Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Hebreeuse woorde wat in Afrikaanse Bybels gewoonlik met “geregtigheid” (tsaddîq) en “reg” (mishpat) vertaal word, kom nie alleen afsonderlik nie, maar dikwels as woordpaar reg deur die Ou Testament voor. Trouens, dit word voorgestel as iets wat nie alleen waar is van God nie, maar dat Hy dit ook van sy mense vra.
Die betekenisveld van die twee woorde strek wyd, maar die inhoud wat ons woorde “geregtigheid” en “reg” daaraan gee is eintlik besonder beperk. Ons verstaan dit meestal in juridiese sin, terwyl dit maar een van tientalle samelewingsruimtes was waar dié woorde destyds gegeld het. Ten diepste het geregtigheid en reg alles te make met mense se onderlinge omgang met mekaar.
Die mens wat geregtigheid leef is iemand wat die Here dien. Die Here word gedien wanneer sy mense geregtigheid leef, soos wat Hy geregtigheid laat geskied. Geregtigheid geskied daar waar die woorde en dade van God se mense gerig is tot harmonie in die gemeenskap en lewensruimte vir almal. Dit gebeur wanneer ons leef soos die Here wil en wanneer ons deurdrenk van sy natuur met mekaar omgaan.
In die Ou Testament het reg in die eerste plek te doen met hoe iemand mag uitoefen, wat onder meer regspraak kan insluit. Laasgenoemde is egter maar een van ongeveer 13 betekenisse wat dié woord in die Ou Testament het. Ten diepste gaan “reg” oor ons omgang met mag. En maak geen fout nie, almal van ons het mag.
Die manier hoe jy die mate van mag wat jy ontvang het uitleef, bepaal of jy reg laat geskied al dan nie. Ook die beoefening van reg het te doen met harmonie in die gemeenskap en lewensruimte om in God se teenwoordigheid te kan leef uit/met dit wat jy van die Here ontvang het.
Wanneer gelowiges met mekaar in ’n hofgeding betrokke raak, gaan dit om meer as geldige toepassing van ons land se regstelsel en Grondwet. “Geregtigheid” en “reg” in die Ou-Testamentiese sin van die woord is ook ter sprake.
Vir gelowiges bly die vraag hoe gaan ek as individu, ons as groep en helaas ook ons as kerk om met die mag wat aan ons toevertrou is? Getuig ons uitoefening van mag daarvan dat ons die lewe vir mekaar verruim en veilig maak? Of beperk ons omgaan met mag die lewensruimte vir mekaar, terwyl ons mekaar uiters onveilig laat voel? Beleef mense in ons handel met die mag aan ons toevertrou dat ons van God se natuur deurdrenk is, of versluier ons in ons omgang met mag God se natuur in ons?
Die kerk het die roeping om “geregtigheid” en “reg” te beoefen – ook onderling.
▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.
