Dit is ’n heerlike wintersoggend in Pretoria. By die Pierneefteater in die Moot is daar ’n bedrywigheid. Dis die bekendstelling van Daphney Twala se digbundel.
Sy noem die bundel Purposely designed en daarin skryf sy persoonlike gedigte, gedigte oor haarself wat so anders ontwerp is as die meeste ander mense, haar arms en hande wat so anders lyk.
Daar is gedigte wat vertel van oningeligte mense wat mense soos Daphney verstoot, maar ook gedigte wat vertel van ’n menswees wat soveel groter as ’n gestremdheid is. Dit is gedigte wat uitstyg bokant die gestremdheid, wat selfs skertsend daarna verwys, soos die een waarin sy haar hande vergelyk met dinosourusspore met net twee tone.
Sy lees van haar gedigte voor, beduie met die arms, maar dit is nie wat die aandag hou nie. Dis haar onblusbare gees wat ’n mens bybly.
Nie net vir Daphney nie, maar vir die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdheid is dit ’n goeie oggend, want Daphney is ’n inspirasie vir ander mense met gestremdhede. Sy word ’n stem vir hulle.

En agter dit alles lê ’n storie wat al oor jare kom, ’n storie van gelowiges, gewone lidmate, wat dít wat hulle het, gebruik om mense soos Daphney te help om hulle talente te ontwikkel, om hulle eie menswees te ontwikkel.
Een van hulle is Jopie Koen van die Pierneefteater waar Ten spyte van jaarliks aangebied word. Dit is ’n reeks geleenthede waar gestremdes hulle talente op die verhoog kan kom ten toon stel en slyp. Deur die jare het Daphney meermale haar gedigte daar voorgedra. By die bekendstelling van Daphney se bundel word die teater se nuwe lusstelsel wat gehoorgestremdes help om beter te hoor, ook getoets.
Nog een is dr Fanie Marais van die Cordis Trust wat Ten spyte van sedert 2003 borg as deel van die trust se deerniswerk. Cordis Trust, wat ook by Bybel-Media betrokke is, het Daphney se bundel uitgegee.
’n Derde een is Jannie du Toit, sanger wat ’n lang verhouding het met die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdheid, en wat vanoggend weer gratis kom sing by die bekendstelling van Daphney se bundel.
Danksy hulle en soveel ander mense word dit ’n vrolike oggend, ’n oggend waarop ’n mens vir Daphney sien blom as iemand wat, in haar eie woorde, nie net ’n mens is nie en nie net ’n gestremdheid nie, maar ’n mens met ’n gestremdheid – spesifiek so ontwerp.
“Dis ’n wonderlike verhaal,” sê ds Lourens Bosman oor die manier waarop lidmate gehelp het om Daphney Twala se talent te ontwikkel, haar digbundel uit te gee en die bekendstelling daarvan ’n feestelike geleentheid te maak.
Bosman is voorsitter van die Algemene Sinode se taakspan wat missionale kerkwees bevorder. Ja, hulle werk met gemeentes en dit is belangrik dat gemeentes hulle missionale werk as gemeentes doen, maar uiteindelik moet ’n missionale lewenstyl ’n werklikheid word in lidmate se daaglikse handel en wandel.
