Op 31 Oktober was dit presies 500 jaar dat die kerkhervormer Martin Luther se 95 stellings – waarin hy die wantoestande in die Katolieke Kerk aan die kaak gestel het – openbaar gemaak is. Luther het ook ’n sekulêre erfenis nagelaat wat die wêreldgeskiedenis ingrypend beïnvloed het, skryf LEOPOLD SCHOLTZ.
Martin Luther word veral onthou vir die teologiese rol wat hy in die Hervorming gespeel het. Maar hy kan nie verstaan word sonder ’n begrip van hoe hy en die historiese konteks waarbinne hy opgetree het, dramaties op mekaar ingewerk het nie.
Luther het na vore getree in ’n tyd wat die beste as die breukvlak tussen die Middeleeue en die moderne era beskryf kan word. Dit was ’n tyd met enorme intellektuele gisting en vinnige verandering wat groot onsekerheid veroorsaak het, byna soos vandag ook.
Die Hervorming was deel van die Renaissance, ’n proses wat die individu veel meer sentraal as tevore gestel het. Dis gekenmerk deur wetenskaplike ontdekkings wat die kerk se aanspraak op die alleenbesit van die waarheid op elke lewensterrein bevraagteken het.
Sonder die Renaissance sou die Hervorming onmoontlik gewees het.
Luther se sukses is voorts moontlik gemaak deur die ontwikkeling van die boekdrukkuns enkele dekades tevore, waardeur sy idees rasendsnel versprei kon word (dink aan die invloed van die internet op ons eie tyd). Sonder die boekdrukkuns sou Luther ’n blote opstandige monnik in ’n onbelangrike provinsiestadjie gebly het.
Afgesien van Luther se teologiese waarde, het hy die Europese geskiedenis as sodanig ook ingrypend beïnvloed.
Allereers het hy die Bybel in die volkstaal, Duits, vertaal. Onthou dat die Bybel tot in dié stadium slegs in Latyn of Grieks beskikbaar was, waardeur dit vir 99% van alle mense – selfs geletterdes – ontoeganklik was.
Dit het beteken dat die Katolieke Kerk homself by wyse van spreke tussen God en die mens kon plaas. Die Luther-vertaling het beteken dat mense nou self kon lees wat in die Bybel staan, en dit het ’n belangrike rol in die sosiale emansipasie van veral die laer middelklas teenoor die adel en die geestelikheid gespeel.
Luther se nuwe kerkstruktuur het dié “demokratisering” gereflekteer. Pleks van die byna militêr-hiërargiese Roomse struktuur (’n erfenis van die Romeinse Ryk) en sy eis vir onvoorwaardelike gehoorsaamheid, was die protestantse kerkstruktuur “plat”, of – as ’n mens ’n moderne begrip wil gebruik, demokraties.
Dis later deur die Calvinisme oorgeneem. Trouens, in die gereformeerde tradisie is die kerk se belangrikste bousteen die plaaslike gemeente, nie ringe, klassisse of sinodes nie.
Luther het bowendien ’n interessante houding teenoor gesag gehad. In 1520 het hy byvoorbeeld geskryf: “’n Christenmens is ’n vrye heer oor alle dinge en niemand se onderdaan nie. ’n Christenmens is ’n diensbare kneg van alle dinge en almal se onderdaan.”
Met ander woorde, hy het vryheid beklemtoon – maar dit was vryheid tót die regte optrede, nie vryheid ván verpligtings nie.
In haar biografie van Luther (Renegade and prophet) skryf die Australies-Britse Calvinistiese historikus prof Lyndal Roper oor die “eksplosiewe krag” hiervan: “Deur alle Christene as gelykes te behandel, het Luther afgewyk van die konvensie dat sommige groepe in die samelewing meer respek verdien as ander” (iets wat ook vir ons in Suid-Afrika vandag nog belangrik is). Dit sou ’n belangrike bousteen van die moderne demokrasie word.
Jy kan Luther se Hervorming op drie maniere benader: As ’n opstand teen die korrupsie en magsmisbruik in die Katolieke Kerk, as ’n politieke opstand teen die diktatuur van Rome en die kerkhiërargie, en ’n intellektuele revolusie om onafhanklike akademiese ondersoek, vryer van ’n dogmatiese ortodoksie, moontlik te maak.
Dié proses is deur Luther se gereformeerde opvolgers – ’n mens dink veral aan Johannes Calvyn, François Hotman, Philippe du Plessis-Mornay en Theodorus Beza – verder gevoer. Mettertyd het die idee ontwikkel dat laer stande, onderhewig aan sekere voorwaardes, die reg gehad het om staatsgesag uit te daag en selfs in opstand te kom. Dit het aanleiding gegee tot die Nederlande se verwerping van die Spaanse koning se gesag in 1581 (die begin van die Tagtigjarige Oorlog), maar ook die aktiewe verset van teoloë soos Martin Niemöller, Dietrich Bonhoeffer en Kaj Munk teen die Nazi’s (Bonhoeffer was aan die kantlyn selfs by die moordaanslag op Hitler betrokke).
Dit was ook ’n inspirasiebron vir Calvinistiese teoloë in Suid-Afrika – ’n mens dink aan Bennie Keet, Willem Landman, Dirkie Smit, Jaap Durand, Beyers Naudé en Allan Boesak – om die apartheidsbestel te verwerp.
Dit sou onhistories wees om Luther as ’n demokraat te beskryf; in sy tyd was die begrip volstrek onbekend. Wat wel gesê kan word, is dat hy ’n belangrike rol gespeel het om ’n proses aan die gang te sit wat in die 19de en 20ste eeu uitgeloop het op wat ons vandag as die regstaat – met inbegrip van godsdiensvryheid – ken.
Luther het ’n groot bydrae gelewer tot die protestantse teologie. Maar sy sekulêre erfenis is dalk selfs nóg groter.
Laat ons dit in ag neem wanneer ons Luther op Hervormingsondag herdenk.
