Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het in ’n uitvoerige brief namens die NG Kerk gereageer op voorgestelde wysigings aan wetgewing wat Suid-Afrikaanse skole beheer. Dié wysigings is al bestempel as ’n poging om skole te nasionaliseer.
Claassen skryf in sy brief daar is goeie aspekte van die voorstelle ook, maar die kerk lewer kommentaar op aspekte waaroor hy bekommerd is.
Dit sluit aspekte in soos dat die hoof van die onderwysdepartement die finale sê het oor die toelating van leerlinge tot ’n openbare skool en dat elke skool ’n toelatingbeleid en ’n taalbeleid vir goedkeuring aan die hoof van die departement moet voorlê.
Claassen wys daarop dat dit beteken dat daar elke drie jaar byna 48 000 sulke beleide voorgelê en goedgekeur sal moet word en dat die kerk nie kan sien dat die departement dit sal kan hanteer nie.
Ander voorstelle waaroor die kerk sy kommer uitspreek is die beperking van die magte van skoolbeheerliggame oor sake soos die aanstelling van onderwysers, en die sentralisering van mag oor die skool se finansies en aankope.
Claassen skryf dat die voorstelle in effek beheerliggame magteloos sal laat, en dis nie in die belang van goeie onderwys nie. Baie van die voorstelle is gemik daarop om wanfunksionerende skole te help, maar dan lê dit onbillike beperkings op skole wat wel goed funksioneer.
Die voorstelle behels volgens die brief ’n fundamentele ontkenning van die kritieke rol wat ouers in die opvoeding van hulle kinders speel. Dit ondermyn ’n fundamentele norm van die demokratiese bestel.
