Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Kobus Gerber aan die woord by die boekbekendstelling. Foto: Neels Jackson

Luther het met minder hubris gepraat

Daar is ’n wydverspreide opvatting dat die kerkhervormer Martin Luther met groot bravade en hubris verklaar het: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie!”

Histories is dit nie akkuraat nie, het dr Kobus Ger­ber, redakteur van ’n nuwe boek oor die Re­for­masie, by die bekendstelling daarvan gesê. Lu­ther se eintlike woorde getuig van baie meer ne­derigheid.

Die nuwe boek oor die Reformasie.

In Afrikaans vertaal, lui dit só: “Tensy ek oortuig word deur die getuienis van die Skrif of heldere rede (want ek verlaat my nie alleen op die pous of die konsilies nie, omdat dit welbekend is dat hulle dikwels gefouteer en hulleself weerspreek het), bly ek gebonde deur die Skrif wat ek aangehaal het en my gewete is gevange vir die Woord van God. Ek kán dit nie afsweer nie en ek wíl nie, want dit is nóg vei­lig, nóg reg, om teen jou ge­wete op te tree. God help my. Amen”.

Gerber het ge­­sê in hulle nu­we boek (Re­for­ma­tion 500 – some South Afri­­can perspectives, uitge­gee deur die Christelike Lektuurfonds) is daar ook niks van dié gewaande hubris nie. Dit be­vat wel baie ­goeie mate­riaal oor die ge­­skie­­­denis van die teo­lo­­­gie van die Re­­formasie.

Hulle het verteenwoor­digers van ’n wye spektrum ker­­ke ge­nooi om uit hulle perspektief bydraes tot die boek te le­wer. Verteenwoordigers van 12 ker­ke het gereageer, onder wie die Katolieke Kerk, die Apostoliese Geloofsending en die Zion Chris­tian Church.

Gerber sê hy is jammer dat nie een van die vroue wat genooi is om bydraes te lewer, gereageer het nie.

Hy was egter bly oor die bydrae van biskop Gra­ham Rose van die Katolieke Kerk wat ge­skryf het oor die ooreenkoms tussen die Kato­lie­ke en Lutherane oor gesamentlike bediening. Gerber het na die Katolieke verwys as “ons moe­d­er” en gesê die verhoudings is deesdae baie beter as vroeër.

Ds Peter Azuana van die NKST, die NG Kerk se susterkerk in Nigerië, het gesê by hulle is dit nie die geval nie. Hulle keur byvoorbeeld nie huwelike tussen hulle lidmate en Katolieke goed nie. Mense sal selfs onder tug geplaas word daaroor.

Hierop het Gerber gesê hy weet van gevalle in Suid-Afrika waar ’n NG dominee en ’n Katolieke priester saam beplan het aan ’n huweliksdiens.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top