Johannes Erasmus Smit was agt jaar oud en besig om bloekomtakke op te tel waarvan hy kruise wou maak vir Paasfees, toe ’n motor hom raakry en baie ernstig beseer. ANNALISE WIID het gaan kuier en varsvloeiende fonteine van onophoudelike genade ontdek – in mense met sagte oë en goeie harte.
Aan die Smitte, wat lidmate is van die NG gemeente Lourensrivier-Strand, se rooi tuinhekkie hang ’n kruis van saamgebondelde opteltakke. ’n Treffende simbool van die mense wat hier in die Strand woon: vier gesinslede, wat al langer as sewe jaar ondersteun word deur 20 vrywilligers. Bondelhoutjies, saamgebind met driedubbele toue van liefde. Die voorhekkie is nie gesluit nie. Anelé, Johannes se ma, het regtig nie nog tyd om elke keer as iemand aanklop, te gaan oopmaak nie. Geliefdes laat hulleself eenvoudig in.
Die kruis aan die tuinhekkie is een van Johannes se Paaskruise, wat hy as agtjarige gemaak het. Hy en Anelé, saam-saam. Hy het vasgehou. Sy het vasgebind. Kruise sonder smuk: Soms van platgetrapte takke. Growwe tou. Haar vriendinne was dol daaroor! Johannes het die kruise teen R40 elk verkoop. Hy wou 10% van sy inkomste daaruit vir Bybelverspreiding gee.

Hulle het gaan takke optel dié dag, Johannes en Anelé. Nie een van hulle het die kar sien kom nie. Die bestuurder het ook nie vir Johannes gesien nie; die seuntjie op die skouer van die pad, wat opgewonde omdraai met die bondel takke in sy armpies.
Dit was 26 Maart 2010. So skielik. So onomkeerbaar. Oomblikke wat lewens verander – vir altyd.
Anelé sit skuinskop by die tafel voor die venster. Blaai deur haar bêreboek; vertel die verloop van Johannes se verhaal sedert daardie dag.
Sy het nie regtig die boek nodig nie. Dit help haar net om, soos sy vertel, op die kronologie van gebeure te fokus. Maar wanneer sy van die boek af opkyk, sien sy in elk geval nog alles. Dit is in haar wese ingegraveer. Onuitwisbaar. Deel van haar soos haar asem. Soos haar kind. Hy word vanjaar 16. ’n Skadusnor begin al oor sy bo-lip kruip.
Anelé se oë is die uitsonderlike, deurglansde, ligte blou van ysberge. Maar glad nie koud nie. Vol warm deernis en ontferming. En onuitblusbare vasberadenheid om haar kind op sy gesond-word pad te help.
Daar is sjokoladeblokkies op die tafel. Johannes het self die Mariekoekies daarvoor gekrummel. Met sy regterhand. Sy linkerkant is minder funksioneel. En hy is in ’n rolstoel. Maar “al kan hy nie stap nie, kan hy nog loop op sy pad van genade, liefde, geloof en hoop,” sing Mallies le Roux in ’n lied wat hy spesiaal oor Johannes geskryf het.
Langs die koekies lê ’n swart hardebandboek met die eerste wonderlike woorde wat Johannes self ná die ongeluk geskryf het. Lank daarna.

