Sedert Januarie 2017 is 56 mense in 282 plaasaanvalle vermoor, volgens statistieke wat TLU SA byhou. In die eerste agt maande van 2016 is 49 mense in 244 aanvalle vermoor. Die Vrystaatse Sinode met gemeentes in die hartjie van boeregemeenskappe, is maar te bewus van hoe die vlaag plaasaanvalle en -moorde gemeenskappe ruk. JANA MARX berig.
“Dis verskriklike tragedies wat gemeenskappe ruk. Van die sinode se kant af, probeer ons dominees bystaan om hierdie tragedie in ’n groot geleentheid te omskep,” sê dr Johan Nel. Hy is ’n terapeut wat deur die Vrystaatse Sinode gebruik word om mense en gemeenskappe na traumatiese ervarings soos plaasmoorde by te staan.
Sodra daar ’n tragiese voorval soos ’n plaasaanval plaasvind, kan Nel deur die sinode versoek word om die betrokke persone met raad en daad by te staan. Die sinode betaal dan vir hierdie terapeutiese diens. “Die oorgrote meerderheid dominees gryp die geleentheid aan,” sê Nel.
Volgens hom is hierdie die enigste diens van sy soort. “Ons maak ook baie seker dis nie ’n NG ding nie. Ek is ’n Hervormde predikant. Die NG kerk lewer die diens, maar ons bedien nie net NG lidmate nie. Voorvalle soos ’n plaasmoord het die geleentheid om die hele gemeenskap te bind.”
Nel sê die aanvanklike kontak is nie regtig terapie nie, dis “debriefing”.
Daar is verskillende situasies waarbinne trauma voorkom: “Soms praat ek met die naasbestaandes van oorledenes of slagoffers van geweld. Partymaal sien ek die mense wat eerste op ’n bloedige toneel aangekom het. Soms is dit die graad van wreedheid wat ’n hele gemeenskap ruk en dan moet die gemeenskap debrief word. In die geval van ’n kind se dood sal ’n mens dalk verteenwoordigers van die skool, ouers en onderwysers, ontmoet.”
Nel verwys na ’n voorval op 27 April 2016 in Ventersburg waar Jan de la Hunt, ’n adjudant-offisier, na bewering sy vrou, Twanette, tydens ’n stryery met sy dienspistool doodgeskiet het. Die hofsaak duur nog voort.
Woede in gemeenskap
“In hierdie geval moes ek woede in die gemeenskap help ontlont. Ek het ook met skuldgevoel te doen gekry, waar mense glo bewus was dat De la Hunt sy vrou mishandel het. Soms is mense selfs kwaad vir die kerk en vra vrae soos: Julle het dit geweet – waarom het julle niks gedoen nie?”
Dan was daar ook die voorval op 19 Mei 2017 waar ’n boer en ’n seun dood is nadat die helikopter waarin hulle gevlieg het, naby Heilbron neergestort het. “Hier was ek betrokke by die outjie se vriende, maar veral die skoolhoof en personeel van sy skool.”
Nel voel uit ’n terapie-oogpunt dis beter om iemand van buite die gemeenskap in te kry om hulp te verleen. “Jy’s objektief. Jy mag vrae vra, want jy weet nie die detail nie.”
Hy verwys na die helikopterongeluk en ’n situasie waar ma’s van die oorlede seun se skoolvriende dit goed gedink het om ’n vergrote foto van sy gesig na die roudiens te neem. Dit het die onderwysers baie ontstel.
“Mense wil die regte ding doen, maar weet nie altyd hoe nie,” sê Nel. Hy kon hier leiding gee deur voor te stel die skoolhoof tree as woordvoerder op en vra die oorledene se ouers hoe hulle oor ’n vergrote foto in die kerk voel. “Daar moet respek wees. Dis ’n gemeenskapstrauma, maar dit bly ’n persoonlike ding vir naasbestaandes. Daar is dus ’n groot stuk opvoeding wat plaasvind wanneer die sinode by sulke traumasituasies betrokke raak,” sê Nel.
Plig teenoor verdagtes
Soms het Nel ook ’n plig teenoor verdagtes, soos in die geval waar ses mans van Parys aangekla word van moord op twee vermeende plaasaanvallers op 6 Januarie 2016. Dié verhoor het in Mei hierdie jaar begin.
“Dis nie my plek om te sê wie is skuldig en wie nie. Hier sit jy weer met ’n ander soort trauma, soos inhegtenisneming. Die verdagtes is in aanhouding en nie hulle of hulle families weet wat gaan gebeur nie. Dan verskyn hulle in die hof en dan word hulle op borgtog vrygelaat. Dis traumaties.”
“Ek dink daar’s verskriklik baie genesing moontlik binne ’n gemeenskap. As ’n tragedie reg hanteer word, is daar die moontlikheid dat dit die gemeenskap nader aan mekaar gaan bring en gaan help dat almal vinniger gesond word,” glo Nel.
Opvolgwerk is ook belangrik. “Ds Barnard Steyn, hoof van die Vrystaat Sinode se bedieningsbegeleiding, bly op hoogte van die voorval en volg die dominees agterna op,” sê hy.
Nel sê as mense slagoffers wil bystaan, moet hulle nie vir mense voorskryf hoe hulle moet rou nie, elkeen se rouproses verskil. Mense sê baie vinnig vir ander: “Dís hoe jy moet rou: Jy moet nou kwaad wees. Hoekom is jy nie kwaad nie? Word kwaad!”
Dít kom op teistering neer, sê hy.
Hy wys ook daarop dat nie almal wat huil, ’n terapeut kort nie. Ons gee vir mense die geleentheid om ons weer in Bloemfontein te kom sien, of ons besoek die dorp weer, maar ’n hartseer persoon kort nie noodwendig ’n terapeut nie. Die rouproses is belangrik.
