Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gebed, geraas, stilte

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die oproep wat gemeentes vroeër die maand ontvang het “na ’n landwye geleentheid vir verootmoediging en voorbidding op Woensdag 8 November”, het my opnuut oor ons verstaan van gebed laat wonder. Uit antieke tekste wat byvoorbeeld opgegrawe is in daardie gebiede wat gedurende die Bybelse tye deur die Egiptenaars, Arameërs, Hetiete, Kanaäniete, Assiriërs en Babiloniërs bewoon is, is dit sonder meer duidelik dat gebed deel van alle antieke volke se geloof was. Israel en ook die Christelike geloof is hierin nie uniek nie.

Soos in Bybelse tye die geval was, verwag meeste mense vandag nog dat God (of die gode) op hulle gebede moet reageer. Gebede het dan ook dikwels te doen met versoeke aan God (of die gode) om proble­me of krisisse op te los. Mense het nog altyd gepoog om God (of die gode) deur woorde en dan veral luidkeels te beïnvloed.

Vandag nog is die uitroep van spesiale biddae waar mense genooi word om in massas byeen te kom, algemene praktyk – ook in die NG Kerk. Eweneens ondersteun talle NG lidmate en predikante ook sulke oproepe wat deur individue of ander kerke gemaak word.

Om oor gebede in die Ou Testament te probeer skryf, is reeds ’n groot opgaaf. Deur een vorm daarvan uit te lig, mag selfs onbillik wees. Nietemin, gebed as stilte spreek my nou reeds vir jare aan. Twee bekende navorsers maak in dié verband in ’n onlangse boek die volgende opmerking “Excessive noise is characteristic of the ungodly in the Hebrew Bible,” met verskeie Ou Testament tekste in ’n voetnota gelys ter ondersteu­ning van die punt.

Wat my egter meer interesseer is die vertaling van Psalm 65:2 in die meeste Bybelvertalings. In die Hebreeuse teks staan daar letterlik “Vir U, stilte is lof, o God in Sion”. Bitter min vertalings vertaal dié vers egter so. Die meeste vertalings volg die Ou Grieks van die Septuaginta en vertaal derhalwe min of meer soos volg “Aan U kom ’n lofsang toe, o God, in Sion”. Waarom swyg oor die “stilte” – veral indien mens dit lees in verband met die rumoer van die volke wat in Psalm 65:8 afgewys word?

Ek moet egter eerlik wees, gelowiges het reeds in die Ou Testament gevoel dat hulle darem nie heeltemal kan stilbly in God se teenwoordigheid nie (vergelyk Psalm 40). Daarom is gebed as stilte alleen maar een kant van die munt. Wat wel uit die Ou Testament duidelik is, is dat uitspattige geraas in die tempel vermy moes word. Aan die ander kant was absolute stilte onmoontlik en ook nie heeltemal gewens nie.

Dr Fanie Cronjé is ’n Ou-Testamentikus en predikant van die NG gemeente Jakaranda-Riviera in Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top