Anelé skryf ook. In haar kombuis hang Opperman se woorde teen die muur: “Ek het die wondere van God beskryf en al die monsters uit my hart verdryf.”
Sy stuur maandeliks ’n verslag oor Johannes se vordering aan vriende en belangstellendes. Dit is deurspek van sy kwinkslae. Sy besondere fyn humorsin is ’n mens-magneet. “Kan ’n mens in TransVAAL ook helder kleure aantrek? Kan iemand met BRUIN oë uit die BLOUte kom kuier? Wat doen jy as dit SLEG gaan met die WELsyn? Kan ’n kabeljou SNOEKer speel?”, vra hy en kikker mense lag-lag op.
Toe iemand Anelé eenkeer ’n “lekker daggie” toewens, brom hy onderlangs: “Het sy dan net 23 uur in haar dag?”
“Johannes is agt jaar oud – ’n wonderkind,” skryf Anelé in Oktober 2010, etlike maande ná die ongeluk, oor hoe dit voorheen was.
“Hy tril van opgewondenheid oor die lewe, staan nooit stil nie, kry nooit koud nie. Hy klim die hoogste bome – doen selfs sy huiswerk van tak tot tak. In die graad 3-klas is hy die leier van die Muis-bende. Wanneer hy op die springmat spring, vonkel sy ogies en maak hy sy mond wyd oop sodat ek water met die tuinslang daarin kan spuit. Hy speel krieket, hokkie, rugby en tennis, doen karate en teken die mooiste prentjies. Hy vertroetel hamsters, katte en selfs twee eekhorinkies, Koffiepit en Teesakkie. Johannes dans met die lewe!”
Nou, vertel Anelé, is Johannes feitlik weer volledig dáár, soos sy persoonlikheid tóé was, voor die ongeluk. ’n Kind, nee, nou ’n jongman, wat vrolik wakker word en opgewonde vra: “Wat doen ons twee vandag, Mamma?”

Maar dit was ’n lang pad tot hier. Kaalvoet oor skerp klippe: ’n Mens gaan in survival mode. Jy bid die eerste twee nagte om. Later kan jy nie meer bid nie. ’n Wolk geliefdes skaar hulle om jou; sit styf teen jou. Jy hoor: “Ek is die Here jou God. Ek vat jou hand. Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek help jou.”
Jou kind verbeter nie. Die hospitaal word jou huis. En dan kom die dag wat vreemdes jou kom vra om ’n orgaanskenkingvorm te teken: Die dokters sien geen breinfunksie nie en beveel aan dat die lewe-ondersteunende masjiene afgeskakel word.
Biddende vriende stuur Psalm 46:6: “God sal hom help nog voor die môre kom.” En, onbeskryflik: Johannes begin vanself asemhaal! Maak heelwat later een ogie oop. Begin nog later geluidjies maak.
Desnieteenstaande kom die kliniese uitspraak: Ernstige permanente breinskade. Soek ’n inrigting vir julle seun.
Daar is dinge wat ’n buitestander nie vra nie. Jy laat haar praat. Weet instinktief waar om, eerbiedig, weg te skram. “Some stones are so heavy,” skryf Anne Michaels, “only silence helps you carry them.”
Skerp klippe inderdaad. Maar tussen-in, fonteine van God se sag-vloeiende genade uit mense met omgee-harte. Soos dr Schalk Burger wat hulle, ná 45 dae in die hospitaal, inwag by Intercare Rehabilitasiesentrum in Bellville. Johannes kan nie sien of praat nie. Dr Schalk, wat deel van die span dokters is wat hom behandel het, laat hom skryf. Deur net sy armpie te ondersteun, en met groot geduld te wag tot die agtjarige seuntjie se hand die letters moeisaam vorm.
Die wonder en opwinding van kommunikasie! Johannes skryf goed soos: “Gee vir my water. Ek is lief vir julle. Jesus is hier.” Schalk vra: “Johannes, waar uit die Bybel moet ons vandag vir jou lees?”
“Hebriers 1“ skryf Johannes – met ’n kleinlettertjie en seuntjie-spelling.
Op ’n dag skryf Johannes: “Ek gaan praat.”

