Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Chris van Wyk

Metafore vir ons Skrifbeskouing

In die voortgaande gesprek oor Skrifbeskouing, reageer dr Chris van Wyk, lid van die Algemene Sinode se moderatuur, op die artikel ‘Ons glo nie in die Bybel nie, ons glo in God’ wat in Kerkbode van 11 Augustus verskyn het oor die konferensie oor Skrifgesag en Skrifgebruik wat deur die Noordelike Sinode in samewerking met Excelsus aangebied is.


Metafore is nooit onskuldige uitsprake nie. Dit wil betekenis gee en betekenis maak. Dit is nie anders met die metafore wat ons gebruik vir die Bybel nie. Jou metafore verraai jou vertrekpunte. Dit kan beter wees waar die metafoor in lyn is met die Bybel. Dit kan egter ook slegter wees waar die metafoor juis nie in lyn is met die Bybel nie.

Een besondere metafoor wat die Bybel gebruik om dit self te beskryf, is om van die Bybel as die “Skrif” (ἡ γραφή) te praat, soos Paulus dit doen (Rom 10:11). Óf van die “Skrifte” (αἱ γραφαί), soos Jesus dit doen (Mark 12:24). Daarmee word die hele Ou Testament bedoel, die Wet, Geskrifte en Profete, die Bybel van die vroeë Christene.

Dit is opmerklik dat die Skrif met hierdie metafoor as ’n geskrewe dokument geteken word, iets wat gelees en geleef word. Die vroeë kerk het daarom hierdie Skrif, waarby mettertyd die boeke van die Nuwe Testament gevoeg is, met die woord “kanon” beskryf. Daarmee het hulle bedoel, die Skrif is die maatstok of maatstaf, ’n afgeslote geheel wat ingespan word om klaar­heid te kry oor wat God se wil is, en wat nie.

Elke voorskrif wat gegee is in die Wet, elke verhaal wat vertel is in die Geskrifte, en elke profesie wat ge­lewer is in die Profete, het immers ten doel gehad om die volk te leer wat God wil en wat nie. Dit is ontvang as helder en duidelik, gereken as noodsaaklik en ge­noeg­­saam, geëer as volkome en betroubaar. Want, dit was op skrif! 

Alles wat ons vir ons saligheid moet glo, het die kerk dus bely, word daarin voldoende geleer. Die Skrif is ’n begronding, bevestiging, begeleiding en riglyn vir die geloof. Dit is ook op dié tradisie wat die Hervor­ming teruggegryp het met hulle slagspreuk, Ad fontes (terug na die bronne), terug na die Skrif. Daaruit is ge­bore die solas, waarvan sola scriptura die idee van die Skrif alleen in leer en lewe gedra het. Ons bely daarom in ons belydenisskrifte die onfeilbare waarheid en Goddelike gesag daarvan.

Die metafoor van die Bybel as die Skrif(te) word uitgebrei deur dit te beskryf as ’n “stem”, die stem van God, wat met ons praat (Rom 10:8-17; vgl Hebr 1:1-4). Die Skrif word dus gepersonifieer veral in die impak wat dit in mense se lewe kan hê. Paulus sê bv: “Wat die Skrif sê: ‘Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie’”. Daarmee personifieer hy die profesie in Joël 2:32 as ’n woord uit die Skrif aan ons (Rom 10:11).

Hierdie Skrif word daarom as die “Woord van God” beskryf (Rom 10:17). Hierdie beskrywing open die weg om die Bybel verder te beskryf met ander me­tafore. Die Woord van God is ’n “lig” of “lamp”, iets wat jy gebruik om jou weg in die lewe te bepaal, om sake waaroor jy wonder te belig en uitklaring te gee, soos in daardie pragtige beskrywing in Psalm 119:105: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”

Die Woord van God word ook beskryf as ’n “spieël” soos in Jakobus wat die betekenis van self­openbaring in spel bring (Jak 1:21-25), soos ook Paulus in sy twee briewe aan die Korintiërs (1 Kor 13:8-13; 2 Kor 3:12-18). In die Woord van God sien jy jouself soos jy werklik is. Soms word die Woord van God as ’n “huis” beskrywe (Matt 7:24-29), waarmee ook die woorde van Jesus betrek is, soos dit uiteindelik in die Nuwe Testament vir ons opgeteken is.

Wat van al die metafore vir die Skrif, die Woord van God, die geval is, is dat die betekenis verwys na iets wat afgeslote is, ’n geheel, ’n hanteerbare objek, of nog dieper ’n handelende subjek, want daar is ’n krag wat daarvandaan uitgaan wat die leser verander, in lyn bring met wat die Skrif met hom of haar wil doen.

Dit is hierdie Skrif waarvan Jesus bely dat die bood­skap daarvan onbreekbaar is (Joh 10:35). Dit is hierdie Skrif wat in elke detail daarvan vervul moet word (Joh 13:18; 17:12; 19:24 en verder). Dit is hierdie Skrif wat verstaan moet word, sodat die boodskap daarvan ter harte geneem kan word (Joh 20:9). Dit is vanuit hierdie Skrif wat die boodskap van Jesus helder en duidelik verkondig kan en moet word (Hand 8:35).

Dit is ook in hierdie verband wat ons die uitspraak van Paulus oor die Skrif moet verstaan, dat die hele Skrif deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weer­legging, tot teregwysing, tot onderwysing (2 Tim 3:16). Vir die uitleg daarvan het ons natuurlik die Gees nodig (2 Pet 1:20), sowel as die onderskeiding van die geloofsgemeenskap (Hand 15), maar verseker nie ’n ander geskrif of teks wat die gesag van die Skrif kan afswak nie.

Om dus van die Skrif te praat byvoorbeeld as ’n rivier of ’n stroom kan maklik die afgerondheid en onafhanklikheid van die Skrif verwater. Die paar plek­ke wat die metafoor van water vir die Woord van God ingespan word, gaan dit steeds oor die wyse waar­op die Skrif as ’n bron van God se genade en seën in gelowiges se lewe werk (Ps 1:3; vergelyk Jer 17:8). Die hele idee van die helderheid en genoegsaamheid van die Skrif as maatstaf, as kanon, as handelende sub­jek in ons lewe, word nie daarmee verswak nie.

Nee, soos Psalm 119 dit vir ons so uitnemend ver­klaar, die Woord van God soos ons dit in die Skrif op­ge­teken vind, is God se openbaring aan ons. Die Psal­mis gebruik agt woorde vir God se openbaring wat eintlik as sinonieme vir mekaar optree. Dit is die wet (119:1), die getuienisse (119:2), die opdragte (119:4), die voorskrifte (119:5), die bevele (119:6), die regver­di­ge beslissings (119:7), die woord (119:9), en die beloftes (119:11) van die Here waaruit ons lewe.

Dit is hoe ons oor die Skrif, die Woord van God, moet dink. Dit is hoe die Bybel oor die Bybel self praat. Hierdie Skrif is geskrewe woorde wat ons kan lees. Hierdie Skrif is God se woorde wat ons moet leef. Hierdie Skrif is die vaste maatstawwe waarmee ons kán meet en waarmee ons móét meet. Hierdie Skrif is wat die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 1-7) bely as die maatstaf vir ons lewe, die geskrewe Woord van God, die Bybel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top