“Nooit weer sal Suid-Afrikaners hulle openbare waardes aan die grille van politici oorgee nie.”
Met dié woorde het biskop Malusi Mpumlwana, algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, by ’n mediakonferensie die motivering gegee vir ’n nasionale konvensie oor waardes en standaarde waarmee die SARK nou begin.
Die gedagte is dat die konvensie ’n konsensus ontwikkel oor die waardes waarop Suid-Afrika se samelewing moet berus en standaarde formuleer waaraan daar in die openbare lewe voldoen moet word. In die proses moet die gate van korrupsie toegestop word.
Die nasionale konvensie, sê Mpumlwana, gaan ’n proses eerder as ’n geleentheid wees. Daar gaan ’n stuurkomitee en ’n aantal werkgroepe wees wat in September begin grondwerk doen, voordat ’n groot byeenkoms moontlik van 21 tot 24 November gehou word.
Daarna sit die werkgroepe hulle werk voort tot met ’n tweede groot byeenkoms moontlik in Mei of Junie 2018. Daar kan ook ’n derde groot sessie in September 2018 gehou word. Hulle wil die hele proses in sowat ’n jaar afhandel.
Mpumlwana kon nog nie name van deelnemers gee nie, maar het gesê hulle wil mense uit die godsdiensgemeenskappe, uit die arbeidsorganisasies, die sakesektor, die akademie en buite-parlementêre organisasies betrek.
Die NG Kerk gaan ook deelneem, sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris.
Daar is drie breë temas geïdentifiseer waarop gefokus moet word.
Een daarvan is versoening en heling. Mpumlwana het gesê daar wil hulle onder meer vra hoe beweeg Suid-Afrika se mense van 100% Venda, 100% Afrikaner en 100% Zoeloe na 100% Suid-Afrikaner. Hulle wil ook kyk na kwessies soos gesinsverbrokkeling en na godsdienstige misbruike.
In die tema oor ekonomiese transformasie gaan onder meer alle aspekte van onderwys, van vroeë kinderontwikkeling tot by tegniese en beroepsopleiding, behandel word.
Die derde tema is die versterking van demokrasie. Daarin moet daar gefokus word op standaarde in die regering waardeur korrupsie voorkom kan word; op die professionalisering van die staatsdiens teenoor politieke aanstellings; op die voorkoming van die misbruik van die staat se veiligheidsinstellings en die regstelsel; en op die versekering dat verkiesings vry en regverdig sal wees, veral met die oog op 2019.
Oor die finansiering van die proses het Mpumlwana gesê hulle sal ’n beroep op Suid-Afrikaners doen om deur skarefinansiering bydraes te maak, maar die SARK sal ook gaan aanklop by oorsese kerklike vennote wat die raad in die stryd teen apartheid ondersteun het.
Mpumlwana sê hulle wil ’n interaktiewe webwerf en sosiale media gebruik om gewone landsburgers ook te betrek. Politieke partye en ander belanghebbendes kan na die groot sessies genooi word. Hy het beklemtoon dat alle Suid-Afrikaners verantwoordelikheid moet neem om die waardes en standaarde in die land te help herstel.
Hy het ’n ou Afrikaanse struggle-liedjie uit die Wes-Kaap aangehaal om dit te beklemtoon. Dié liedjie lui:
Die pappas en die mammas,
die oupas en die oumas,
die oompies en die tannies,
die honde en die katte
is almal in die struggle.
