Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Van links staan Jeanri Bezuidenhout, Henk Kotzé, Camille Castelyn en Nadine van Eeden met die brood wat hulle by Jan Niemandpark se bakkery gekry het. Foto: Neels Jackson

Broodbak is ook kerkwees

Broodbak kan deel van ’n dominee se werk wees.

Dit het die NG Kerk se finalejaar-teo­logiestudente in Pretoria gesien toe hulle tydens hulle kontakweek saam met prof Johan van der Merwe by die gemeente Jan Niemandpark ’n draai gemaak het.

Van der Merwe het die studente tydens hul­le kontakweek blootstelling gegee aan ’n verskeidenheid aspekte van praktiese kerkwees. Dit het gewissel van hoe die bevestiging van troues werk, tot by die pensioenfonds en van ’n besoek aan die middestad van Pretoria om te sien hoe kerkwees daar in die praktyk gebeur, tot by ’n plat­telandse gemeente.

Jan Niemandpark is ’n klein stadsgemeente in ’n taamlik arm omgewing wat sy eie bakkery op die been gebring het.

Ds Danie van Rensburg het vir die studente vertel dat die gemeente drie jaar gelede in ’n oorlewingstryd was. Hulle wou iets doen wat standhoudend kon wees en vir mense kon help om ’n inkomste te verdien.

Om die bakkery te vestig, het egter heelwat werk geverg waarvoor ’n dominee nie opgelei word nie. Behalwe dat Van Rensburg self ’n kursus in broodbak gedoen het, moes hulle al die re­gi­strasies doen wat nodig was, daar moes marknavorsing gedoen word en die infrastruktuur moes gevestig word.

Hy het vertel dat daar aanvanklik heelwat weer­stand in die gemeente was teen die gedagte, maar die mense het gesien die bakkery ontwrig nie die kerk nie en nou is hulle trots op “hulle bak­kery”.

Die bakkery probeer nie met groot bakkerye kompeteer nie, maar lewer op bestelling brood aan skole, sopkombuise, ouetehuise en kinderhui­se. Een ouetehuis het al laat weet dat hulle R140 000 per jaar bespaar deur hulle brood hier te koop. Daardeur lewer die bakkery dus ’n diens.

Die bakkery verskaf ook werk aan ’n handvol men­se, en daar is ook ’n storie van ’n seun sonder selfvertroue wat by die bakkery begin werk het, en daar soveel selfvertroue opgebou het, dat dit ’n plat­form geword het waarvandaan hy die wêreld kon ingaan.

In hierdie stadium lewer die bakkery nie vir die kerk ’n inkomste nie, maar dit sou kon, hoewel dit heelwat aanpassings sou verg, sê Van Rens­burg.

Vir die studente was die groot boodskap dat iets soos ’n bakkery, wat ver verwyderd is van preek maak of Bybelstudie hou, maar wat diens lewer en help om mense op te hef, ook deel kan wees van kerkwees.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top