In reaksie daarop, salf Schalk hom met olie. Maar daar is net laventelolie byderhand. Kon jy nie liewer olyfolie gebruik het nie, skerts Johannes se pa, Willem. Dit ruik ten minste nie so skerp nie. “Olyfolie” is die eerste woord wat Johannes na die ongeluk sê.
Mettertyd word hy sterker; begin sy eens pap en lewelose lyfie weer eet, lag, stap met hulp, redeneer. En vandag vorder hy steeds.
Hulle vra nie hoekom-vrae nie. Dring nie aan op antwoorde nie. Fokus eerder op wat positief is. Die dag toe hulle Rooikruis-hospitaal toe is om uit te vind of Johannes weer sal kan sien, kry hulle die tyding: Nee, die oogsenuwees is onherstelbaar beskadig.
Anelé vra die aand: “Johannes, wat moet ek vir jou uit die Bybel lees?”
“Mamma, lees Jesaja 41:18.”
“Jy bedoel seker vers 13?” vra sy. “Jy wil seker ons vashou-vers hoor, wat sê: “Ek is die Here jou God. Ek vat jou hand. Ek help jou.”
“Nee, Mamma, lees van vers 18 af,” hou hy vol.
En sy lees: “Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel.”
“Ag, Mamma, dit sê maar net God is ’n God van die onmoontlike,” reageer sy 11-jarige boetie, Hein, kinderlik gelowig. En hulle maak weer, soos die Karoo-oompie gesê het, hulle glo voor hulle bang staan.
Hulle het immers reeds die onmoontlike in Johannes se lyf ervaar: ’n Dag na die ongeluk moes ’n deel van Johannes se skedel verwyder word om drukking op sy brein te verlig. Die skedelflap sou op 29 Julie 2010 teruggeplaas word. Maar die chirurg het gevind dat daar spontaan nuwe skedelweefsel begin vorm het – nie van die kante af nie, maar in die middel van die opening. Heeltemal buitengewoon op agtjarige ouderdom!
Johannes se “peute” – spraak-, arbeids-, fisio-, emosionele intelligensie- en Lyno-terapeute – en die gesin se vele vriende, is soet fonteine wat borrel van geesdrif, genade en liefde. Hulle help hom met perdry, Duits, Engels, klassieke musiek, kitaar, lees, biokinetika, wiskundespeletjies, geskiedenis en geografie. Noem maar nog.
Johannes het ’n vrywillige versorger wat gereed staan om te help met elke behoefte. Tot ’n haarkapper en ortodontis en kerk-maats wat help met kategese. ’n Besoekende fisio van Randburg het, baie beïndruk met sy gesondword-span, gesê: “Ek het nog nooit so ’n toegewyde klomp mense gesien nie”.

Natuurlik het Johannes se versorgers ook gesondheids- of gesinsprobleme. Niemand is mos gevrywaar van skerp klippe nie. Maar almal sê: Johannes is op sy beurt vir ons ’n vars fontein van goedheid. As jy bedruk by Johannes opdaag, gaan jy met ’n glimlag daar weg.
Tannie Anna Albertyn (84), lidmaat van die NG gemeente Helderberg, het Johannes van die begin af gehelp met strekoefeninge om sy lyf soepel te hou. Tot 18 maande gelede. Noudat hy ouer word, word hy te swaar vir haar om te hanteer. Maar sy besoek hom steeds. Hulle lag nog lekker oor al hulle oefenkaskenades. En oor die fyn knypies wat hy haar kleindag gegee het – sy enigste selfverdediging wanneer die oefeninge hom seergemaak het.
Johannes se lang wimpers hang donker gordyntjies oor sy groot, blinkswart, intelligente oë. Oë wat ’n mens nader nooi, al kan hulle jou nie sien nie.
’n Vriendin van die gesin, Thea-Rita Kluyts, het ’n gebed geskryf oor Johannes se oë. Dankbare, vriendelike, brawe, leergierige, sagte, Jesus-oë: “Oë wat net liefde sien.” Soos die Griekwapsalm kyk hulle “allie pad boentoe, reg in onse Pa se oge”.
– Lesers wat belangstel om Johannes se maandelikse vorderingsverslag te ontvang, kan Anelé by anele.smit@gmail.com e-pos.
