Soveel verskille in die kerk kan teruggevoer word na verskille oor die Bybel en die verstaan daarvan. Daarom het die Noordelike Sinode in samewerking met Excelsus drie konferensies oor die Bybel gehou. NEELS JACKSON het die konferensie in Brits bygewoon.
Daar word op verskillende maniere oor die Bybel gepraat, het dr James Kirkpatrick van die gemeente Stellastraat in Pretoria gesê. Soms word dit die “Woord van God” genoem, ander kere “God se Woord in mensetaal”, en soms “geïnspireerde mensewoorde oor God”.
Kirkpatrick, wat self gemaklik is om die Bybel die “Woord van God” te noem, sê met al hierdie formulerings probeer die kerk eintlik twee dinge sê. Die een is dat die teks gesag het. Die ander is dat dit ’n eg menslike boek is, nie ’n orakelboek nie.
Hy het egter gevra of die Bybel werklik ’n boek is. Eers in 1454, met die ontwikkeling van die boekdrukkuns, het die Bybel in boekvorm verskyn. Voor dit was daar ’n Bybel, maar nie in die vorm van ’n boek nie. En nou, met Bybels wat op selfone gelees kan word, is die Bybel steeds daar, al is dit nie langer ’n boek nie.
Tog het dit in gereformeerde kringe vir baie ’n boek geword wat objektiewe waarhede bevat wat deur rasionele analise ontdek kan word.
Dít, het Kirkpatrick aan die hand van ’n aanhaling van Ferdinand Deist gesê, het die onbedoelde gevolge gehad dat die gereformeerde tradisie versplinter het in ’n magdom kerke op grond van verskillende interpretasies van die teks.
Hy het ook verwys na Karl Barth wat gemaan het daarteen dat die Bybel los van die misterie van Jesus Christus en die Heilige Gees ’n gesag in homself kry en as ’t ware ’n papierpous word.
“Ons moet seker maak dit gaan nie vir ons oor die Bybel in plaas van oor God nie,” het Kirkpatrick gesê. “Ons glo nie in die Bybel nie, ons glo in God.”
Hy het ’n skets vertoon van ’n man wat met sy vinger na die maan wys. So is die Bybel. Dit wys heen na God. En net soos die man in die skets wil hê dat jy na die maan kyk en nie na sy vinger nie, so word die aandag deur die Bybel op God geplaas en nie op die Bybel wat na God wys nie.
Die Bybel verteenwoordig daarom ’n lewende tradisie met die doel, in die woorde van artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, “om ons geloof daarna te rig”.
Dit het Kirkpatrick gebring by die beeld van ’n dam teenoor ’n stroom.
Party mense sien die Bybel as ’n dam waarin ’n klomp waarhede vasgevang is. ’n Mens moet by wyse van spreke net jou geloofsvisstok vat, oor die eeue wat verby is ingooi in daardie dam in en ’n paar vissies in die vorm van tekste vang en dan het jy die waarheid.
Hy verkies die beeld van ’n stroom waarin jy nie tydlose waarhede nie, maar verdedigbare oortuigings kan vind. Dit werk so: Jy neem die tekste, jy interpreteer dit en dan sê jy: “Ek dink dit is wat die Here se wil is.”
Kirkpatrick het daarop gewys dat daar groot verskille is tussen hoe mense in Bybelse tye gedink het, en hoe mense vandag dink. Dit sluit in verskille oor hoe hulle die wêreld sien, hoe hulle oor mense dink, hoe die bose gesien word en hoe daar oor die ekonomie gedink word.
As ’n mens dié twee wêrelde in ag neem wanneer jy die teks interpreteer, ontstaan betekenis daar waar dié twee ontmoet.
In besprekingstyd het iemand gesê daar is soms die gevoel dat lidmate se sekerheid weggeneem word sonder dat daar vir hulle ander sekerheid gegee word.
Hierop het Kirkpatrick gesê die hele gedagte van sekerheid word bevraagteken. Sekerheid, het hy gesê, is ’n gefluit in die begraafplaas. Dit laat ’n mens in die steek en dit lei tot ontnugtering.
Pleks van sekerheid het hy gepleit vir geborgenheid. Dit beteken iemand se geloof bied vir hom of haar ’n veilige ruimte waar hulle kan ontspan. Binne die geborgenheid kan ’n mens vrae vra, jy kan twyfel en jy kan worstel.
Dr Andries Kritzinger van Orkney het aangesluit by Kirkpatrick en gesê die Bybel is nie ’n doen-dit-self-handleiding met al die antwoorde nie. Soms word dit omskep in ’n wetboek om alles te antwoord, terwyl dit eintlik weerbarstige vertellinge is van God wat verrassende dinge doen. Dit is vertellinge wat ’n mens meeneem en nuwe perspektiewe oopmaak.
Hy het gesê die gesag van die Skrif is nie iets wat van die mens se kant af verklaar word nie. Dit is iets waardeur gelowiges oorrompel word wanneer hierdie verhale in hulle lewe in breek.
Dr Fanie Cronjé van die gemeente Riviera-Jakaranda het gesê die manier waarop die Bybel vandag in die etiek gebruik moet word, is om eerstens te probeer verstaan hoe die norme in die teks in die destydse etiese situasie inpas.
Pleks van om dit dan direk so vandag toe te pas, doen ’n mens ’n dinamiese vergelyking van kontekste. Die gedagte is dat die Bybelse tekste dan herbenut word om nuwe rigting in veranderde omstandighede te bied.
