Terwyl die kerk 500 jaar van Reformasie vier, skryf RETHIE VAN NIEKERK vroeër vanjaar vir Bybel-Media se Saamkleurpret oor die vyf Solas ’n paar gedagtes vir saamgesels en persoonlike refleksie. En terwyl sy daarvoor nalees oor invloedryke reformatore soos Luther, Calvyn en Zwingli, vind sy verhale van vroue wat leiers van die Reformasie was. Sy vertel van ’n paar van hulle.
Katharina von Bora
Die stories oor hoe Katharina von Bora (1499-1550) vir Martin Luther ondersteun het, is legendaries. Sy was egter ook ’n leier in haar eie reg, wat bygedra het daartoe dat die samelewing vroue as gelykwaardig begin sien het. Vandag dink baie aan haar as die moeder van die Reformasie. Sy het geboer, ’n gastehuis en konferensiesentrum bedryf en handel gedryf. Sy word, met Luther se dood, die eerste vroulike erfgenaam.
In my soeke na nuwe stories van hervormers, ontdek ek dat Von Bora haar plek volstaan as deel van ’n skare vroulike hervormers wat self ook ’n leidende rol in die Reformasie gespeel het. Daar blyk twee tipes vroulike leiers in die Reformasie te wees: vroue wat leiers was weens hul huwelik met ’n hervormer, of adellike vroue wat hulleself vir die Reformasie beywer het.
Jeanne d’Albret
Een so ’n adellike was Jeanne d’Albret (1528-1572), ’n Franse Hugenoot. Sy was van jongs af uitgesproke en nie bang om op te staan teen onreg nie. So skryf sy op 12-jarige ouderdom ’n sterk bewoorde beswaarskrif teen haar gedwonge huwelik.
Later trou sy met die liefde van haar lewe, ontmoet vir Johannes Calvyn, skenk die lewe aan Hendrik IV (later koning van Frankryk) en word op Kersdag 1560 een van die eerste adellikes wat hulle publiek verbind aan die protestantse geloof.
Terwyl sy regeer oor die ryk van Navarre, ondersteun sy die vlugtelinge in Genève finansieel en skryf self heelwat ter verdediging van die protestantisme. Sy laat die Bybel vertaal sodat mense dit self kan lees en hervorm ook haar ryk se ekonomiese en juridiese sisteme. Tussen al die oorloë deur, natuurlik.
Anne Askew
Anne Askew (1521-1546) was ’n Engelse protestant. Danksy haar adellike geboorte was sy geleerd. As jongeling het sy daagliks na die katedraal gegaan om Bybel te lees en met die priesters te redeneer oor die betekenis van Skrifgedeeltes.
Saam met Koningin Katherine, die protestantse vrou van Henry VIII, woon sy later daaglikse protestantse eredienste by. Weens haar vurige protestantse geloof gooi haar man haar uit op straat. Sy reageer deur daagliks traktaatjies uit te gee en publieke boodskappe op die strate van Londen te verkondig. Sodanig was haar ywer dat sy as die “Gospeller” bekendgestaan het.
Sy word (verskeie kere) gevange geneem en ondervra, iets waarvan sy in detail rekord hou. Uiteindelik word sy skuldig bevind aan kettery, omdat sy geweier het om te erken dat die Nagmaalstekens letterlik verander in die liggaam en bloed van Jesus (die sogenaamde Transsubstansiasieleer).
Anne word ter dood veroordeel en na die Tower of Londen gestuur, waar sy die enigste vrou in die geskiedenis word wat met die martelrak gemartel word. Op 16 Julie 1546 word sy na die brandstapel gedra, te swak om self te loop of regop te staan. Hier word sy vir oulaas ’n kans gebied om haar kettery te laat vaar en vrygespreek te word, maar sy weier. Voor die teregstelling lewer die biskop ’n preek – met Anne wat volgens oorlewering telkens wanneer hy iets onbybels sê, uitroep: “Hy is verkeerd en praat sonder die Boek!”
Katharina Schütz Zell
Een van die mees uitgesproke vroulike hervormers, was die Duitser Katharina Schütz Zell (1497/8-1562). Sy was ’n geleerde vrou, getroud met haar mede-hervormer, Matteus Zell.
Hierdie vuurvreter skryf vir die priesters: “Julle herinner my dat die apostel Paulus gesê het vroue moet stil wees in die kerk. Ek sal julle herinner aan die woorde van dieselfde apostel, dat daar nie langer man of vrou is nie en aan die profesie van Joël: ‘Ek sal my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree.’ Ek maak nie asof ek Johannes die Doper is wat Fariseërs repudieer nie. Ek gee nie voor om Natan te wees wat Dawid teregwys nie. Ek streef maar slegs om Bileam se donkie te wees wat sy meester vasvat.”
Al was sy bekend as ’n vuurvreter, was Schütz Zell ook bekend vir haar barmhartigheid en omgee. Sy het op ’n besondere manier omgesien na die vroue wat moes agterbly nadat hul hervormer-mans gevlug het. Toe daar in haar eie tuisdorp ’n vlugtelingkrisis was, was sy een van twee mense wat verseker het dat die behoeftiges versorg word.
Saam met haar barmhartigheid en uitgesprokenheid, was sy en haar man egter ook bekend as van die mees tolerante lede van die Reformasie. Nadat sy byvoorbeeld gehoor het dat Luther en Zwingli se samesprekinge gaan skipbreuk ly, het sy (onsuksesvol) by Luther gepleit om “liefde boweal.”
So ontdek ek ’n “skare geloofsgetuies”, voormoeders wat inspireer met hul vaste geloof, teologiese vaardigheid, onverskrokke dapperheid, helder uitgesprokenheid, moedige leierskap en onwrikbare liefde.
▶ Ds Rethie van Niekerk is predikant van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth en lid van die Algemene Sinodale Moderamen.
Saamkleurpret: Die vyf Solas is ’n elektroniese boek met gedagtes en inkleurprente oor wat ons glo. Die plakkate word elektronies afgelaai en plaaslik in A1- of A0-grootte gedruk. Jy kan die prente alleen inkleur, maar dit is veral lekker as oud en jonk saam inkleur en nadink oor ons geloof. ’n Familie, vriendekring, gemeente, jeuggroep of omgeegroep kan saam die plakkate inkleur en nuwe insigte oor hulle geloof van mekaar ontvang. Bestel by www.bybelmedia.org.za of 0860 26 33 42 teen R275.
