Dr Gert Duursema het onlangs oor die werk van prof Willie Jonker gepromoveer. Hy het in 2016 die jaarlikse WD Jonker Gedenklesing aangebied en dit vanjaar op versoek by verskillende ringe in die Noord-Kaap herhaal. Hier is ’n uittreksel daarvan.
Prof Willie Jonker word meestal as sistematiese teoloog onthou. Daarin promoveer hy in 1955 met ’n proefskrif getiteld: Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie. Die kerk en sy strukture sou lewenslank sy roeping bly.
Sy eersvolgende publikasie handel ook oor die kerk. Hy was skaars vyf maande in die bediening en maar 26 jaar oud, toe hy op ’n hoofartikel van dr Tobie Hanekom, redakteur van Die Kerkbode, in ’n brief “Ons Kerk ’n Volkskerk?” reageer. Jonker het dit teen die één-kerk–één-volk-verhouding tussen die NG Kerk en die Afrikanervolk; ’n Kerk wat ten koste van eie heiligheid na uitbreiding en grootheid soek, wat – in die woorde van Abraham Kuyper – “een massakerk, die rijp en groen in zich opneemt, die de wereld doopt en die de zichtbare kerk met de wereld vereenzelvigt”.
Die “oplossing” wat die NG Kerk hiervoor bedink het, was evangelisasieaksies. Vir Jonker was dit ondenkbaar dat ’n kerk sy eie lidmate kan evangeliseer! Dit kan alleen wanneer die kerk nie meer die vergadering van gelowiges is nie, maar ’n evangelisasie-instituut geword het. Dít is die resultaat wanneer die kerk die tug verwaarloos. Ongelowiges moet volgens hom geëvangeliseer word, maar mense wat belydenis van geloof afgelê het, moet met “Bybelse tug teruggeroep word na die gemeenskap van die heiliges”.
Hy het dikwels oor die tug gepreek, geskryf, gemeentes en ringe toegespreek en in 1957 vir ses maande lesings aan teologiestudente oor die kerklike tug aangebied. Dié lesings het hy verwerk in die bekroonde boek En as jou broeder sondig ...
Só het Jonker hom al meer oor kerkreg uitgelaat en word hy allengs as kerkregtelike kundige beskou en in 1960 verkies as aktuarius van die Sinode van Suid-Transvaal.
Reeds in 1959 laat hy hom uit oor die konsepkerkorde vir die Algemene Sinode wat in 1962 tot stand sou kom. Hy beskryf dit as “’n Voorwaartse Stap op Dordtse Grondslag.” Hy skryf “… die Dordtse Kerkorde (is) nog onaangetas in sy prestige as ’n deur-en-deur Bybels-Gereformeerde kerkorde” en dat dit “… sonder enige twyfel die beste en suiwerste historiese formulering en samevatting van die Skriftuurlike beginsels (is) waarop die Gereformeerde kerkregering rus …” Alle kritiek wat hy teen die konsepkerkorde het, is gerig op dié artikels wat afwyk van die Dordtse Kerkorde (DKO).
Reeds Kerkorde artikel 3 wyk af van DKO se artikel 84 – die sogenaamde anti-hiërargiese beginsel. Artikel 3 bepaal weliswaar dat ampsdraers in die kerk nie oor mekaar mag heers nie. Maar dat “gene Kerk zal over andere Kerken … enige heerschappij voeren” word uitgelaat.
Dit gaan vir Jonker met name oor die moderamen/moderatuur met sy moderator wat na die vergadering as permanente kommissie van die sinode bly voortbestaan. Die “verantwoordelikheid” word in die hande van enkeles gelaat, wat die moontlikheid van ’n hiërargie skep. Die “moderator” verkry ’n “statuur” wat uiteindelik die hoofskap van Christus verdring. Die kerk kan eerder sogenaamde funksionaliteit en effektiwiteit inboet, solank alles in werking gestel word om die alleenheerskappy van Christus in sy kerk te verseker.
Volgens dr Koot Vorster is Jonker se besware “sonder grond” – die Dordtse Kerkorde is slegs “aangepas aan die eise van ons dag.”
Bogenoemde was net die voorspel vir wat sou volg. In 1960/61 vertrek Jonker na Europa om die geskiedenis van die ontwikkeling van die gereformeerde kerkreg na te vors. Tydens dié studiereis groei die oortuiging by hom dat hy nie langer oor die skeefgroei van die kerk mag swyg nie.
Voortaan sal hy die stryd aanknoop teen die uitwasse van presies dít waarteen hy in 1959 gewaarsku het: aan die een kant, kerkregtelike misstande as gevolg van die optrede van diegene met “meer mag in hul hande as wat enige mens in die Kerk van die Here behoort te hê”. Maar aan die ander kant, die sistematies-teologiese dwalings – afsonderlike kerke vir onderskeie bevolkingsgroepe – wat kerkregtelik gestalte in die kerkordes aangeneem het. In Die Sendingbepalinge van die Ned Gereformeerde Kerk van Transvaal spreek hy dié dwaling vanuit die kerkreg aan. Jonker het die Ned Geref Kerk deur die kerkreg na die Skrif teruggeroep.
In ’n berekende publikasiestrategie deur die redakteur dr Andries Treurnicht en prof Tobie Hanekom, word ’n skerp en negatiewe resensie op 3 Oktober 1962, vier maande ná die publikasie van Jonker se pamflet maar slegs ’n week voor die stigting van die Algemene Sinode, in Die Kerkbode gepubliseer.
Dié resensie het Jonker baie skade berokken. Sodoende is Jonker teologies en polities onder verdenking geplaas deur die etiket van liberalisme om sy nek te hang.
Jonker se pleidooi vir ’n kerkorde wat in alles uiting gee aan die beginsels van die Skrif sodat alleen Christus in die kerk regeer, is effektief in die doofpot gestop en daardeur het die kerkorde van 1962 die deur geopen om die gesag uit Christus se hande te gryp en in die hande van enkele “leiersfigure” te plaas.
– Die volledige gedenklesing is beskikbaar op die Jonker Digitale Argief by www.williejonker.co.za Dié digitale argief is op inisiatief van dr Gert Duursema begin en bevat ’n skat van werke deur en oor prof Willie Jonker.
