Die polisie het al aan die deur geklop toe sy vriende hom met aaneengeknoopte lakens by ’n venster laat afsak het sodat hy uit die stad kon vlug. Hy skuil by goedgesinde priesters totdat hy uiteindelik Frankryk vir goed moes verlaat.
In Julie 1536 is Calvyn na vele omswerwinge in Genève. Guillaume Farel, die plaaslike predikant daar, besoek hom en versoek hom met ’n sterk stem om te bly en daar te werk in die Reformatoriese gemeente in die stad. Die oproep van Farel was vir Calvyn asof God self sy hand op hom gelê het met ’n roeping om hier as predikant te werk.
Calvyn het die evangelie verkondig. Die woord doctrina in Latyn wat hy gebruik, is later in die 17de eeuse Ortoksie as lering vir onderrig opgevat sodat dit algou as leerstelligheid gesien is. Hy het egter met die woord doctrina die evangelie, of die leer van die evangelie, verstaan. Doctrina is sinoniem met evangelie, en druk eintlik die hele evangelie, die hele Woord van God uit.
Die doel van die doctrina is om mense tot bekering te bring, om hulle in die geloof in God te onderig en om hulle op te bou in die geloof. Hy het die doctrina, die evangelie, eksistensieel in sy lewe ervaar – hy skryf dat hy sy sterwende vrou met die doctrina getroos het en dat sy in vrede gesterf het.
Hy skryf ook dat ’n mens die drie-enige God leer ken wanneer jy in die geloofsomgang met Hom ’n ervaring het dat Hy baie naby jou is sodat jy Hom byna kan aanraak.
Hy het die Reformatoriese teologie wat hy ontwerp het, op ’n pastorale wyse heel eenvoudig aan die eenvoudige, van alles gestroopte vlugtelinge in Genève gebring – hulle het met niks daar aangekom en het haas niks van die Bybel geweet nie.
Die kategismus van Genève wat hy in 1542 na sy terugkeer uit Straatsburg geskryf het met die vraag-en-antwoord-metode, is ’n heel eenvoudige verklaring van die evangeliese teologie gebaseer op die Skrif. Hy het steeds sy teologiese begrippe ’n heilstoepassing gegee.
Sy pastorale aanpak blyk veral ook uit die samelewing wat hy geskep het vir sy gemeente van vlugtelinge en die vlugtelinge wat gereeld in Genève aangekom het met niks – ook nie burgerskap van ’n land nie.
Hy het weer diakens ingestel wat die finansies moes beheer en vir die nood van die mense gesorg het. Hy het instellings van barmhartigheid tot stand gebring waar die diakens in beheer was: ’n hospitaal met twee afdelings, een vir die siekes en die tweede vir die sorg van bejaardes en vir weduwees en weeskinders; ’n gastehuis vir arm vlugtelinge, veral jongmense wat daar aankom, en ’n pes-huis vir mense wat aan die pessiekte gely het.
Die gemeentelede is aangespoor om hard te werk en dinge te vervaardig wat verkoop is, met die gevolg dat daar almeer fondse en ’n relatiewe welvaart ontstaan het. Die hoogtepunt vir die gemeente en die stad Genève was die stiging van die Akademie (universiteit) met 600 studente in Junie 1559.
Ds Piet Grobler was nou betrokke by die NG Kerk se uitreik na Frankryk in die Gesamentlike Kommissie vir Evangeliebediening in Frankryk. In samewerking met andere in Frankryk het hulle die 1542-kategismus van Calvyn in moderne Frans laat vertaal en in 1991 10 000 boekies daarvan gedruk. Dit word versprei in Frankryk, in Afrika, Kanada en die Franse eilande.
Calvyn se pastoraat in sy gemeente is vandag vir ons ’n missionale inspirasie en toon aan ons wat missionale kerkwees is: ’n kerk wat sy boodskap met dade van liefde uitdra.
