’n Tentmakerpredikant staan met een voet in die gemeentebediening en die ander voet in ’n nie-kerklike werk. Tog kan albei ’n vorm van bediening wees. Dr Eben Smith van Bloemfontein het aan NEELS JACKSON vertel hoe hy dit beleef.
Toe Eben Smith die voltydse bediening verlaat het om ’n tentmakerpredikant te word, het hy nie die bediening prysgegee nie. Hy het, in sy eie woorde, “net ’n nuwe bediening betree”.
Nadat hy vroeër predikant was in gemeentes soos Wakkerstroom, Alberton-Suid en Universiteitsoord, het hy in 2010 die finansiële wêreld betree. Hy noem homself nou ’n welvaartbeplanner – terwyl hy ook tentmakerleraar is.
Hoekom het hy dit gedoen? Hy het gevoel dat hy lewensverruiming nodig gehad het, sê Eben.
Sien hy sy werk in die finansiële wêreld ook as ’n soort bediening?
“Absoluut!” kom die antwoord. En hy gebruik die Middeleeuse Vlaamse skilder Quentin Matsys se skildery Die geldskieter en sy vrou om te verduidelik.
Links sit die geldskieter. Sy aandag is by die munte voor hom. Regs sit sy vrou. Voor haar is die Bybel. Maar voor hulle op die tafel is ’n spieël waarin ’n mens deur ’n venster na buite toe kan kyk.
Nie een van die twee is vry nie, sê Eben. Hulle moet albei uitkom buitetoe om vry te kan wees. Selfs die vrou met die Bybel moet uitkom om te leef voor die aangesig van God.

Iets daarvan speel ook af waar mense finansiële beplanning doen. Mense dink om finansiële vryheid te hê, moet hulle soveel geld as moontlik hê. Makelaars speel hierop in en hulle gebruik vrees om mense te motiveer. En die groot vrees waarmee mense sit, is dat hulle nie genoeg geld gaan hê om te kan aftree nie.
Die aaklige tweelingsuster van vrees is gierigheid, sê Eben, en dan is hy weer terug by die skildery, die geldskieter en sy vrou, die een met sy gierigheid en die ander met haar vrees – in godsdiens, veral in die Middeleeue is mense dikwels deur vrees gemotiveer.
As ’n gelowige welvaartbeplanner volg Eben ’n ander benadering. Hy kan nie met vrees werk nie. Die teenoorgestelde van vrees is liefde en nie haat nie. Liefde is die kern van die Skrif. Die vraag is daarom: Hoe doen hy finansies met liefde?
Daarvoor het Eben ’n kursus ontwikkel wat hy Bloudruk noem. Daarin kyk hy op ’n ander manier na die situasie van iemand wat wil aftree.
Baie mense werk net ter wille van die geld, verduidelik Eben. As dit die geval is, is jy net soos die twee mense in die skildery. Om vry te word, moet jy by die venster uitkom. Jy moet jou vlerke sprei en vlieg.
Daarom is sy aanpak nie in die eerste plek een wat oor syfers gaan nie. Dit gaan oor lewensingesteldheid. Genoeg geld gaan nie ’n sinvolle aftrede verseker nie. Wat nodig is in jou lewe is betekenis, ’n uitdaging, ’n verbintenis met ander mense en lewensvreugde.
Wat hy vir mense sê is dat ’n mens vir jou aftrede moet spaar sodat jy iets het waarop jy kan steun. Maar dan moet jy iets van betekenis kry wat jy kan doen. Iets wat jy geniet om te doen, maar waardeur jy ook ’n inkomste kan kry. “Ons verskuif die fokus van geld na lewensin,” sê Eben.
As hy oor sulke dinge praat, oor lewensin en oor verbintenisse met mense, dan praat hy teologiese taal, sê Eben. Dit gaan oor ’n groter integrasie tussen teologie en lewe.
En op ’n manier het die skuif wat hy gemaak het – van die voltydse bediening na ’n gewone sekulêre werk wat vir hom ook bediening is, saam met ’n tentmakerbediening in ’n gemeente – ook vir Eben self ’n groter integrasie tussen lewe en teologie gebring.
In die proses het hyself deur ’n woestyntyd gegaan waarin hy God opnuut en anders leer ken het. By hom was daar ’n skuif van ’n god wat daar ver is en dogmas wat sê wat is reg, na ’n God wat hy hier en nou beleef in dinge wat om hom gebeur.
Sy teologie het geskuif van wat hy noem ’n “hemelteologie” na ’n “lewe-teologie” toe. Hy meen dit was ’n skuif na ’n beter verstaan van Jesus toe.
Vir Eben Smith is die geloof nou ’n reis, en elkeen se reis is anders. Sy reis is nie ander mense se reis nie.
Waarby sy reis hom gebring het, is die gevoel dat hy lewe soos ’n vis in die water. Hy belewe God deurentyd. God is by hom en in die gebeure om hom. Vir Eben is dit die ruimte waarin hy mense kan help om sinvoller te lewe.
