Omtrent halfpad tussen Kaapstad en Pretoria, as ’n mens tussen Colesberg en Trompsburg die R717 pleks van die N1 ry, kom ’n mens by Philippolis uit. In dié Suid-Vrystaatse dorpie is die Jobhuis met ’n uitstalling van skilderye wat al vir talle mense genesing gebring het. NEELS JACKSON berig.
Die storie van die Jobhuis is tot ’n groot mate ook die storie van Rina Coetzee.
In haar loopbaan as grafiese kunstenaar en illustreerder van 76 kinderboeke het sy gewerk aan projekte soos Mina Moo, Pumpkin Patch en Kideo. Vir haar illustrasies in die boek Die mossie met die spiere is sy met ’n ATKV-veertjie bekroon.
In 1992 het sy na Philippolis verhuis en saam met vriendinne ’n gastehuis begin, waarmee hulle ook pryse losgelaan het.

En toe, teen 2000, word sy deur depressie oorval. Mense het vir haar gesê sy moet haar regruk, maar, sê sy, dit werk nie so nie.
Toe, een oggend terwyl sy in haar sitkamer sit, hoor sy ’n stem wat vir haar sê: “Lees Job.” Sy het gaan lees en ontdek dat dit wat sy daar lees, presies is hoe sy voel.
Dit is toe dat sy begin skilder. Sy het Job gelees en Klaagliedere daarmee saam en op doek uiting gegee aan dit was sy beleef het. Vir Rina het dit genesing gebring. Vyf-en-twintig skilderye en ’n jaar later was die depressie weg.
Tien jaar lank, vertel sy, het die skilderye in ’n badkamer gestaan. Vier keer in daardie tyd is sy genooi om dit uit te stal by gemeentes in Welkom, Kroonstad en Bloemfontein.

Dan het hulle dit geneem, die dominee het oor Job gepreek en die skilderye is in die saal uitgestal vir almal om daarna te gaan kyk.
Intussen het dr Retha du Plessis, wat by die Vrystaatse Universiteit verantwoordelik was vir die koördinering van studente in Maatskaplike Werk, in Philippolis kom aftree.
Sy het ’n murasie van ’n ou huis gekoop, dit gerestoureer en ’n ruimte daarin ingerig vir ’n permanente uitstalling van Rina se 25 skilderye.
“Ek het die terapeutiese waarde gesien van mense se reis met dié skilderye,” sê sy.

Die permanente uitstalling is einde 2010 geopen.
’n Besoeker wat kom om na die skilderye te kyk, word ’n brosjure oor die Bybelboek Job en ’n boekmerk van die Jobhuis gegee. Dan word jy na die kamer met die skilderye geneem. By die ingang van die kamer is daar ’n aanhaling van die Ierse dramaturg George Bernard Shaw teen die muur: “’n Mens kyk in die spieël om jou gesig te sien. ’n Mens kyk na kunswerke om jou siel te sien.”
Terwyl ’n mens na die skilderye kyk, speel daar swaar musiek, musiek met ’n stemming wat by Job en Klaagliedere pas: die Requiem van Brahms en Rachmaninoff se aandgebede.
’n Mens kan soveel tyd by die skilderye bestee as wat jy voel nodig is. By elkeen van die 25 skilderye is die teks wat die skildery geïnspireer het.
Tekste soos: “Wil U nie van my af wegkyk en my ’n oomblik laat asem skep nie? As ek gesondig het, wat kan ek teen U uitrig, U wat die mens gedurig oppas? Waarom het U my u teiken gemaak?”
Daar is tekste wat sê: “Die pyle van die Almagtige deurboor my”; “dit is Hy wat my met ’n stormwind pynig”, “Hy laat my hoop verdwyn soos ’n boom wat uitgeruk word”.
Dis woorde en beelde oor radelose pyn. Vir mense wat so voel, bied dit taal waarmee hulle met God kan worstel oor dit wat hulle beleef. In George Bernard Shaw se taal: Iemand wat worstel met God, kan hier sien hoe sy siel lyk.
Die laaste skildery in die reeks is rond, nie vierkantig of reghoekig of selfs agthoekig soos die ander nie. Rond. Die vorm van heelheid. Die teks daarby kom uit Job 33 wat onder meer sê: “Hy het my gered. Ek het nie gesterf nie. Nou lewe ek weer.”
Maar voor ’n mens daar kom, is daar ’n lang pad van worstel met God en met die pyn van die lewe.
Soms dra Retha snesies aan vir iemand wat huil. Maar daar is ook ’n sitkamertjie en koffie en tee sodat ’n mens oor die ervaring met die skilderye kan gesels.
Soos Rina dit beleef het, is daar vir baie mense ook genesing in die ontmoeting met Job, in sy worsteling met God. Rina en Retha vertel verskeie verhale daaroor.
Daar was die vrou wat gesê het een oggend saam met die skilderye het vir haar meer beteken as vele sessies saam met terapeute.
’n Ander vrou het daar aangekom, tyd by die skilderye bestee en onbedaarlik gehuil. Hulle kon nie genoeg snesies aandra nie, vertel Retha. Sy is daar weg sonder om te praat, maar sy het teruggekom en weer gehuil, en weer teruggekom en weer gehuil.

Eers met haar vierde besoek aan die Jobhuis het sy nie meer gehuil nie. Toe kon sy praat, haar foto’s uithaal en haar storie vertel. Sy was so gelukkig getroud, en toe sterf haar man in ’n motorongeluk. Die Jobhuis het haar gehelp om die onpeilbare hartseer van haar verlies te verwerk.
Daar was ’n toeris wat na die skilderye kom kyk het, wat gesê het sy is nie ’n gelowige nie. Maar sy het teruggekom want sy het gesê sy kry die skilderye nie uit haar kop uit nie.
“Vir ons is dit ’n bediening,” sê Retha.
Soms kom mense spontaan by die Jobhuis aan. Maar soms bring pastorale terapeute mense daarheen. Dan word die skilderye en Job se worsteling met God deel van die terapie.
Retha sê hulle sal enige tyd van die dag of nag die Jobhuis oopmaak vir mense wat wil kom stil word by die skilderye.
Oor vakansietye word die besoekers meer, maar dis nooit groot getalle nie. Dalk so 200 mense per jaar.
Maar dit is nie waaroor dit vir hulle gaan nie. Soos Rina sê, as een mens deur die skilderye gehelp word, was dit die moeite werd.
