“Remarkable stories of God’s grace.”
So staan dit op die voorblad van A Family of Reformed Churches in Africa, ’n nuwe boek waarin die geskiedenis opgeteken is van die kerke in Afrika wat uit die NG Kerk se sendingwerk ontstaan het.
Dr Gideon van der Watt, mederedakteur van die boek, het by die bekendstelling gesê: “Ons was verbaas toe ons begin skryf het.” Hy het verwys na die talle merkwaardige verhale wat hulle kon opteken.
“Die sendelinge het ’n mooi rol gespeel. Die vroue het mooi bydraes gelewer. Maar diegene wat die boodskap ontvang het, die evangeliste en ouderlinge, hulle het die meeste gedoen,” het Van der Watt gesê.
Die boek bestaan grootliks uit kort hoofstukke met kleurfoto’s daarby oor 14 verskillende kerke wat deel is van die groter familie van gereformeerde kerke van die NG Kerk en kerke wat uit haar sendingwerk tot stand gekom het.
Onder hierdie kerke, het Van der Watt gesê, is die NG Kerk eintlik maar van gemiddelde grootte. Party ramings plaas die aantal lidmate van die NG Kerk nou op 750 000. Hierteenoor het die Reformed Church in Zambia amper ’n miljoen lidmate. Die Verenigende Gereformeerde Kerk se lidmaattal word op 1,1 miljoen geraam en die Church of Central Africa Presbiterian in Malawi het ook ’n miljoen of meer lidmate.
Die Nongo u Kristu u i Ser u sha Tar (NKST), ofte wel die Universele Gereformeerde Christelike Kerk in Nigerië is ook baie groot, maar weens die aanvalle deur Islamitiese groepe in dié land is hulle nou so verstrooid dat dit moeilik is om ’n lidmaattal te bepaal.
Hierteenoor is daar ook klein kerke in die familie.
Die gedagte aan die boek het by ’n vorige vergadering van die Gereformeerde Familieforum ontstaan. In daardie stadium het daar reeds op inisiatief van Mariëtte Odendaal, die ander mederedakteur, ’n reeks oor dié kerke in Kerkbode verskyn.
Met dít as basis is daar met die verskillende kerke geskakel en ’n hoofstuk oor elkeen geskryf.
Ds Peter Azuana van die NKST het by die bekendstelling gesê hulle leer hulle kerk se geskiedenis vir hulle kinders in die Sondagskool. Verteenwoordigers van kerke het egter gesê by hulle bestaan die gevaar dat die geskiedenis vergete sal raak. Daarom is die verskyning van hierdie boek vir hulle baie belangrik.
Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het gesê in die Ou Testament word daar dikwels teruggekyk na die groot dade van God in die verlede. Net so kan hierdie boek help om die kerke daaraan te herinner dat die God van gister ook die God van vandag en die God van môre is. Dit gee hoop vir die toekoms.
