Die Kerkhervorming van die sestiende eeu het nie net verreikende gevolge op die teologiese en intellektuele ontwikkeling van die Westerse samelewing gehad nie, maar het ook ’n groot invloed op die ontwikkeling van die kunste gehad.
Hierdie invloed hou basies verband met die Reformasie as ’n reaksiebeweging teen die uitwasse en vergrype van die laat-Middeleeuse Katolieke Kerk. Voormalige Katolieke kerkgeboue en katedrale is gestroop van die oordadige kunswerke waarmee dit versier was, en in die proses is heelwat waardevolle kunsskatte beskadig of vernietig. Teenoor die oordaad van vroeër is die binneruimtes van kerke sober en eenvoudig ingerig met ’n fokus op die kansel as die plek waarvandaan die Woordverkondiging plaasgevind het. Waar daar wel van kunswerke gebruik gemaak is, is dit tot die minimum beperk en was die maatstaf wat aangelê is, of dit bydra tot die verkondiging van die evangelie.
Die oortuiging wat deur verskeie van die Hervormers gehuldig is dat godsdienstige uitbeeldings kan aanleiding gee tot afgodery in die vorm van beeldediens, het meegebring dat daar oor die algemeen in Protestantse gebiede ’n afname in religieuse kuns was, en veral in die uitbeelding van tonele wat verband hou met die lewe en dood van Jesus. Dit was tot ’n groter mate die geval in gebiede waar die Gereformeerdes die botoon gevoer het, as in die Lutherse en Anglikaanse invloedsfeer.

Kunswerke wat geskep is, was oor die algemeen op ’n kleiner skaal en in eenvoudiger stylvorms. Daar was ’n besondere voorliefde vir etse, houtsneedrukwerk, portretstudies en alledaagse tonele uit die lewe van gewone mense.
Een van die genres wat in hierdie tyd ontwikkel het, was die sogenaamde Vanitas-stillewes wat veral in Protestantse Nederland in die sestiende en sewentiende eeu besonderse gewildheid verwerf het. Die naam van hierdie genre is afgelei van die frase “Vanitas vanitatis” wat die Latynse weergawe is van die woorde in Prediker 1:2 wat in Afrikaans vertaal word as: “Alles kom tot niks.” Hierdie stillewes is dan ook bedoel as allegoriese uitbeeldings van die verganklikheid en sinloosheid van die mens en sy/haar aardse strewes.
As allegorie word hierdie stillewes saamgestel uit ’n reeks objekte wat deur hulle simboliese betekenis gesamentlik ’n bepaalde boodskap oordra. In hierdie stillewes het elkeen van die objekte wat uitgebeeld word, ’n eie betekenis wat verband hou met die sentrale tema van die verganklikheid en beperktheid van die aardse lewe.
’n Treffende voorbeeld van hierdie genre is die skildery van die Nederlandse kunstenaar Harmen van Steenwyck (1612-1656) wat hiernaas afgedruk word. In hierdie werk word die volgende objekte saam met die sentrale simbool van die skedel as simbole van verganklikheid aangewend: boeke as simbool van menslike kennis, musiekinstrumente (’n blokfluit, ’n hobo en ’n luit) as simbool van sintuiglike genot, eksotiese versamelaarsitems (’n Japannese swaard, kosbare sydoeke en ’n fyn afgewerkte skulp) as simbool van rykdom, ’n tydmeter as simbool van beperktheid van tyd, ’n erdekruik en ’n feitlik uitgedoofde geelkoperlamp as simbole van weerloosheid en breekbaarheid, en ’n skedel as simbool van die onafwendbaarheid van die dood. Die ongeordende plasing van al hierdie objekte bevestig die boodskap dat die aardse lewe uiteindelik betekenisloos is in die lig van die dood.

In sommige Vanitas-stillewes word daar teenoor hierdie eensydige klem op die verganklikheid en sinloosheid van die aardse lewe ook van simbole van die opstanding en die ewige lewe gebruik gemaak. ’n Voorbeeld hiervan is die skildery van Cornelis Norbertus Gijsbrechts wat ook hiernaas afgedruk is. In hierdie werk waarin daar ook verskeie simbole van aardse verganklikheid voorkom (’n bierbeker, ’n uurglas wat omgeval het, ’n viool en ’n kers wat byna uitgebrand het), is daar ook ’n paar koringare wat dien as simbool van die nagmaalbrood en as sulks verwys na die nuwe verlossingslewe in Christus wat as sinryke teenvoeter dien vir die leegheid en beperktheid van al die menslike pogings om betekenis aan die lewe te gee.
Dit is opvallend dat daar ook ’n resente tendens is om die Vanitas-genre aan te wend as proteskuns teen die oordadigheid en die oppervlakkigheid van die verbruikerskultuur van ons tyd. In die derde kunswerk (van ’n onbekende kunstenaar) wat hierby afgedruk word, vind hierdie protes uitdrukking in die uitbeeldings van eietydse simbole soos kitskos, kitskoffie, gaskoeldrank en bier wat kitsbevrediging verskaf, en sigarette wat byna uitgebrand het.
’n Mens sou hierdie tendens kon sien as ’n herbenutting van ’n motief uit die tyd van die Reformasie om opnuut te wys op die leegheid wat kenmerkend is van soveel van die dinge wat deur mense nagejaag word in ’n poging om sin aan die vervlietende lewe te gee. ’n Eietydse manier om te sê: reformata reformanda est – dit wat eenmaal hervorm is, moet altyd weer nuut hervorm word.
