Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Van links is Celene Schreuder, Jacqui Beckett en Meisie Martin. Jacqui sê sy het op 50 haar “happy place” gevind. Foto’s: Conette le Roux

Dorkas-se-plek belê in mense

In ’n kerkkombuis in Stellenbosch kook ’n klomp mense tot die donker van werkloosheid en armoede verdwyn. Dorkas-se-plek doen spyseniering, maar hulle wins is nie in Rand nie, maar in die belegging wat in mense gemaak word. CONETTE LE ROUX vertel.


Op ’n Woensdagmiddag woel ’n klomp vroue in die kombuis van die NG gemeente Stellenbosch-Wes.

Roosterbroodjies en burgers word flink voorberei, want die dansskool is elke weeksdag in die kerksaal. Dit beteken goeie besigheid vir Dorkas-se-plek, wat spyseniering doen en verversings verkoop.

Klein dogtertjies in tutu’s kan net-net oor die toonbank loer om ’n koeldrank of pakkie skyfies te koop. Mammas sit en wag by tafels met ’n drinkding of ’n broodjie.

Sommige kinders kom direk na skool vir hul dans­klas en is honger, vertel Magdaleen Erasmus later in haar kantoor.

Magdaleen is ’n maatskaplike werker en kliniese berader wat ’n kantoor by die kerk huur. Sy is deel van die kerk se barmhartigheidsdiens en het sowat twee jaar gelede Dorkas-se-plek saam met Settie de Koker tot stand gebring.

’n Gereelde verskynsel in haar praktyk het Mag­da­leen genoop om te probeer help.

“Ek het verskeie jong- en middeljarige mense in my praktyk gesien wat werkloos is. Hierdie mense is almal in die eerste plek verwys met een of ander emosionele of maatskaplike probleem. Nadat hulle berading ont­vang het, was die probleem van werkloosheid nog altyd daar. Dit is geweldig demotiverend om sonder ’n werk of inkomste te wees. So ’n situasie lei ook gewoonlik na gevoelens van hopeloosheid en hulpeloosheid en kan uiteindelik tot depressie aanleiding gee. Hierdie leemte in die hulp aan mense op ’n holistiese manier het gelei tot dié idee.”

En mense moet altyd eet, so daarom het hulle op ’n spysenieringsbesigheid besluit, vertel Magdaleen.

Ma en dogtertjie: Rikie-Louise en haar dogtertjie Claudi Nel. Rikie-Louise sit en wag gereeld met ’n koppie tee by Dorkas se restaurant terwyl Claudi dans.

Die naam van die projek, wat deur ’n lidmaat gekies is, is uiters gepas. Die verhaal van Tabita, of Dorkas in Grieks, in Handelinge 9 was die inspirasie. Haar huis was ’n plek waar behoeftige mense bygestaan en gehelp is. Daarom heet die projek, wat deel vorm van die kerk se barmhartigheidsdiens, Dorkas-se-plek. Hier word mense wat as gevolg van “psigo-sosiale proble­me” nie werk nie, opgelei en werk gegee.

Behalwe om ’n weeklikse loon aan werkers te betaal, ontvang die werknemers ook berading en die werkers se gesinne word ondersteun. Lewensvaardighede en die bou van elkeen se selfbeeld kry baie aandag, sê Magdaleen.

Die projek is ook nie op wins ingestel nie, maar ploeg die geld terug in aankope en die werknemers se betaling.

Magdaleen verduidelik sy help hulle ook om deurentyd aan ’n “Eksodus-plan” te werk. Die plan behels hoe hulle weer terug in die gemeenskap gaan aanpas en werk. Wanneer die individue kans sien om “buite” werk te soek, word hulle ook van getuigskrifte voorsien.

Hulle werk ook nou saam met die ACVV, Straatlig (’n bediening aan haweloses) en Abba (Badisa se projek wat gesinne ondersteun wat deur middelafhanklik­heid geraak word), sê sy. Daar is ook verhoudings met psi­giaters en beraders van staatsinstansies wat hulle dienste gratis aan Dorkas bied.

Intussen het daar ook vier ander vrywilligers van die gemeente betrokke geraak. Linda Koetsier is verantwoordelik vir die spyskaart, Adele Alberts vir die snoepie, Annelie van Velden is die kombuisbestuurder en Colleen Carinus bestuur die skoonmaakdiens. Saam tree almal op as bestuurders van die projek om sodoende te help om in mense se toekoms te belê.

Die skoonmaakdiens het ontstaan nadat Stellenbosch-Wes se vorige skoonmaker daar weg is. Die kerk betaal nou die skoonmaker se salaris aan Dorkas en behalwe vir hulle spysenierswerk is die werkne­mers ook nou verantwoordelik vir die skoonmaak van die kerk en die saal-kompleks.

“Dis uiters prakties. Die werkers is vir agt ure elke dag op die perseel om voor te berei en skoon te maak na begrafnisse, die dansklasse, opleiding ensovoorts.”

Volgens Magdaleen het die projek die afgelope jaar baie uitgebrei en is hulle verantwoordelik vir die spy­se­niering van begrafnisse en ander funksies, maar ook daaglikse etes.

“Daar is ’n weeklikse spyskaart wat na omliggende besighede en individue gestuur word om etes te koop.”

Spaghetti Bolognese, beeskerrie met rys en salsa, hoen­derpastei en ander resepte pryk op hulle spys­kaart.

Maar Dorkas se doel het eintlik min met hulle lekker kos te make. Dit is om werklose mense wat dikwels sonder hoop is, weer in hulleself te laat glo.

’n Belegging in mense

Dorkas-se-plek getuig reeds van talle sulke sukses­stories. Dar was byvoorbeeld ’n polisieman wat bedank het weens werkdruk. Hy het vir ’n tydperk by Dorkas gewerk.

“Ons hele doel is om mense hulle menswaardigheid terug te gee sodat hulle weer buite in die samelewing kan funksioneer. Vandag is hy ’n sekuriteitsbeampte in Mosambiek. Hy kom loer gereeld in. Hy het nou die dag selfs vir ons ’n yskas geskenk om dankie te sê vir wat ons vir hom gedoen het.”

Annemarie Joubert was skottelgoed voor hulle toemaak vir die dag.

Tot dusver is daar vyf persone wat gevoel het hulle is reg om Dorkas te verlaat. “Drie werk in die arbeidsmark en pas baie goed aan. Een is nou ’n entrepreneur en die ander se situasie is onseker op dié stadium,” sê Magdaleen.

Dit is moeilik om die “uitset” te meet, maar hulle sien Dorkas as “’n belegging in die ontwikkeling en be­magtiging van mense”.

In die Dorkas-kombuis is daar tans vier werkers wat floreer in hulle omstandighede. Twee van hulle is enkelouers en hulle lone hier is die enigste inkomste vir die gesin.

Dr Almatine Leene, predikant by Stellenbosch-Wes, sê dis lekker as die kerkgronde juis vir sulke doel­eindes gebruik word. “Kerk-wees is iets wat elke dag gebeur in ons daaglikse gebeure. Die lewe is nie mak­lik nie, en as jy ook nie werk het nie dan is dit nog moeiliker. Ek dink dit sal beslis ook werk vir ander NG gemeentes. Ek is diep dankbaar dat ons as gemeente ’n verskil in mense se lewe kan maak, nie net op ’n geestelike vlak nie maar juis ook as dit gaan oor werk. In ons land is daar groot sosiaal-ekonomiese pro­bleme en dit is wonderlik as die kerk dit op ’n manier kan beveg. In ons gemeente se getuienisskrif staan dat ons lewende lote wil wees en ek glo Dorkas-se-plek getuig daarvan.”

Settie, wat verantwoordelik is vir Dorkas se finansies, sê: “Dorkas het my oë, ore en hart oopgemaak vir mense met baie seer wat sukkel om buite aan te pas. As ek terugkyk na die twee jaar sien ek mense wat gegroei het en dankbaar is vir wat hulle by Dorkas kry en ervaar. Alle eer aan Hom.”

Handelinge 9:36 is geraam en hang in die restaurant. Hier wil hulle ook soos Dorkas se huis, ’n plek van hoop wees vir moedelose mense.

Vir Magdaleen is haar inspirasie Johannes 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

“Ek glo vas dat die saad wat by Dorkas gesaai word, nie net tydelike verligting sal bring nie, maar standhoudend sal wees.”

‘Ek het nie geweet watter kant toe nie’

nnemarie Joubert (19) werk sedert Mei vanjaar by Dorkas-se-plek. Sy vertel sy het einde 2016 by Stellenzicht Hoërskool in Stellenbosch matriek ge­slaag, maar kon nie werk kry nie. Haar omstandighede tuis is ook nie ideaal nie.

“Ek het nie geweet watter kant toe nie. Ek het net by die huis gesit en was baie depressief. Ek het so sleg oor myself gevoel.”

Die vrou vir wie haar ma in die huis werk het haar na Magdaleen verwys. Magdaleen het terapiesessies vir Annemarie aangebied en uiteindelik voorgestel dat sy by Dorkas kom werk.

“Dit het regtig baie vir my beteken. Ek het nie voorheen geweet hoe om met mense te werk nie. Nou kan ek al die orders vat.

“My droom is om speurder óf maatskaplike werker te word. Ek wil mense se lewe ver­ander. Magdaleen is besig om my met aansoeke te help sodat ek volgende jaar kan begin.”

n Vroegoggend-trein na hoop

acqui Beckett (50) bestuur die Dorkas-kombuis al sowat twee jaar. Sy werk al jare in die gasvryheidsbedryf. Trots vertel sy dat sy ook vir ’n tydperk by die Kasteel in Kaapstad met spyseniering gehelp het. Sy stry al jare teen mid­delverslawing en is in ’n stadium na Mag­da­leen verwys. Só het sy haar “happy place” uiteindelik gevind.

Jackie en haar agtjarige laatlammetjie staan elke oggend 4:00 op om ’n vroegoggendtrein van­af die Paarl na Stellenbosch te haal. Volgens Magdaleen borg die ACVV Jacqui se dogtertjie se skoolfonds.

“Ek is al deur so baie saam met die mense hier by Dorkas. Maar ek kon nie vir ’n beter on­der­steuningsgroep gevra het nie. Magdaleen en my kollegas is wonderlik. Ek het op dié ouderdom uiteindelik ’n plek gevind wat maak dat ek 4:00 wíl opstaan,” vertel sy laggend.

Volgens Magdaleen het hulle besluit om Jacqui as kombuisbestuurder by Dorkas te hou, aan­gesien sy so bekwaam is.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top